×
Skakel na Engels

Getoetste produkte: Databerging

Wanneer jy rugsteunkopieë maak, is dit nutteloos as jy jou rekenaar én jou rugsteunskyf weens ’n inbraak of huishoudelike krisis verloor. Bêre altyd ’n kopie van jou belangrikste inligting op ’n ander plek, of in die Wolk.
Databerging

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog. 

Stylvol en vaartbelyn

Seagate Backup Plus Ultra Slim, R1 099

As jy gereeld met groot lêers moet rondbeweeg, soos multimediaprojekte wat tussen jou huis en die kantoor gekarwei moet word, het jy iets nodig wat kompak en draagbaar is, maar steeds sterk en betroubaar. Seagate is ’n wêreldleier in die vervaardiging van hardeskywe. Jy kan dus verseker wees van toptegnologie in dié elegante omhulsel van 100% metaal wat minder as 1 cm dik is. Hierdie hardeskyf gebruik USB 3.0-verbindings en kom in ’n goue of platinumkleur afwerking.

KENMERKE: 1 TB, USB 3.0, 100% metaalomhulsel

Goed vir fone

SanDisk Ultra Dual USB Drive 3.0, R169

Jy kan foto’s en musiek van jou foon af verskuif deur dit op ’n Wolkgebaseerde stoorplek af te laai, maar vir groter lêers is dit gewoonlik makliker om dit op ’n geheuestokkie te stoor. Steek die een punt van dié geheuestokkie in die mikro-USB-poort (wat jy ge bruik om die foon se battery te laai) en kopieer jou lêers. Skuif dan die swikskakel om die kontakpunt terug te trek, verleng die vollengte-USB-punt aan die ander kant en prop dit in jou rekenaar in.

KENMERKE: 32 GB, USB 3.0, mikro-USBverbinder

Mobiele multimedia

Lexar MicroSD Card + USB 3.0 Reader, R520

Namate die gehalte van slimfoonkameras verbeter en apps groter word, verdwyn die stoorplek op fone oënskynlik vinniger as ooit tevore. Gelukkig word vingernaelgrootte mikro-SDgeheuekaarte ook vinniger meer bekostigbaar. Koop altyd bekende handelsmerke en kyk uit vir dié wat saam met ’n USB-leser kom, soos dié een. Glip die kaart uit jou foon en druk dit in die USB-passtuk om groot multimediadokumente tussen jou rekenaar en foon te skuif.

KENMERKE: 32 GB, USB 3.0-passtuk

Valbestand

ADATA HD710 Pro, R1739

Hierdie model van ADATA het drie lae plastiek, silikoon en rubber om hardhandige behandeling te absorbeer en ’n val van tot 1,5 m te deurstaan. Spesiale sensors bespeur wanneer dit val en help keer dat die skyf tol sodat jou data beskerm word. Dit is ook ten volle stof- en waterbestand. Omdat dit vir moderne USB 3.0-poorte gemaak is, sal jy ’n spesiale kabel nodig hê om twee USB 2.0-poorte op ouer stelsels te gebruik.

KENMERKE: 2 TB, USB 3.0, IP68-stof- en waterbestand

Apple-vriendelik

Adam Elements iKlips Duo+, R1 599

iPhones is van die min handtoestelle sonder ’n verwyderbare geheuekaart vir die stoor van apps, foto’s en musiek. Dié geheuestokkie is gemaak van ’n sterk sinkallooi met ’n mooi patroon daarin gedruk. Dit het ’n standaard-USB-verbindingstuk aan die een kant en ’n Apple-styl Lightning-verbinder aan die ander kant sodat jy multimedia van ’n Apple-produk of persoonlike rekenaar kan aflaai. Dis spesiaal ontwerp om deur die herlaai-opening in die omhulsel van bykans alle iPhones en iPads te pas.

KENMERKE: 64 GB, USB 3.1, Lightningverbindingstuk

Tuisargiewe

WD My Cloud EX2 Ultra, R8 619

As jy baie toestelle het en hope multimedia stoor, het jy ’n bêre-oplossing nodig wat nie lig in die broek is nie. Dié klein boksie is ’n slimtoestel wat aan jou LAN gekoppel word sodat jy flieks en musiek direk oor die netwerk kan speel, en waar al jou toestelle outomaties rugsteunkopieë kan maak. Dit bevat twee hardeskywe en jy kan ook van enige plek in die wêreld af aanlyn veilige toegang tot hierdie lêers verkry.

KENMERKE: 8 TB (2 x 4 TB-skywe), gigabis-LAN, RAID 0/1

Koop wenke

Rugsteun jou data

Gee oordeelkundig voorkeur aan watter data eerste gerugsteun moet word. Fokus op foto’s en daarna dokumente en e-posse. Amper die enigste ding wat nie vervang of herskep kan word nie, is familiefoto’s. Die maklikste data om te vervang is flieks en musiek.

Ter wille van ‘U’

USB 3.0 is ’n nuwe dataoordragstandaard met verskeie voordele, soos dat jy lêers baie vinniger tussen jou rekenaar en bêretoestel kan skuif. Op rekenaars lyk die USB 3.0-sok gewoonlik net soos die ouer weergawe, maar is soms blou aan die binnekant. USB-C is ’n nuwe skakelstelsel en deel van die jongste selfone en rekenaars, en dit gebruik ook USB 3.0.

Soos blits!

Draagbare hardeskywe is dieselfde hardeskywe as wat in skootrekenaars ingebou word, maar dit word in ’n beskermende omhulsel geplaas en deur ’n USBskakelpunt aangedryf. Eksterne hardeskywe met ’n hoë kapasiteit (2 TB+) is gewoonlik dieselfde grootte as dié in persoonlike rekenaars en benodig ’n sentrale kragpunt. Albei dié hardeskywe bevat metaalskywe wat teen ’n uiters hoë spoed in die rondte tol, mettertyd verweer en kan breek as die skyf teen iets stamp terwyl dit tol.

Kies wys

Wanneer jy bloot ’n paar lêers wil skuif, sal bykans enige soort geheuestokkie of -kaart voldoende wees, maar vermy dié met ’n plastiekskakelpunt wat maklik splinter. Om blitsig groot multimedialêers te deel het jy ’n USB 3.0-gegradeerde skyf nodig. Om ’n groot getal hoëgehaltefoto’s of video’s te stoor het jy ’n geheuekaart met ’n hoë leesen skryfspoed nodig.

iStock/AntonioGuillem

LEES OOK:

Altyd aanlyn is nie altyd goed nie

4 maniere waarop jou slimfoon jou brein verander

5 wenke om jou selfoondata beter te beheer

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
4 maniere waarop jou slimfoon jou brein verander

Wat is al hierdie skermtyd *regtig* besig om aan ons verstand te doen? Deur Kate Faithfull-Williams

Close