×
Skakel na Engels

Hierdie eenvoudige tekentoets kan parkinsons identifiseer

Nuwe sagteware kan ’n vroeë diagnose baie makliker maak. Deur Jenny Cook
parkinsons

 

Navorsers het ’n praktiese toets geïdentifiseer wat gebruik kan word om die vroeë stadiums van parkinsons te diagnoseer en die weg vir huisdokters te baan om pasiënte in die toekoms makliker vir dié toestand te toets.

Nadat wetenskaplikes in Australië sagteware ontwikkel het wat skryfspoed en pendruk meet deur pasiënte ’n spiraal te laat teken, is dit nou moontlik om met 93% akkuraatheid te voorspel of iemand ’n hoë risiko het om hierdie siekte te ontwikkel, wat bewing, spierstyfheid en in latere stadiums ook breinskade kan veroorsaak.

Die studie

Die klein toetsgroep het uit 55 mense bestaan – 27 met parkinsons en 28 gesonde kandidate. Almal is gevra om ’n spiraal te teken deur van die sagteware gebruik te maak wat op ’n tabletrekenaar geïnstalleer is.

Die stelsel word gebruik om skryfspoed sowel as pendruk te meet aangesien dit gewoonlik die twee vaardighede is waarmee lyers moeite ondervind namate die toestand ontwikkel. Poonam Zham, die studienavorser aan die RMIT University in Melbourne, Australië, het gesê: “Ons doelwit was om ’n bekostigbare en geoutomatiseerde elektroniese stelsel vir die vroeë diagnose van parkinsons te ontwikkel wat maklik deur ’n gemeenskapsdokter of verpleegster gebruik kan word. Die stelsel kan outomaties ’n akkurate diagnose van parkinsons verskaf en kan ook gebruik word om die behandeling se effek op die siekte te monitor.”

Die spiraal word deur kundiges as ’n betroubare toets beskou aangesien, anders as met skryf, die gehalte minder geneig is om deur ’n individu se opvoeding beïnvloed te word.

Vordering in diagnostiek

In ’n onderhoud met The BBC het David Dexter – adjunknavorsingshoof van Parkinson’s UK– die nuwe toets hoog aangeprys en gesê dat dit ’n vlak van akkuraatheid bereik het wat vorige diagnostiese metodes nie gehad het nie.

“[Onakkurate toetsing] het ’n invloed op ons vermoë om die regte mense vir kliniese navorsing te kies, iets wat noodsaaklik vir die ontwikkeling van nuwe en beter behandelings vir parkinsons is. Hierdie nuwe toets kan akkurater assessering verskaf deur ’n groter verskeidenheid kenmerke te toets wat deur die toestand geaffekteer word, soos koördinasie, druk, snelheid en kognitiewe funksie.”

Hoewel hoogs opgeleide kundiges tans gebruik word om die sketse te interpreteer, is die hoop dat die nuwe tabletprogram die diagnosering van die siekte vinnig en maklik vir algemene praktisyns sal maak. Die studieleier, professor Dinesh Kuman, van die RMIT University in Melbourne, het gesê: “Dit is van kritieke belang om vroeër met behandeling te kan begin,  want ons weet dat wanneer iemand bewerasie of styfheid begin ervaar, dit reeds te laat kan wees.”

Verdere ontwikkeling

Die span sal hul studie nou op ’n aansienlik groter toetsgroep moet uitvoer voordat dit vir gebruik deur algemene praktisyns oorweeg kan word.

Die studie is in Frontiers of Neurology gepubliseer.

Uit: netdoctor.co.uk

Foto: iStock/apichon_tee

LEES OOK:

Rustelose-bene-sindroom: Wat dit is en hoe om dit te behandel

Wetenskaplik bewys: Wyn is goed vir jou brein

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
7 stappe vir ’n gesonde hart en brein, volgens ’n studie-ontleding

Hierdie eenvoudige leefstylveranderinge kan jou risiko vir die ontwikkeling van lewensgevaarlike toestande verminder. Deur Jenny Cook

Close