×
Skakel na Engels

Hoe om minder as 87 liter water per dag te gebruik

Hoewel jy baie vinniger 87 liter gebruik as wat jy dalk dink, is dit beslis moontlik om daarmee klaar te kom
87 liter

Hoewel waterbeperkings in sekere dele van die land al gedeeltelik opgehef is, het die Stad Kaapstad onlangs nog strenger vlak 4B-maatreëls ingestel. Hierdie nuwe beperkingsvlak verbied die gebruik van munisipale water vir buite- en nie-noodsaaklike gebruik, en – nog belangriker – bepaal dat ons slegs 87 liter water per persoon per dag mag gebruik, ongeag of jy by die werk, huis of elders is.

Al het die meeste Kapenaars reeds hul leefstyl aangepas om hul waterverbruik te verminder, “gebruik baie huishoudings steeds meer as 20 000 liter per maand,” sê Xanthea Limberg, die burgermeesterskomiteelid van o.a. waterdienste. Dit is dus geen wonder dat hulle die leisels begin stywer trek het nie, veral met die somer wat om die draai is.

Alhoewel dit belangrik is dat ons almal kennis neem van statistieke oor damvlakke en weerpatrone, kom ons wees eerlik – al wat ons eintlik wil weet, is hoeveel water ons kan gebruik sonder dat ons buurman ons by die waterpolisie gaan aangee!

Sewe-en-tagtig liter raak vinniger op as wat ’n mens dink, maar dis beslis moontlik om met soveel water klaar te kom.

Hier is ’n paar wenke wat jou sal help om onder die vereiste 87 liter te bly:

1. Kyk uit vir enige krane of pype wat lek, binne en ook buite jou huis, en laat maak dit onmiddellik reg.

2. Spoel slegs die toilet wanneer dit regtig nodig is.

3. Probeer om nie langer as 2 minute te stort nie. Vee jouself bloot elke tweede dag af, as jy kan, om selfs meer water te spaar.

4. Vang stort-, bad- en wasbakwater op en gebruik dit om jou toilet mee te spoel of in jou tuin.

5. Laat bevrore kos in die yskas ontdooi pleks van dit onder lopende water te hou.

6. Gebruik ’n glas pleks van die kraan oop te hou terwyl jy tande borsel, skeer, ensovoorts.

7. Wag totdat jy ’n vol bondel wasgoed of vrag skottelgoed het voordat jy die wasmasjien of skottelgoedwasser gebruik.

8. Installeer ’n multispoeltoilet of sit ’n voorwerp soos ’n baksteen in die spoelbak, wat die waterverbruik vir elke spoel kan halveer.

9. Sit belugters of beperkkleppe op jou krane om die vloei tot 6 liter per minuut te beperk, soos volgens die Stad se regulasies.

10. Vir nog inligting oor hoe om water te bespaar en om waterprobleme en -oortreders aan te meld, besoek die waterbeperkingsblad op die Stad se webwerf.

Bronne: www.health24.com; www.capetowngreenmap.co.za; www.infrastructure.ne.ws 

FOTO: iStock/liulolo

LEES OOK:

6 maniere om water in die kombuis te spaar 

10 van die beste tuinplante wat min water vra 

13 maklike maniere om by die huis water te spaar 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
10 goed wat jy moet weet oor die hergebruik van gryswater

Benut jou gryswater ten beste

Close