×
Skakel na Engels

Hoe goed ken jy die liggies op jou motor se paneelbord?

Wat wil jou paneelbord vir jou sê? Deur Caira-Lee Durand
paneelbord

Paneelbordliggies is daar om ons te waarsku wanneer iets in ons motor aandag nodig het. Maar hoeveel van ons weet regtig wat elke liggie beteken? Battery Centre het die 10 algemeenste en belangrikste liggies en hul betekenisse gelys. Dis die moeite werd om jouself daarmee vertroud te maak vir ingeval een van hulle op ’n dag in jóú motor begin flikker …

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Die hoeveelheid waarskuwingsliggies op ’n paneelbord is soms ’n irritasie en dikwels ’n raaisel. Maar dit is belangrik om te weet wat hierdie liggies verteenwoordig sodat jy ’n potensiële probleem vinnig kan identifiseer en uitsorteer. Hier is ’n eenvoudige gids tot die waarskuwingsliggies op jou paneelbord en hul betekenisse, met die komplimente van die kundiges by Battery Centre:

Enjinwaarskuwing

Hierdie liggie dui op ’n probleem met jou enjin. Dit verskyn dikwels wanneer jou motor krag verloor of begin stotter wanneer jy versnel. Dit kan iets klein wees – soos die vervanging van ’n sensorkabel – maar dit kan ook ’n groter en duurder probleem wees. Moenie hierdie liggie ignoreer nie, want dit kan tot onherstelbare skade lei. Laat ’n professionele persoon so gou moontlik daarna kyk.

Batterylaaiwaarskuwing

Dit is normaal om hierdie liggie te sien wanneer jy jou motor aanskakel, maar as dit nie ná ’n paar sekondes verdwyn nie, dui dit op ’n moontlike probleem met jou battery of alternator, of op beskadigde kabels wat aan die enjin gekoppel is. Maak seker dat jy jou alternatorband, poolklemme en die algehele toestand van die battery deur ’n kenner laat nagaan.

Oliewaarskuwing

Wanneer die olietemperatuur te hoog is of as olievlakke en -druk te laag daal, gaan hierdie liggie op jou paneelbord verskyn. Olie is ’n smeermiddel wat sorg dat die enjin ten volle kan funksioneer. Wanneer hierdie funksionering aangetas of daarmee heen is, kan dit op duur enjinskade dui. Vul die olie so gou moontlik aan wanneer jy hierdie liggie sien.

Rem- en ABS-waarskuwing

Die remliggie kan beteken dat die handrem op is, dat jou remvloeistof min is of dat daar ’n probleem met die remstelsel is. Wanneer dit saam met die sluitweerremstelsel (ABS) se liggie aangaan, dui dit op ’n ABS-fout. Dit is beter om dadelik stadiger te ry, nie te hard rem te trap nie en om dit onmiddellik deur ’n gesertifiseerde motorwektuigkundige te laat nagaan.

Koelmiddelwaarskuwing

Koelmiddelvlakke is ’n aanduiding van die voertuigtemperatuur en kan beteken dat die enjin oorverhit – ’n teken van ’n hoofpakstuk (head gasket) wat die gees gegee het (groot probleem) of ’n kleiner probleem, soos ’n lek iewers in die stelsel. Gaan die koelmiddelvlak in die houer onder die enjinkap na en vul dit aan indien nodig. Die verkoelerdop en waaier behoort ook nagegaan te word wanneer jy hierdie liggie sien.

Lugsakfout-waarskuwing

Wanneer hierdie liggie verskyn, is dit ’n aanduiding dat daar fout is met jou motor se lugsak  en dís iets waarmee jy nie wil rondspeel nie. Laat dit eerder onmiddellik regmaak.

Kragstuurwaarskuwing

Wanneer hierdie liggie aangaan, beteken dit dat daar iets met die kragstuurstelsel skort. Wanneer die stelsel weier, word die stuurwiel baie swaar en stram, wat dit moeilik maak om van rigting te verander. Teen ’n lae snelheid is dit bloot frustrerend, maar as jy op die snelweg is of moet uitswaai om ’n botsing te vermy, is dit baie gevaarlik.

Sekuriteitswaarskuwing

As jy hierdie liggie sien nadat jy jou voertuig aangeskakel het, dui dit gewoonlik op ’n fout in die sekuriteitstelsel. Dit kan ’n risiko inhou as daar by jou motor ingebreek word en moet so gou moontlik herstel word.

Spoedreëlaar

Wanneer hierdie liggie aangaan, beteken dit dat die spoedreëlaar op ’n spesifieke snelheid gestel is wanneer jy bestuur. Wanneer jy rem of jou motor afskakel, sal die liggie afgaan en die reëlaar gedeaktiveer word sodat jy die motor se snelheid self kan beheer.

Traksiebeheer of ESP

Hierdie liggie sal gewoonlik aankom wanneer die pad glad is, en dui daarop dat die elektroniese stabiliteitstelsel geaktiveer is. Dit is beter om stadiger en versigtiger te ry wanneer hierdie liggie verskyn.

Vrywaring: Die kleur van waarskuwingsligte kan van motor tot motor verskil.

Uit: WOW

FOTO: iStock/RMAX

LEES OOK:

9 gereelde instandhoudingsinspeksies wat elke motor nodig het

Só moet jy by ’n polisiepadblokkade optree

7 beproefde maniere om veilig in die donker te bestuur

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Leer hoe om ’n wiel te ruil met hierdie vinnige en maklike stappe:

Dit is belangrik om te weet hoe om ’n wiel te ruil indien een die gees gee terwyl jy alleen...

Close