×
Skakel na Engels

Het jou kind ’n swak selfbeeld?

Dr. Michele Borba, ’n deskundige op die gebied van ouerskap, beveel 5 maniere aan hoe jy jou kind se selfbeeld ’n hupstoot kan gee

In haar boek The Big Book of Parenting Solutions (Jossey-Bass), bied dr. Michelle Borba, ’n deskundige op die gebied van ouerskap, ’n oorsig van haar minuut-per-dag-plan vir 21 dae wat jou kind se selfvertroue kan verbeter.

1. Identifiseer eerstens jou kind se innerlike krag, positiewe eienskappe en bates.

Trek oor die volgende paar dae ’n lys daarvan op. (Byvoorbeeld: kunstig, musikaal, eerlik, betroubaar, bekoorlik, georganiseerd, positief, sensitief, moedig, spiritueel, liefdevol, veerkragtig, hardwerkend.)

2. Kies vervolgens een of twee positiewe eienskappe wat jy wil uitlig.

Maak seker jou kind beskik reeds oor daardie eienskappe en dat jy nie net wéns sy het dit gehad nie. Skryf die woorde neer wat jy sal gebruik om haar innerlike krag uit te lig. Gebruik elke keer dieselfde term wanneer jy die eienskap aanprys.

3. Soek geleenthede om die innerlike krag te besing.

Aan die begin kan jy een so ’n positiewe eienskap per dag uitlig en geleidelik jou pad na twee tot vier sulke ‘hoogtepunte’ opwerk. ‘Om jou kind met té veel komplimente op ’n dag toe te gooi is dalk nie wys nie,’ sê Borba. ‘Dan dra dit minder gewig en dit raak té voorspelbaar. Gewoonlik neem dit minstens drie weke vir ’n nuwe beeld om inslag te vind, hou dus aan om vir minstens 21 dae jou kind se goeie karaktertrekke te prys.’

4. ‘Komplimenteer jou kind nét wanneer haar optrede erkenning verdien en jy dit bedoel.’

Só sê Borba. ‘Kinders kom baie gou agter wanneer jy iets nie régtig bedoel nie.’

5. Wys laastens op voorbeelde van jou kind se innerlike krag.

‘Sy kan dit dalk nie op haar eie raaksien nie,’ sê Borba. ‘Sê ook spesifiek waarvoor jy haar prys sodat sy presies weet wat sy gedoen het om dit te verdien. Deur die woordjie “omdat” by jou lofuiting te voeg, sal jou kind presies weet hoekom sy gekomplimenteer word en sy sal dit graag weer wil doen.’ Sê byvoorbeeld: ‘Jy dans so grasieus omdat jou hande en lyf so sierlik saam met die musiek beweeg’ of ‘Jy is baie kunstig omdat jou sketse altyd soveel detail en kleurkombinasies bevat.’

Lees meer oor kinders met gewigsprobleme in ons artikel ‘Ma, ek is vet’ op bl. 73 van ons April 2013 uitgawe. 

Lees ook:

Hoe om ’n uitstekende enkelouer te wees

Help jou kind om die verlies van ’n vriendskap te verwerk 

Hoe om jou kinders te troos as die lewe hulle onderkry

Die 5 beste dinge wat jy vir jou kinders kan leer

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Draai die horlosie terug

Om jou liggaam te verstaan, kan jou help om langer gesond te bly. Só kan jy jou lyf teen die...

Close