×
Skakel na Engels

Hoe om vinnig van puisies ontslae te raak

Laat staan die tandepasta, meisies! Deur Sam Escobar en Marci Robin
puisie

Die verskyning van’n groot, rooi puisie op jou gesig gebeur met letterlik álmal, maar dit beteken nie jy moet die stryd gewonne gee en geduldig sit en wag totdat die outjie weggaan nie.

In die eerste plek is dit belangrik om te verstaan hoe puisies werk. (Soos hulle sê, kennis is mag!) “Daar is vetkliere in ons vel wat normaalweg vog en olie verskaf, maar die kombinasie van stres en hormone kan verstopping veroorsaak,” verduidelik dr. Marina Peredo, ’n seleb-dermatoloog van New-York. “Die bakterieë veroorsaak inflammasie in die vel, wat maak dat puisies en aknee vorm.” En voila! Net daar sit jy met ’n uitslag.

Hoe nou gemaak met hierdie lastige inflammasie? Dermatoloë stel voor dat jy die volgende doen om so gou moontlik van daai onooglikheid ontslae te raak – sonder om dit erger te maak.

1. Hande tuis

Alle dermatoloë is dit eens dat jy nooit, óóit aan ’n puisie mag druk nie. Ons herhaal: Moenie jou puisie druk nie. “Die versoeking is groot, maar onthou dat wanneer jy eers aan ’n puisie gedruk het, dit langer sal neem om te genees én waarskynlik ’n merk sal laat,” waarsku een van New York se voorste kosmetiese dermatoloë, dr. Doris Day, die outeur van 100 Questions and Answers About Acne

2. Stomende verligting

Hitte is ’n wonderlik eenvoudige manier om jou vel te streel as jy ’n puisie voel aankom, sê dr. Margarita Lolis, dermatoloog van die Skin and Laser Surgery Specialists in New York en New Jersey. “Jy kan ’n warm kompres of stoom gebruik om alles na die oppervlak te bring,” verduidelik sy. En sodra jou puisie verskyn, kan jy ’n behandelingsmiddel op die puisie self aanwend. Anders kan jy ’n koue kompres gebruik om die swelling van ’n besonder groot, pynlike puisie te verminder.

3. Moenie afskeep met was nie

“Jou oliekliere is heeldag aktief,” verduidelik dr. Joshua Zeichner, hoof van Kosmetiese & Kliniese Navorsing in Dermatologie aan die Mount Sinai-hospitaal in New York; wanneer daardie olie met vuiligheid, grimering en besoedeling kombineer, voorspel dit niks goed vir jou vel nie. Dit geld dubbel soveel vir wanneer jy oefen. “Sweet gemeng met vuiligheid en olie kan onder jou klam oefenklere vasgekeer word,” en ’n uitslag vererger. “As jy nie ná ’n oefensessie kan stort nie,” se dr. Zeichner, ” stel ek voor dat jy ten minste ’n reinigende gesiglappie gebruik.”

4. Probeer ’n driedubbele puisiebehandeling

Behalwe dat jy jou grimering áltyd verwyder voordat jy gaan slaap, die regte bevogtiger vir jou veltipe gebruik en nie aan jou gesig krap of karring nie, kan jy ’n lokale puisiebehandeling gebruik om van hardnekkige puisies ontslae te raak. “Kombineer bensoïelperoksied, salisielsuur en 1% hidrokortisoon in ’n puisiebehandeling wat spesifiek vir jou geformuleer is,” se dr. Zeichner. “Bensoïelperoksied vernietig akneevormende bakterieë, salisielsuur verwyder oortollige olie en die kortisoonroom verminder inflammasie.” Sodoende kan jy jou puisie behandel deur soveel moontlik faktore te teiken.

5. In die knyp? Gaan vir ’n inspuiting

Is dit twee dae voor ’n groot geleentheid? Dan het jy waarskynlik nie tyd om te sien of jou puisie op sy eie gaan verdwyn nie. Oorweeg dit om ’n dermatoloog vir ’n oornagoplossing te gaan besoek. ” ’n Kortisooninspuiting is anti-inflammatories, dus behandel dit die puisie self,” verduidelik dr. Peredo. “As dit ’n groot, pynlike puisie is, sal die kortisoon die ontsteking na die omliggende area versprei en die swelling afbring, hopelik sonder om ’n letsel te laat. “Vanselfsprekend is dit nie ’n maklike, doen-dit-self tuisoplossing nie. So ’n inspuiting behoort deur ’n dokter, gewoonlik ’n dermatoloog, toegedien te word en word dikwels deur jou medies gedek as jy aknee het.

6. Verander jou roetine

As jy taamlik gereeld puisies kry en behoorlik siek is daarvoor,  is dit dalk ’n goeie idee om jou velsorgroetine aan te pas. “Kies ’n reiniger met glikol- of salisielsuur wat jy oor die toonbank kan koop,” se dr. Peredo. “Persone wat tot aknee geneig is, benodig ’n saamtrekmiddel om van vetterigheid ontslae te raak – ek hou van salisilies of glikolies, want dit help ook met die voorkoming van letsels.”

7. Laat staan die boererate

Alhoewel tandepasta, suurlemoensap en selfs Windex as uitstekende tuiskure vir puisies voorgehou is, wil ons afraai dat jy dit gebruik. “Tandepasta is meer gekompliseerd as voorheen en kan jou vel irriteer of uitdroog,” waarsku dr. Day. “Suurlemoensap is ook irriterend en sal nie enige uitwerking op die puisie self he nie.” En Windex – dit bly maar die beste vir vensters! Moenie huishoudelike wasmiddels op jou gesig sit nie.

8. Grimeer lig

Om ’n swaar verbloemer te gebruik om jou puisies op die oog af te laat verwyn, sal hulle ongelukkig nie fisies laat verdwyn nie. “Gebruik eerder minerale grimering as produkte met ’n oliebasis wat tot puisies kan bydra,” beveel dr. Peredo aan. ’n Onderlaag en verbloemer met ’n oliebasis kan verstoppend wees. Jy kan jouself selfs ’n groter guns bewys en vir ’n paar dae glad nie grimering dra nie – dit is dalk net die ruskans wat jou vel nodig het om vinnig op te klaar.

Uit: Good Housekeeping

Foto: iStock/Peopleimages 

LEES OOK:

Wat jou puisies vir jou probeer sê

’n Natuurlike behandeling vir uitslae

3 dinge waarmee pasiënte dermatoloë tot raserny dryf

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Jou maklike skoonmaakmiddelgids vir elke vertrek

Die lente is hier!

Close