×
Skakel na Engels

Hoe om jou Kersuitgawes te beheer

Gebruik hierdie vyf riglyne om vandag nog vir die nuwe jaar te begin spaar
Kersuitgawes

Maak hierdie vyf geldvoornemens voordat jy enige geskenke begin koop en verseker jouself só van ’n baie voorspoedige – en ryk en skuldvrye – nuwe jaar.

Hou by jou geskenklys:

Nou dadelik:

Jy het mos ’n lys, nè? Van almal vir wie jy geskenke gaan koop en hoeveel jy gaan bestee? Nie? Maak sommer nou dadelik een. En moenie voel jy móét baie spaarsamig wees as dit nie in jou aard is nie.

In ’n studie is bevind dat kopers wat beplan het om tussen R2 500 en R7 500 te bestee hul begroting met net 1% oorskry het, sê Hersh Shefrin, ’n gedragsekonoom aan die Santa Clara-universiteit in Kalifornië in die VSA. Diegene wat hulle voorgeneem het om minder as R1 000 te bestee, het egter hul begroting met 30% oorskry.

As jy op ’n totale bedrag besluit het, verdeel dit tussen jou geliefdes (en die wat jy minder lief het, maar wat steeds ’n geskenk moet kry).

LATER: Jy sal nie in Januarie kopersberou hê nie en jy sal boonop ’n splinternuwe gewoonte hê om te beplan voordat jy koop. As jy later ’n bietjie bemoediging kort, stel Joe John Duran, skrywer van The Money Code (Greenleaf Book Group), voor jy plak ’n stuk maskeerband op jou kredietkaart se magnetiese strook. Jy kan dit aftrek as jy moet, “maar die wagtydjie dwing jou om eers te dink: Het ek dit regtig nodig?”, sê hy. As die antwoord nee is, sit dit terug en beskou dit as ’n oorwinning vir jou bankrekening.

Hou tred van jou besteding:

Nou dadelik:

Jy mag maar van jou lysie afwyk. (Ons is nie monsters nie.) Een uitspattige kopie soos spoggerige geskenkpapier van R40 sal dalk nie jou bankrekening ruïneer nie, maar ’n klomp klein, duur kopies kán.

Om voortdurend op die hoogte van jou besteding te bly, maak ’n gewoonte daarvan om elke oggend te kyk wat jy die vorige dag gekoop het. “As jy kyk wat in jou e-posse en op Facebook aangaan, voeg net jou bank-app by dié lysie,” sê Kelly Long, ’n kenner van persoonlike geldsake.

Later:

Wanneer dit ’n gewoonte geword het om jou besteding te monitor sal jy meer aandagtig van jou geld wees – net soos ’n kosjoernaal jou kan motiveer om ’n slaai pleks van uieringe as ’n bygereg te bestel. “Voorheen was ek altyd verras as ek my spaargeld moes gebruik om my kredietkaartrekeninge af te betaal,” sê Long, wat ’n Excell-sigblad begin gebruik het om van haar strokies boek te hou.

“Maar nou kan ek vir jou presies sê hoeveel geld op 1 Februarie in my rekening gaan wees.” Nog ’n voordeel: Jy kan klein bederfies soos mani- of pedikure geniet omdat jy weet jy het geld daarvoor.

Gebruik winkelkaarte strategies:

Nou dadelik:

Moenie dat enige iemand vir jou vertel kontant is altyd beter as krediet nie. Kaartmaatskappye wil hê jy moet met plastiek betaal; benut dus die voordele van hul aanloklike aanbiedinge.

“Ek doen al my vakansie-aankope op kaarte en betaal dit die volgende maand af, want ek kry belonings soos kontant of vliegmyle terug,” sê Beverly Harzog, skrywer van The Debt Escape Plan (Career Press). En baie kaarte bied bonusbelonings rondom die feestyd.

Later:

Gebruik die ekstra geld of punte om jouself met ’n geskenk te bederf wat niemand anders vir jou gekoop het nie, of betaal kontantbelonings in ’n rekening vir ’n groot bederf later. Solank jy nie van jou belonings vergeet nie! “Studies toon dat verbruikers tot ’n derde van hul punte nie benut nie,” sê Harzog.

Skenk aan sake van jou keuse:

Nou dadelik:

Die feestyd is ’n tyd om vrygewig te wees, maar dink mooi oor al daardie einde-van-die- jaar-pleidooie. “Beskou jouself as ’n bemiddelaar vir verandering op lang termyn,” sê Kathy LeMay, skrywer van The Generosity Plan (Beyond Words).

Kies ’n paar organisasies sonder winsbejag en ondersteun hulle jaar ná jaar. As jy nie kan besluit nie, sê LeMay moet jy jouself vra: Watter een breek my hart? Laat jou antwoord jou lei om ’n groep te kies wat jy met liefde sal wil help. As jy jou voorkeurorganisasies het, sal jy minder skuldig voel om vir ander nee te sê.

Later:

Volgens studies maak dit nie net jou hart warm om geld aan liefdadigheid te skenk nie, dit maak jou ook gelukkiger en gesonder (wat dié tyd van die jaar nogal nuttig kan wees). Oorweeg dit om elke maand ’n bietjie te skenk.

“Organisasies sonder winsbejag sal beslis jou bydraes [buite die feestyd] waardeer wanneer skenkings afneem en hulle dalk kontantvloeiprobleme kan hê,” sê LeMay. Dis ’n manier om die vrygewigheid van die feestyd heeljaar te laat hou.

Gee jouself ’n beter rede om te spaar:

Nou dadelik:

As jy dink dit klink waansinnig om ekstra geld in Desember weg te sit, hoor net eers hier: ’n Groot, aanloklike plan met jou geld – soos ’n vakansie na Mauritius of om jou eie onderneming te begin – sal dit makliker maak om R200 of R500 by jou vakansiegeld af te trek, sê Kimberly Foss, skrywer van Wealthy by Design (Greenleaf Book Group).

“As ek wel ’n bietjie ekstra geld kry, sit ek dit in ’n leë fles. Jy moet jou besparing kan sien, want dit maak dit meer doelgerig.” As jy bang is jy gaan in die versoeking kom om dié geld te gebruik, maak die agter- grondfoto op jou rekenaar of selfoon iets wat jou aan jou doel sal herinner (soos ’n strandtoneel) en betaal ekstra geld in ’n “Leef die droom”-rekening in.

Later:

Studies toon hoe meer jy op langtermynplanne fokus, hoe groter is die kans dat jy gereeld geld in ’n spaarrekening sal wegsit. As jy en jou maat boonop dieselfde doelwit nastreef, sal jy vinniger verder kom.

“Ek moedig paartjies aan om een keer elke week, twee weke of maand oor hul geldsake te gesels en planne vir langtermyn- en korttermyndoelwitte te beraam,” sê Olivia Mellan, medeskrywer van Money Harmony (Money Harmony Books). Stel julle jul lewe oor 20 jaar van nou af voor – dít behoort julle aan te spoor om jul geldsake in orde te kry … net betyds voor volgende Kersfees.

LEES OOK:

Hoe om op ’n begroting gesond te eet

Stel ’n tydbegroting op

5 sakpas wenke teen veroudering

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
10 selfdoen-toedraai-idees vir Kersgeskenke

Gee jou geskenke ’n ekstraspesiale voorkoms met hierdie kreatiewe, bekostigbare toedraai-idees

Close