×
Skakel na Engels

Hoe om die perfekte instrument vir jou kind te kies

Kenners gee raad oor hoe om die perfekte musiekinstrument vir ’n beginner te kies.
musiekinstrument

Ons het by die plaaslike bluesgroep (en legendes) die Blues Broers gaan aanklop vir raad oor hoe om jou kind te help om ’n instrument volgens sy behoeftes te kies.

Kitaar

Basson Laubscher, die Blues Broers se kitaarspeler, sê kinders jonger as 11 kan met die kleiner kinderkitare begin wat jy in musiekwinkels kry en daarna sal ’n standaardgrootte-kitaar voldoende wees. “Ek het op 12 begin kitaar speel, maar as jou kind vroeër belangstelling toon, sou ek sê enige iets van 10 jaar af is ’n goeie ouderdom om met lesse te begin,” sê hy. Hy glo ook ’n mens kan nie ’n topgehaltekitaar waardeer as jy van die staanspoor af ’n luukse een bespeel nie. “Begin met ’n intreevlakkitaar en namate die kind se passie groei, kan die gehalte van sy instrument ook verbeter word. Stel eers vas of jou kind die nodige vaardighede en toewyding het voordat jy ’n klomp geld bestee.”

As jou kind die elektriese kitaar wil bespeel, sal hy ook ’n klankversterker en pedale vir byklanke nodig hê om dié instrument ten volle te benut. “Ek is ’n Fender-aanhanger en sal dus die Fender Champ aanbeveel, maar daar is baie ander versterkers vir beginners. Maak seker jy kry een met ’n ‘overdrive channel’ en ingeboude klankeffekte sodat jy nie nog geld aan byklankpedale hoef te bestee nie.” En maak ook seker die versterker is nie te swaar nie, want dan kan jou kind dit maklik self dra. ’n Roland Cube is ’n bekostigbare opsie vir beginners.

Basson sê byklankpedale wat gebruikersvriendelik is en maklik aanmekaargesit kan word, is die beste vir groentjies. Kry ’n pedaal met verskeie byklanke waarmee jou kind kan rondspeel en eksperimenteer om uit te vind waarvan hy hou.

Baie versterkers kom met oorfone en die klank kan op die versterker self verstel word. Dit sal help om die bure (en die res van die gesin) gelukkig te hou!

Klawerbord

Simon Orange is die klawerbordspeler van die Blues Broers. Hy sê kinders kan van ’n baie jong ouderdom af begin klavier speel. (Hy was sewe toe hy begin het.) Hy meen ’n kind kan met ’n digitale klavier begin – wat goedkoper as tradisionele klaviere is – mits dit ’n goeie hameraksie het. “Maak seker die instrument se meganika en klank is goed, anders sal dit ’n talentvolle beginner frustreer.” Hy sê ook dat ’n goeie onderwyser ’n groot uitwerking op jou kind se musiekbelangstelling kan hê. Doen dus jou huiswerk!

KENNERSWENK: Om die klank onder beheer te hou kan jy oorfone vir ’n digitale klavier koop of ’n stuk vilt tussen die hamers en die snare plaas.

Dromme

Jorik Pienaar is die Blues Broers se dromspeler. “ ’n Speelgoed-dromstel is ’n goeie begin om belangstelling te kweek en namate jou kind ouer raak, kan ’n jazz-dromstel met kleiner mates goed werk vir iemand met talent en ’n passie vir dromme.”

“As jy koördinasie en talent het, kan jy maklik dromme leer speel. Maar as jou kind regtig baie belangstelling toon, sal hy gretig wees om meer te leer en dit sal tot passie en kreatiwiteit lei.”

Om in die bure se goeie boekies te bly koop dromkussings om die klank te absorbeer of belê in ’n elektriese dromstel wat oorfone het.

KENNERSWENK: Simbale is baie duur. Koop dit dus eers tweedehands.

Jorik het dié video met ons gedeel en sê ’n kind kan met ’n tuisgemaakte dromstel begin en só baie meer waardering vir hierdie instrument kweek. “Jy het nie regte dromme nodig om te leer hoe om te speel nie – al wat jy nodig het, is twee stokkies en ’n kussing!”

Mondfluitjie

Die mondfluitjie- en baskitaarspeler Rob Nagel deel sy wysheid oor hoe om ’n mondfluitjie vir beginners te koop. “Kinders kan begin sodra hulle dit as ’n musiekinstrument herken. Wanneer hulle verby die aanvanklike twee minute se ‘geraasmakery’ vorder en sowaar liedjies probeer speel, dán moet jy begin aandag gee.”

Rob sê ’n goedkoop speelgoedmondfluitjie is heeltemal voldoende as jy eers wil vasstel of jou kind ernstig in dié instrument belangstel.

“Hoe beter (en dus duurder) ’n instrument is, hoe makliker en lekkerder is dit om te bespeel. Die voordeel van ’n mondfluitjie is dat wanneer jy jou kind se instrument wil opgradeer, kan jy die beste instrument in die wêreld vir ’n paar honderd rand koop. Jou kind se talent en geesdrif sal vinnig bepaal wanneer dit tyd is om op te gradeer.”

Het jy geweet dat mondfluitjies ook klankversterkers nodig het? Maar gelukkig is dit eers nodig wanneer jou kind hom by ’n musiekgroep aansluit. Rob sê dis beter om die mondfluitjie sonder ’n versterker te leer speel. “Wanneer dit tyd vir ’n versterker is, sal ’n klein vyf-watt-klep-versterker met ’n ‘vintage’-mikrofoon voldoende wees.”

Hooffoto: iStock/PeopleImages

Lees ook:

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Waar om te begin as jou kind ’n alternatiewe instrument wil bespeel

Wanneer jy in ’n musiekwinkel inloop, is dit duidelik dat instrumente soos klawerborde en kitare baie gewild is, maar wat...

Close