×
Skakel na Engels

Getoetste Produkte: Stofsuiers

Om vloere en matte skoon te hou is ’n voltydse werk, maar om allergiese reaksies weens stof en vuilheid in jou huis te voorkom moet dit gedoen word.
Stofsuiers

Kry die regte toerusting met die nodige eienskappe en jou gesin sal die komende seisoensveranderinge sorgvry kan geniet.

Kragtig én Veelsydig

Getoetste Produkte

Kärcher WD 4, R1 999

WD staan vir “wet and dry”, wat beteken dat dié Kärcher veel meer kan doen as net vuil matte suig. Die intreevlakmodelle is nie so sterk nie, maar hierdie geharde industriële ontwerp sal die ergste garage- en tuingemors opslurp, selfs modderkolle op jou stoep en los gruis in die oprit. Alles word opgevang in ’n 20 -emmer wat maklik is om skoon te maak voordat jy weer aan die werk spring.

KENMERKE: Sakloos, met wiele, gehard, 1 000 W

’n Regte Raakvatter

Getoetste Produkte

Panasonic MC-CL163DF4X, R1 499

Al is jou begroting nie te waffers nie, kan jy steeds die jongste stofsuigtegnologie bekom. Hierdie saklose ontwerp het ’n 2 000 W-motor en kom met ’n hoogs doeltreffende stofdeeltjielugfilter (HEPA). Dié outjie doen die werk en lyk mooi terwyl hy dit doen! Die metaalverlengingspype en groter wiele maak dit makliker om te hanteer en oor lysies en voorwerpe (soos rondlê-speelgoed!) te beweeg.

KENMERKE: Sakloos, HEPA-filter, met wiele, 2 000 W

Topklas

Getoetste Produkte

Miele Complete C3 Comfort PowerLine, R4 499

Miele-stofsuiers word gebou om minstens 20 jaar te hou. Dis maklik om te glo as jy eers met een gewerk het. Die gehalte en betroubaarheid van dié model kan nie geklop word nie. Dit werk steeds met ’n sak, maar dis die stilste model onder dié wat ons getoets het. Die HEPA-filters werk soos ’n bom en die spesiale rolwieletjies maak dit die maklikste model om rond te trek en te hanteer. Jy kan met dié intreemodel begin en die filters en borsels opgradeer.

KENMERKE: Sak, HEPA-filter, met wiele, 2 000 W

Koordlose Koning

Getoetste Produkte

Bosch Athlet BCH6ATH25, R3 499

Koordlose stofsuiers is nou gewild, maar die batteryaangedrewe motors lewer nie altyd dieselfde resultate as dié wat ’n kragpunt benodig nie. Hierdie model het egter die teendeel bewys. Bosch beweer dat dit in der waarheid sterker is as die gewone weergawe en ons basiese toetse het gewys dat dit heel moontlik die geval is. Die litiumioonbattery hou ’n volle uur lank. Jy kan dus ’n groot huis stofsuig sonder om eers weer die battery te laai.

KENMERKE: Sakloos, regop, HEPA-filter, 25,2 V, koordloos

Kyk Net Hoe Handig

Getoetste Produkte

Black+Decker Dustbuster PV1820L-QW, R1 999

Die oorspronklike koordlose handstofsuier was so ’n treffer dat die naam Dustbuster 40 jaar later steeds met ons is. Dié weergawe het ’n tuit wat 200 ° kan draai, mét ’n verlenging wat in al daardie hoekies en gaatjies onder en agter meubels en huistoestelle kan bykom. Dié model is ook ideaal as jy jou motor binne wil skoonmaak. Anders as sy mededingers vou die Dustbuster ook lekker kompak op, wat dit maklik maak om te bêre.

KENMERKE: Sakloos, handtoestel, koordloos, litiumioonbattery, 18 V

Keer Allergieë

Getoetste Produkte

Philips FC9713 Animal+, R4 099

Troeteldierhare is ’n algemene oorsaak van baie allergiese reaksies, soos ’n genies, ’n loopneus en branderige oë. Dié saklose model se motor is die beste van al die stofsuiers wat ons getoets het, en dit kombineer hierdie suigkrag met ’n spesiale SuperTurbo-borsel om hare van matte en meubels te verwyder. Volgens Philips het die kop ’n kragtige drierigtingsuigaksie in die middelste en kantborsels om doeltreffend skoon te maak, selfs waar die mat en die muur by mekaar aansluit.

KENMERKE: Sakloos, met wiele, HEPAfilter, 2 100 W

Vir Klein Spasies

Getoetste Produkte

Dysan V6+, R7 000

Dié innoverende koordlose model weeg slegs 2,3 kg, maar voel selfs ligter omdat die ontwerp so slim gebalanseerd is. Die klein 350 W-motor verseker ’n skaflike suigaksie, maar batterylewe is nie langer as 30 minute nie en die skoonmaakkop is baie klein. Dié stofsuier is ideaal vir ’n woonstel, maar nie prakties vir ’n huis nie. As jy die hoofpyp ontkoppel, het jy wel ’n praktiese masjientjie met ’n snelleraksie vir klein spasies soos die binnekant van jou motor en kaste.

KENMERKE: Sakloos, regop, 350 W, koordloos

Koop Wenke

Trek dit saam: Van die twee hoofsoorte stofsuiers is die variasie wat jy saam met jou kan rondtrek die gewildste in Suid-Afrika. Dis makliker om op trappe met matte te gebruik, en bêre jy dit, het jy nie baie spasie nodig nie. Die ouer garde sal dalk die regop weergawe verkies omdat jy nie baie hoef te buk wanneer jy stofsuig nie. Albei maak ewe goed skoon.

In die sak: Die meeste stofsuiers het nie meer ’n sak nie, wat as ’n voortdurende en onnodige uitgawe gesien word aangesien die meeste sakke nie weer gebruik kan word nie. Aan die anderkant moet saklose stofsuiers elke keer ná gebruik uitgespoel en drooggemaak word.

Haal diep asem: Die beste stofsuiers het ’n HEPA-filter van veselglas om stofdeeltjies en stuifmeel op te vang. Die HEPA-filter sal 99,97% van stofdeeltjies tot so groot as 0,3 mikrone opvang, wat beteken dat die lug wat uit jou stofzuiger kom skoner sal wees as die lug in die vertrek wat jy stofsuig!

WATT  op aarde… Die krag van stofsuiers se motors word in watt gemeet. Jy het minstens 2 000 W vir ’n groot gesinswoning nodig en ongeveer 1 7 00 W vir ’n kleiner huis. Enige iets rondom 1 000 W is slegs vir ’n klein woonstel geskik.

Mooi trap! Alle stofsuiers sal los en volvloermatte skoonmaak, en sal nie teëls en houtvloere krap nie. Jy het wel ’n bykomende borsel nodig vir wanneer jy matte meer intensief wil stofsuig, of as jy troeteldiere het. Kyk ook uit vir ’n trapaanhegsel vir ’n dubbelverdiepinghuis en ’n stoffeerapparaat vir jou rusbanke.

LEES HIER:

Professionele skoonmakers wys die plekke uit wat ons vergeet om skoon te maak

10 goed wat jy dalk nie geweet het jy in die wasmasjien kan sit nie

5 huisskoonmaakfoute

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
10 dinge wat tieners self behoort te kan doen

Om jou kinders met take en verantwoordelikhede te vertrou, maak nie net jóú lewe makliker nie - dit is ook...

Close