×
Skakel na Engels

Hierdie groot skoonmaakfout kan jou mat ruïneer

En ons almal het dit waarskynlik al gedoen …
skoonmaakfout

Wat is die eerste ding wat jy doen wanneer jy op ’n lastige vlek op jou mat afkom? Gaan haal jy dadelik jou betroubare matreiniger of probeer jy dit naarstigtelik met ’n nat lap uitvryf? Indien jy laasgenoemde doen, het ons nuus vir jou – moenie!

Volgens die kenners van die Goeie Huishouding-instituut in Brittanje is dit nie ’n goeie idee om die vlek met water te probeer uitspoel nie. Alhoewel dit ’n maklike opsie is, kan jy in werklikheid meer skade verrig deur die vlek nat te maak.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

“Dit is maklik om paniekerig te raak en die gedeelte met koue (of erger nog, warm) water te begin was – moenie,” sê die GHI. “Om die vlek nat te maak, kan die matvesels beskadig en oortollige vloeistof kan tot op die ondermat en vloer lek en daar vasgekeer word.” Maar hoe dan gemaak as jy met ’n rooiwynvlek in die middel van jou mat sit?

“Wees geduldig en klad versigtig om die vlek te lig,” adviseer die GHI. “Sproei ’n bietjie vonkel- of sodawater op die vlek en klad weer met skoon handdoekpapier of ’n lappie voordat jy ’n gespesialiseerde reiniger op die vlek aanwend.”
 
Verity Mann, die toetshoof van die instituut, sê dit is ook ’n goeie idee om ’n vlekverwyderaar eers op ’n onopsigtelike gedeelte van die mat, soos onder ’n meubelstuk, te toets om kleurvastheid te bepaal. En as jy met ’n hardnekkige vlek soos stuifmeel te kampe het, beveel Verity aan dat jy kleeflint gebruik om dit van die matoppervlak te lig terwyl ’n ontsmettingsmiddel of selfs asyn vir jou troeteldier se ongelukkies kan help.
 
Sorg dus dat daar ’n rol handdoekpapier en sodawater byderhand is vir wanneer jy weer daardie glas rooiwyn omstamp.

Uit: Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/AndreyPopov

LEES OOK:

Hoe om grimeervlekke van klere te verwyder

Raak ontslae van onderarmvlekke

Dít is hoe jy wasige glase skoonmaak en vlekke keer

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief