×
Skakel na Engels

Hoe om op enige ouderdom met selfvertroue aan te trek

Of jy nou 35 of 65 is. Deur Alison Lynch
Hoe om op enige ouderdom met selfvertroue aan te trek

Tensy jy jou klere met die selfvertroue van ’n Kristin Scott Thomas of ’n Susan Sarandon dra (of toegang tot hul stiliste het), het jy deur die jare waarskynlik al ’n selfvertrouekrisis of twee beleef wanneer dit by jou klerekas kom.

Veral namate jy ouer word, raak dit maklik om in die aanpaskamer aan jouself te twyfel en te begin wonder of jy steeds met ’n sekere voorkoms kan “wegkom”. Maar hoewel jy nie dieselfde klere in jou 50’s as in jou 20’s gaan dra nie, is daar ’n paar stylvoorskrifte wat nooit verander nie.

Ons het by ’n paar van ons gunsteling-stylvroue gaan hoor hoe om met selfvertroue aan te trek, of jy nou 35 of 65 is.

Moenie iets dra net omdat dit in die mode is nie

“Moenie iets dra wat in die mode is as jy weet dat jy nie daarin gemaklik gaan wees nie,” sê Dawn Cutler, wat haar blog, The Posh Rock, begin het omdat daar so min mense is wat vir vroue bo 40 oor styl skryf.  Sy vervolg: “Dit is maklik om jou deur die jongste neigings te laat verlei (en dis wonderlik om nuwe dinge te probeer), maar hou by style wat jy weet vir jou werk.”

Maak ’n stelling met bykomstighede

“ ’n Bietjie blieng is die maklikste manier om ’n alledaagse uitrusting op te kikker en ’n tikkie persoonlikheid te gee. ’n Mens hoef ook nie noodwendig oorboord te gaan nie,” sê Alyson Walsh, ’n stylblogskrywer en die outeur van Style Forever: The grown up guide to looking fabulous.

Sy sê: “ ’n Paar fyn kettinkies en silwerarmbande sal net soveel vir die sjiekfaktor soos ’n dramatiese halssnoer doen. Om dag- en aanddrag te meng – iets wat ek informele glans noem – is hoe vroue vandag aantrek: kandelaaroorbelle lyk stylvol saam met ’n denimhemp en jeans, ’n lang hangertjie en ’n eenvoudige tuniek skep ’n ongeërgde en moderne voorkoms. Juwele is ’n maklike manier om jou voorkoms karakter te gee, maak nie saak of jy 18 of 80 is nie.”

Moenie onnadenkend aantrek nie

Jou klere het ’n groot impak op jou gemoed en die manier waarop jy die dag ingaan. Jy is gedurig besig om boodskappe aan jou onderbewuste te stuur. Trek jy die oggend dus ’n kledingstuk aan wat sy fleur verloor het en dalk ’n was nodig het, is dit beslis nie ’n blye boodskap nie. Jou beste klere behoort vir elke dag te wees, nie net spesiale geleenthede nie.

Maak seker dat jy gemaklik is

Die grootste knou wat jy jou selfvertroue kan gee, is om ongemaklik in jou klere te voel. As jy byvoorbeeld weet dat jy die hele dag op jou voete gaan wees, is dit raadsaam om jou hoë hakke by die huis te los. Kies eerder iets gemaklik en stylvol – manlike skoene soos brogues en insteekskoene is ’n wenner, maak nie saak hoe oud jy is nie. En as jy voor die spieël reeds aan jou halslyn en roksoom rem, is dit beter om te verklee as om heeldag selfbewus te voel. 

Iets wat jy beslis nie wil doen nie, is om jou oor jou voorkoms te bekommer terwyl daar ander dinge is wat jou aandag verg. As gesondheidsprobleme soos ’n swak blaas jou laat angstig voel, moet jy liefs vooruit beplan en seker maak dat jy die regte produkte het om jou gemoedsrus te gee. 

Speel met kleur en tekstuur 

“ ’n Mens kan jou voorkoms goed opkikker sonder om te ver uit jou gemaksone te beweeg,” sê Alyson. Hier is die verskillende maniere waarop sy met kleur te werk gaan: 

1. “ ’n Spatsel neon – ’n dun serp, kralehalssnoer of helder naelpolitoer – lyk wonderlik teen ’n vlootblou, kakie of grys agtergrond.

2. Dra een kleur van kop tot tone. Vlootblou is altyd ’n sjiek opsie, en wynrooi lyk lieflik in die herfs.

3. Meng na hartelus. Dit is moontlik om botsende kleure soos rooi en pienk of ’n mosterdgeel en turkoois rond te speel en wonderlik te lyk.

4. As jy versigtig is om oorboord te gaan, kan jy ’n monochrome uitrusting met ’n primêre kleur kombineer vir ’n sterk visuele effek. Oranje, turkoois en smaraggroen lyk treffend saam met swart en wit.”

Vir ’n bietjie interessantheid stel Alyson ook voor dat ’n mens verskillende teksture meng, veral as jy van kop tot tone een kleur dra. “Vir gemaklike elegansie kan jy ’n vlootblou sybloesie met donker jeans kombineer, of ’n swart syhemp met ’n fluweelpalazzobroek.

“Daar kom ’n punt wanneer jy ’n kenmerkende voorkoms, iets soos ʼn ‘uniform’, ontwikkel het wat die lewe makliker maak. Wanneer jy weet watter snitte jou pas, kan jy dit in baie verskillende materiale en teksture dra.”

Revalueer jou voorkoms

Indien jy steeds na die style en kleure neig wat jy 20 jaar gelede gedra het, is dit nou tyd om jou klerekas te revalueer. Baie dinge kan in twee dekades verander, van jou liggaamsvorm tot jou haarkleur tot jou veltoon. Moet dus nie vashaak by wat jy dínk jou pas en nie pas nie; bly oopkop en wees bereid om enige iets minstens een keer uit te toets.

Trek uit as dit nie pas nie

“Maak altyd seker dat jou klere die regte grootte is. Klere wat te klein of te groot is, is nooit vleiend nie,” sê Dawn. Dit beteken dat jy dit altyd moet aanpas voordat jy dit koop en dat verstellings aangebring moet word om die lengte of snit te verbeter indien nodig.

Trek aan vir die geleentheid

Hou op wonder of jou uitrusting by jou ouderdom pas en vra eerder of dit by die geleentheid pas. Kyk altyd of daar ’n dragkode is wanneer jy na ’n geleentheid toe genooi word, en hou daarby. Niks is so erg as om te voel dat jy om al die verkeerde redes uitstaan nie.

Span jou bates op die regte manier in

“Dit is maklik om jouself te kritiseer, maar fokus eerder op jou bates. Dit kan jou bene, jou heupe of selfs jou haarstyl wees. Hoe dit ook al sy, kies jou gunsteling-eienskap en maak seker dat jy dit beklemtoon,” sê Dawn.

Dra klere waaroor jy mal is

“My beste wenk vir vroue wat met selfvertroue wil aantrek, is eenvoudig: Hou op om jou te bekommer oor wat ander mense van jou klere dink – trek aan waarvan jý hou. Jy sal uiteindelik baie gelukkiger wees, en jou geluk sal in selfvertroue oorgaan,” sê Not Dressed As Lamb se Catherine Summers, wat vyf jaar gelede op haar 39ste verjaarsdag met haar blog begin het “om vroue van alle ouderdomme aan te moedig om die hele idee van ‘ouderdomsgeskikte’ klere uit te gooi”.

Sy voeg by: “Dra jou leerbroek, meng jou dieremotiewe en trek jou pienk blinkertjietop aan – die lewe is te kort om nie te geniet wat jy dra nie!”

En moet nooit toelaat dat iets soos ’n swak blaas jou voorkoms voorskryf nie!

Uit: Good Housekeeping UK

Foto: iStock/kupicoo

LEES OOK:

7 vleiende modeneigings om in 2017 te probeer

7 maniere om die laag-op-laag-voorkoms dié winter te bemeester

8 “reëls” wat ouer vroue kan ignoreer

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
7 maniere om die laag-op-laag-voorkoms dié winter te bemeester

Nou hoef jy nie meer tussen gemak en styl te kies nie!

Close