×
Skakel na Engels

Eet koejawels – dis goed vir jou

Vind uit hoekom koejawels as een van die voedsaamste vrugte beskou word

Die winter is net om die draai – een van die dae hoes en proes almal weer. Gelukkig bied die natuur ons ’n wondervrug wat ons weerstand teen siektes en veral verkoues help opbou.

Ja, dis koejawelseisoen. Dié kleurvolle vrug is veel meer as ’n lekkerny, dis ook propvol voedingstowwe. Koejawels bevat kalsium, kalium, yster, foliensuur, vesel en vitamien A, B én C. (Het jy geweet? Vars koejawels bevat drie tot ses keer meer vitamien C as lemoene en byna 20 keer meer as piesangs.) Al dié minerale en voedingstowwe is van uiterse belang vir jou liggaam en dus jou gesondheid.

Koejawels floreer in koue weer en dis juis wanneer ons liggame vitamien C die nodigste het. Vars koejawels is van April tot November beskikbaar, maar jy kan die voordele van dié vrug heeljaar geniet deur ingelegde koejawels te eet of koejawelsap te drink.

 

Verkoues

Die yster en vitamien C in koejawels help voorkom verkoues en infeksies. Dié vrug kan ook ’n slymerige hoes dokter en hou jou lugweë kiemvry.

Hardlywigheid

Koejawels is ryk aan vesel en dien as uitstekende lakseermiddels. Eet dus gereeld koejawels om jou uitskeidingstelsel aan te help jou ingewande te reinig. Die sade dien ook as lakseermiddels, so jy kan dit gerus insluk.

Hoë bloeddruk

Die vesel in koejawels verlaag die cholesterolvlakke in jou bloed en verhoed dat jou bloed dik word of klonte vorm. Dit bevorder dus die egalige vloei van jou bloed en verlaag só jou bloeddruk.

Gewigsverlies

Omdat koejawels ryk is aan vitamine, minerale en vesel is dit baie vullend. Volgens die SA Guava Producers’ Association is koejawels die perfekte peuselhappie aangesien dit laag in kilojoules is in vergelyking met ander vrugte en lekkernye.

 

Vir meer inligting, besoek www.guavaproducers.co.za.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Jennifer Hudson se gesonde gewoontes

Jennifer en die persoonlike afrigter Elizabeth Josefsberg leer jou hoe om jou swakpunte uit te ken en om meer bewus...

Close