×
Skakel na Engels

“Ek het borskanker twee maal oorwin”

Die ongelooflike verhaal van ’n dapper vrou wat borskanker twee maal oorwin het
Zoleka-Mandela

 

Oktober is Borskankerbewustheidsmaand. Ons het met Zoleka Mandela gesels, wat borskanker gehad het en dit oorwin het – nie een nie, maar twee keer.

Graad 2B-borskanker is in Maart 2012 vir die eerste keer by Zoleka gediagnoseer. In daardie stadium het Nelson Mandela se kleindogter reeds ongeveer nege maande met die kanker saamgeleef. Haar seuntjie is kort voor haar kankerdiagnose tragies oorlede. In 2016 is ’n graad 3- luminale tipe B-kanker, ’n vorm van borskanker, by Zoleka gediagnoseer, en haar chemoterapie- en bestralingsessies is in Maart vanjaar voltooi.

Om kanker twee maal te oorleef is ’n reuse-mylpaal en Zoleka vier die feit dat sy haarself ’n kankeroorlewende kan noem. “Ek praat gedurig daaroor, want ek glo regtig dat daar baie vroue is wat deur hul kanker stilgemaak word. My boodskap aan hulle is dat vroeë opsporing jou lewe kan red. Dit het myne twee keer gered,” verduidelik Zoleka waarom sy so uitgesproke oor haar stryd is.

In haar boek When Hope Whispers (Jacana Media) skryf sy openlik oor die ondersteuning van haar familie, die verlies van haar twee kinders, haar worsteling met alkohol- en dwelmverslawing en haar stryd teen borskanker. Zoleka het in 2013 ook die Zoleka Mandela-stigting gestig. Die doel van hierdie stigting is om jongmense oor kwessies soos borskanker, padveiligheid, maatskaplike verantwoordelikheid, persoonlike groei, vrywilligersdiens en aanspreeklikheid op te voed en by te staan.

“Ek dink nie vroue weet dat dit moontlik is om ná kanker swanger te raak nie. Ek het kort ná my laaste chemoterapiebehandeling in 2013 natuurlik swanger geraak. Ek hoop my lewensverhaal laat vroue besef dat jy na die ‘Groot K’ steeds ’n lewe kan hê,” sê sy.

Ná haar kankerdiagnose was Zoleka verplig om baie leefstylveranderinge aan te bring. ’n Estrogeen-reseptor-positiewe borskanker is by haar gediagnoseer, wat beteken dat sy haar gewig moes dophou. Dié merkwaardige 37-jarige vrou het gedurende al haar behandelings bly oefen, gesonder voedselkeuses gemaak en positief gebly.

“Kanker verander jou perspektief op die lewe. Ek is net so dankbaar dat ek dit twee maal oorwin het, en ek benut hierdie derde kans op die lewe om ’n positiewe impak op mense te hê wat daardeur geraak word.”

Met haar borskankerdiagnose het van die moeilikste tye van Zoleka se lewe aangebreek. Hier is ’n paar wenke oor hoe om positief te bly nadat borskanker by jou gediagnoseer is:

1. Reik uit na ander wat deur kanker geraak word

“Kort nadat ek my behandeling in 2013 voltooi het, het ek myself belowe dat ek die Zoleka Mandela-stigting sou gebruik om uit te reik na mense wat deur kanker geraak word en om seker te maak dat hulle dieselfde ondersteuning ontvang as wat ek op my reis met kanker gehad het. Ek kan jou nie sê hoe goed dit my altyd laat voel nie.” 

2. Positiwiteit is noodsaaklik

Zoleka sal altyd haar dokter se woorde onthou: “Die oorwinning van kanker begin in jou kop.” “Om positief te bly, hoe moeilik dit ook al klink, sal regtigwaar jou hele lewe verander! Ek het dit self ervaar.”

3. Maak gesonde keuses

Zoleka het gesonder keuses oor haar dieet en oefening gemaak. Sy is baie bewus van die kos, drinkgoed en produkte wat kanker veroorsaak. “Om hierdie keuses te maak het my laat voel dat ek ’n bydrae tot ’n beter behandelingsuitkoms kan lewer.”

4. Moenie bang wees om hulp te vra nie

Vra hulp wanneer jy dit nodig het. Die ondersteuning van jou vriende en familie is net so belangrik soos die kankerbehandeling. “Om op my geliefdes te kon staatmaak, veral wanneer ek swak van die behandelings was, het gemaak dat ek daarop kon fokus om sterker te word en dit het my altyd baie beter laat voel.”

5. Vind meer uit oor jou behandeling en wat om te verwag

Speel ’n aktiewe rol in jou kankerbehandeling. Stel vas wat jou behandeling behels en wat die newe-effekte is. “Dit help baie om te weet wat om in terme van newe-effekte te verwag. Ek was altyd beter voorbereid op watter newe-effekte my chemoterapie en bestraling sou veroorsaak. Dit het ook gehelp om sommige van my dokters te kon skakel om oor my skete, pyne en bekommernisse te praat.”

Een uit elke vier Suid-Afrikaners word deur kanker geraak. Die ware koste van kanker is grotendeels ongedokumenteer, wat beteken dat baie gesinne die aanslag van onverwagse uitgawes buiten mediese koste moet hanteer, soos pruike, vervoer na en van afsprake of die spesiale kossoorte wat vir ’n gesonde dieet nodig is. Dit is noodsaaklik om voldoende ernstigesiektedekking te hê om die finansiële spanning te help verlig. Om meer uit te vind, kontak Sanlam by 0860 726 526 of besoek 1in4.co.za

Hooffoto: met vergunning van Zoleka Mandela

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Twee seldsame vorms van borskanker en hoe om dit te identifiseer

Dit is belangrik om jou feite te ken

Close