×
Skakel na Engels

Help jou kind om hierdie eksamentyd sukses te behaal

Hoe jou kinders se leefstylkeuses hul eksamenprestasie kan beïnvloed
eksamentyd

Ons almal weet dat eksamentyd vir ouers sowel as leerders ’n spanningsvolle tyd is, maar daar is maniere om dit makliker te maak. Cheryl Meyer, ’n dieetkundige by Kellogg’s Breakfasts for Better Days, deel haar wenke vir eenvoudige leefstylveranderinge wat jou kind die nodige oemf sal gee om optimaal te presteer.

Die beste manier om slimmer te dink is om slimmer te eet, sê Meyer. Deur voor ’n vraestel tyd vir gesonde kosse in te ruim, kan jy jou kind die bykomende hupstoot gee wat hy of sy vir suksesvolle uitslae nodig het. Deur te sorg dat kinders ’n gesonde ontbyt eet, gehidreer bly en genoeg slaap inkry, kan jy die konsentrasievlakke en paraatheid verhoog wat hulle vir behoorlike fokus nodig het.

“Ontbyt word met ’n verskerpte geheue geassosieer en help kinders onthou wat hulle in die klaskamer geleer het.”

Hier is Meyer se topwenke:

Maak seker dat jou kind tyd maak vir ontbyt

Wanneer jou kind ontbyt oorslaan, is sy nie net lusteloos en prikkelbaar nie, maar verbeur sy ook die noodsaaklike vitamiene wat sy nou broodnodig het. Hierdie onontbeerlike vitamiene sluit B-vitamiene in, die “antistres”-vitamiene wat jou kind ontspanne hou en haar help om helder te dink. Die voedingswaarde van ’n gesonde ontbyt sal haar konsentrasie verbeter, wat ook tot beter begrip van eksamenvrae en algehele uitslae sal lei.

Maak slim voedselkeuses

’n Vinnige koeldrank en sjokoladestafie is nié ontbyt nie. Nadat jy seker gemaak het dat jou kind wel tyd het om te eet, moet jy ook na die aard van sy keuses kyk. ’n Ontbyt wat veselryke koolhidrate en proteïene soos graankos en melk bevat, sal waarborg dat hy volgehoue energie vir sy dag het.

Bly gehidreer

Hoewel jou kind waarskynlik nét gaskoeldrank sou wou drink, kan suikerdrankies haar bloedsuikervlakke halfpad deur ʼn vraestel of hersiening skerp laat val. Probeer sorg dat sy haar nie aan koeldrank vergryp nie en wees versigtig vir kafeïen aangesien dit haar senuweeagtigheid kan verhoog. Water bly die beste keuse vir hidrasie; maak dus seker dat sy ’n waterbottel inpak.

Peusel so dikwels moontlik

Vrugte en groente is van die beste kosse vir jou kind se brein. Ideaal gesproke moet hy elke dag vars produkte in ’n verskeidenheid kleure inneem om hom van die verskillende voedingstowwe te voorsien wat hy vir goeie gesondheid nodig het. Om gesond te peusel sal verseker dat hy die natuurlike suikers en vesel inkry wat hy vir volgehoue energie nodig het – in teenstelling met soetgoed wat sy suikervlakke omvergooi.

Slaap goed

Hoewel kinders vinnig in die gewoonte kom om tot laatnag te leer, is genoeg slaap ’n noodsaaklikheid gedurende hierdie spanningsvolle tyd. Op die vooraand van ’n vraestel behoort hulle vroegaand hul boeke toe te maak en hul klere en tas vir die volgende oggend reg te sit. Vir optimale funksionering op die dag van die eksamen is dit nie net belangrik dat hulle gesond eet en drink nie, maar ook dat hulle hul spanning beperk deur alles die vorige aand gereed te kry.

’n Gebalanseerde ontbyt met die regte voedingstowwe, asook heelwat water en ’n goeie nagrus, sal jou kind fisiek en geestelik van die nodige brandstof voorsien en haar die nodige energie en konsentrasie gee om gedurende die naderende eksamentyd haar bes te doen.

Foto: iStock/rez-art

LEES OOK:

Sal jy die toelatingseksamen vir die Oxford-universiteit deurkom?

5 prettige maniere om jou voorskoolse kind se ontwikkeling te stimuleer

7 dinge wat jou tiener wil hê jy nié op sosiale media moet doen nie

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
10 maniere om aanvullings met natuurlike voedingstowwe te vervang

Jou vermoë om sommige vitamiene en minerale op te neem word met die ouderdom minder, maar aanvullings is nie jou...

Close