×
Skakel na Engels

Hoe om seker te maak dat jou kinders nie permanent op hul fone is nie

Lees ons gids om te voorkom dat tegnologie jou gesinslewe negatief beïnvloed … Deur Megan Sutton
fone

Lank, lank gelede het elke huis ’n TV met vier kanale gehad en dit was die somtotaal van elektroniese afleiding. Vandag is tegnologie by elke aspek van ons lewe ingewortel. En vir sommige ouers en voogde is dit tot nadeel van gehalte-gesinstyd.

“Die ironie is dat ons soveel tyd op sosiale media deurbring om by mense uit te kom dat ons die mense reg voor ons afskeep. Dit gebeur in vriendskappe, in verhoudings en beslis met gesinne,” sê Tanya, ’n digitale-detoksspesialis in en skrywer van Off.

Maar wat kan ons doen om ons kinders aan te moedig om hul fone uit te los wanneer hulle by die huis is? Hier deel Tanya haar raad …

Stel ’n voorbeeld

“Die heel belangrikste reël is dat ouers ’n voorbeeld moet stel,” sê Tanya. “Wanneer ek by skole praat, kom sê baie kinders vir my dat dit hul ouers is wat die hele tyd op hulle fone is. Ouers behoort dus heel eerste na hulself kyk. Hoe lyk jou voorbeeld?”

Verminder jou eie skermtyd

As jy self sukkel om jou van Facebook los te skeur, of jou e-posse soos ’n verslaafde nagaan, is die nakoming van hierdie eerste reël dalk makliker gesê as gedaan. Gelukkig het Tanya ’n paar wenke … “Een ding wat ek die afgelope twee jaar gedoen het, is om alle kennisgewings op my foon af te skakel,” vertel sy.

“Hulle is ontwerp om jou aandag op te eis en verslawend te wees, dus het jy nie ’n kans as daar konstant kennisgewings deurkom nie. As jy dit nie met al jou apps kan doen nie, begin met die tydrowendstes soos sosiale media en beweeg dan na die volgendes.” Nog ’n eenvoudige opsies wat Tanya voorstel, is om jou foon in ’n laai te sit wanneer jy by die huis kom.

Ek vergelyk dit met ’n dieet – as jy probeer gesond eet, gaan jy nie met ’n sjokolade rondloop en gedurig daarna kyk nie. Maar dis presies wat ons met ons skerms doen. Ons dink: “Ek moenie kyk nie. Ek moenie kyk nie,” maar hulle is in ons hande of in ons sakke,” sê sy.

“Dis heelwat makliker om ’n foon te ignoreer wat jy nie sien nie. Hulle baie meer verslawend wanneer hulle voor jou is,” voeg sy by.

Stel grense

Noudat jy jou eie behoefte aan tegnologiese interaksie aan bande gelê het, behoort jy grense te stel om die hele gesin se skermtyd te verminder. “Daar is twee soorte grense wat ingestel moet word – reëls rondom tyd en plekke,” sê Tanya.

” ’n Reël rondom tyd kan wees: ‘Agtuur skakel ons almal ons skerms af’ of ‘Sondae gaan ons as gesin nie ons skerms gebruik nie.’ “Ek is ’n aanhanger van iets wat die digitale 5:2-dieet genoem word – wat beteken dat naweke skermvry is. As ’n hele naweek vir jou te lank is, wat van ’n Sondag of ’n Sondagmiddag?” stel sy voor.

Tanya stel ook voor dat fone nie gebruik mag word voordat die gesin soggens aangetrek is en ontbyt geëet het nie. “Dit is ’n baie goeie manier om die dag met ’n helder kop te begin, om aan tafel met mekaar te praat en jou dag te beplan,” sê Tanya.

Wat grense rondom plek betref? Dis presies wat dit sê. “Ek dink nie skerms het ’n plek aan die etenstafel nie,” sê die outeur.

“Ook nie in slaapkamers nie, en dít is regtig moeilik om in gesinne af te dwing,” voeg sy by. “Maar julle kan ’n ‘laaistasie’ buite die slaapkamers skep waar almal hul fone los.

“Om TV te kyk was eens op ’n tyd ’n gesinsaktiwiteit; almal sou gaan sit om saam na ’n program te kyk. Vandag sit almal met ’n halwe oog en TV kyk terwyl hulle met hul fone op sosiale media besig is. Hoekom skakel almal nie hul fone af wanneer julle as ’n gesin na ’n program kyk nie? Sodoende is dit iets wat julle as gesin saam ervaar,” stel Tanya voor.

“Ek dink dit is belangrik om oor hierdie grense te praat en te onderhandel,” sê Tanya. “As kinders hierdie tyd- en plekgrense help neerlê en van die begin af daartoe instem, is daar ’n kleiner kans dat hulle later daarteen gaan skop.

Moenie bang wees vir hul reaksie nie

Baie ouers vrees dat hul kinders wrewelrig op bogenoemde reëls sal reageer, maar Tanya dink nie dit is noodwendig die geval nie. “Ek dink tieners ervaar druk om op sosiale media by te bly, en ek dink daar kan ’n mate van verligting wees as hulle hul ouers kan blameer en sê: ‘Ek moes my Snapchat afsit’ of ‘Ek kon nie op hierdie WhatsApp-groep gesels nie,’ ” sê sy.

“Ek dink ouers se vrees vir die argumente en uitbarstings is dalk erger as die kind se reaksie self, want tieners voel al hoe meer oorweldig deur al hierdie dinge,” voeg sy by. En as die kinders hulle opruk? Wys hulle dan daarop dat die reëls die hele gesin geld.

“Dit is regtig belangrik om jou kind nie te laat voel dat dit spesifiek sy of haar probleem is nie, maar dat dit ’n gesinstrategie is en dat die manier is waarop julle gesin dit doen. Ek dink dit gaan dit waarskynlik veel makliker maak.”

Tref ’n kompromie

Tanya voel dit is belangrik dat ouers besef dat nie alle skermtyd noodwendig sleg is nie – die internet kan trouens ’n hulpmiddel wees wat gesinne gebruik om by mekaar uit te kom.

“Wat met die meeste van ons gebeur, is dat ons deur ’n “verstandelose glylees” ingesluk word. Dit gebeur wanneer jy op die internet gaan om iets spesifieks op te soek, en dan ’n uur later opkyk en nie mooi weet hoe dit gebeur het nie. Dit is die gevaar waarop ouers moet let en waarmee hulle hul kinders moet help,” sê Tanya.

“Maar om saam na ’n TED-praatjie te luister of iets op YouTube te kyk omdat jou kind dit vir jou wil wys – dit is ’n positiewe gebruik van skermtyd.”

Maak vrede met die skerms

“Ek dink dit is belangrik dat ouers skerms as deel van hul kinders se lewe aanvaar – dit is deel van ons almal se lewe,” sê Tanya.

“Daar is verskeie voordele wat skermtyd vir kinders inhou. ’n Studie aan die Unniversiteit van Oxford verlede jaar het getoon dat ’n maksimum van vier uur se skermgebruik per dag tieners se geestesgesondheid verbeter het – ná vier uur per dag het dit begin verswak.

“Kinders wat glad nie toegang tot skerms het nie, was slegter daaraan toe as dié wat tot vier uur skermtyd gehad het, want laasgenoemde het met hul vriende gekommunikeer; hulle het sosiaal verkeer en was deel van ’n groep. Ouers moenie van hierdie positiewe punte vergeet nie,” maan Tanya.

“Dit is wanneer skermtyd oormatig raak – as ʼn kind hom onttrek, nie uit sy kamer wil kom nie, aan sy skerm vasgenael is of dit nie kan neersit nie – dis wanneer ouers ’n streep moet trek,” sê Tanya.

“Vra jou kinders waarmee hulle besig is – wanneer hulle op YouTube is, wie hulle volg en wat hulle kyk. Daar is ’n hele wêreld daar buite vol interessante dinge wat ouers saam met hul kinders kan ontdek.”

 

Vir meer inligting oor digitale detoks besoek www.itstimetologoff.com en www.tanyagoodin.com.

Uit: Good Housekeeping UK

Foto: iStock/patat

LEES OOK:

4 maniere waarop jou slimfoon jou brein verander

5 goed om te doen voordat jy vir jou kind ’n slimfoon gee

Verslaaf aan jou selfoon?

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Wat ouers van ’n leë nes wil hê ander ouers moet weet

Wanneer jou kinders die huis verlaat, kan dit moeilik wees om aan ’n lewe sonder hulle gewoond te raak, maar...

Close