×
Skakel na Engels

Gids tot bestuursveiligheid gedurende sonop en sononder

Dit is belangrik om te onthou dat jy die pad gedurende hierdie tye met ander padgebruikers deel … Deur Juliet McGuire
bestuursveiligheid

’n Faktor wat dikwels oor die hoof gesien word, is hoe gevaarlik dit is om gedurende sonop of sononder te bestuur. Hierdie toestande kan aansienlike invloed op jou bestuursvermoë hê aangesien jou sig tydens sonop of sononder heeltemal belemmer kan word!

Dit is nie net die donker wat ’n sigbaarheidsrisiko inhou nie; om gedurende sonop of sononder te bestuur kan moontlik ’n groter gevaar as die donker inhou. Wanneer die son reg van voor skyn en jy nie kan wegkyk nie, kan dit ’n verblindende effek hê. Hier is nog ’n paar maniere waarop sonop- en sondonderbestuur jou bestuursvermoë kan beïnvloed:

– Jou oë moet by die veranderende lig gedurende hierdie tyd aanpas en dit raak moeiliker om moontlike gevare maklik te identifiseer.

– Die pad is donkerder met diep skaduwees wat maak daar minder kontrasterende kleure is – al is dit nog lig buitekant.

– Jou stopafstand is minder weens ’n gebrek aan sigbaarheid in hierdie omstandighede.

– Wanneer jy teen sononder bestuur, is jou hoofligte nie 100% effektief nie, want dit is nog nie heeltemal donker nie.

– Gedurende hierdie tye is bestuurders dikwels op hulle heel moegste aangesien hulle óf pas opgestaan het óf ’n lang dag agter die rug het.

– Uitputting het ’n baie groot impak op jou bestuursvermoë aangesien jou reaksietyd baie stadiger in hierdie toestande is. (Dit is veral gevaarlik vir bejaarde bestuurders wat natuurlike, ouderdomsverwante veranderinge in sig ervaar.)

Dit is nie net bestuurders wat ’n risiko loop nie; dis belangrik om te onthou dat jy die pad gedurende hierdie tye met baie ander padgebruikers deel, onder andere:

– Voetgangers wat op pad werk of skool toe is, veral kinders;

– Daar is baie hardlopers of drawwers op die pad, voor en na werk;

– Fietsryers gaan oefen ook dikwels wanneer dit nie so warm is nie; (Hulle is veral kwesbaar wanneer hulle in die rigting van die opkomende of ondergaande son ry en deur vinniger voertuie en bestuurders met verminderde sig verbygesteek word.)

– Vir bestuurders wat in landelike gebiede bestuur: vee en wilde die wat die pad oorsteek.

Lees ook: 7 beproefde maniere om veilig in die donker te bestuur

Ons kyk na ’n paar maniere waarop jy beter in hierdie omstandighede kan bestuur om enige kanse op ongelukke weens swak sig te minimaliseer:

Wees voorbereid!

– Ingeligte bestuurders wat op potensiële gevare bedag is, sal die nodige aanpassings kan maak wanneer hulle in dié omstandighede bestuur.

– Dink vooruit en besluit watter roete jy gaan ry sodat jy nie enige onverwagse besluite hoef te neem nie.

– Indien moontlik, vermy dit om in hierdie omstandighede te bestuur.

– Sorg dat jy paraat is deur nie te bestuur wanneer jy moeg is nie, jou stilhouplekke te beplan en enige afleidings te vermy.

– Wees bedagsaam teenoor ander bestuurders en ry met gedompte hoofligte indien daar aankomende verkeer is of wanneer jy agter ʼn ander voertuig ry.

– Hou ’n goeie sonbril byderhand. Dit is die moeite werd om in gepolariseerde lense te belê wat die skerp lig nog beter kan afweer.

– Gebruik jou motor se sonskerm: jy kan dit posisioneer om die son uit te blok.

– Gee jou oë kans om aan te pas: Alhoewel ons oë natuurlik by die donker aanpas, verskil dit van persoon tot persoon. Dit kan tot 30 minute neem voordat jou oë aan die donker gewoond is, dus is dit raadsaam om gedurende hierdie tye stadiger te bestuur.

– Maak seker dat jy gereeld vir ’n oogtoets gaan. Met ouderdom verander jou sig, sowel as jou vermoë om in sekere omstandighede te sien. ’n Vyftigjare bestuurder benodig moontlik dubbel soveel lig as ’n dertigjarige om gemaklik te kan sien.

Lees ook: 10 noodsaaklike vrae voordat jy ʼn tweedehandse motor koop

Motorveiligheid en -padwaardigheid

– Maak seker dat jou voertuig behoorlik getoets is en in ’n uitstekende werkende toestand is.

– Maak seker dat jou hoofligte, agterligte, remligte en flikkerligte werk en duidelik deur ander padgebruikers gesien kan word.

– Was die binne- en buitekante van jou ligte om helderheid te verseker.

– Maak seker dat jou spieëltjies reg gestel is.

– Maak seker dat jou voorruit en vensters aan die binne- en buitekant skoon is.

– Gaan jou voorruit en vensters na vir enige krake of tekens dat dit vervang moet word.

– Wanneer jou motor vir sy volgende diens gaan, kan jy vra dat hulle die rigting en belyning van jou hoofligte nagaan om sigbaarheid te verbeter.

Lees ook: 9 gereelde instandhoudingsinspeksies wat elke motor nodig het

Bestuur verantwoordelik!

Die heel belangrikste manier om die gevare van sonop- en sononderbestuur te verminder, is om jou bestuurstyl aan te pas. Ons beveel aan dat jy die volgende doen:

– Ry altyd stadiger in toestande van swak sigbaarheid.

– Wanneer jy stadiger ry, het jy meer tyd om te reageer in geval van ʼn noodgeval.

– Handhaaf ’n veilige volgafstand; wanneer die son in jou oë is, is dit baie moeiliker om te sien wat die motor voor jou doen.

– Wees ekstra versigtig wanneer jy in areas van voetgangeraktiwiteit bestuur.

– Kyk dikwels in jou truspieëltjie vir enige voertuie wat van agter af vinnig op jou afkom.

– Wees bewus en bedag op jou omgewing. Weet vooraf wanneer jy gaan draai en teen die son gaan ry.

– As jy deur die son of aankomende verkeer verblind word, kan jy na die linkerkant van die pad kyk. Hou die gee streep in die oog en bestuur daarvolgens totdat jy weer kan sien.

– As jy nie kan sien nie, behoort jy nie te bestuur nie. Jy kan altyd vir ’n paar minute aftrek totdat die son geskuif het sodat dit nie direk van voor skyn nie.

Baie van hierdie wenke is nie tot sonop en sononder beperk nie; deel dit met jou vriende en familie om ons paaie veiliger te maak.

Van: WOW

FOTO: iStock/Vladimir Vladimirov

LEES OOK:

Wat om te doen wanneer jy padwoede het

Só moet jy by ’n polisiepadblokkade optree

7 wenke om jou kinders te help om hul bestuurstoets te slaag

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Kies só die beste gesinsmotor

Die langpad hoef nie langer uitputtend te wees nie! Deur Juliet McGuire

Close