×
Skakel na Engels

Eenvoudige maniere om jou papierwerk te orden

Moenie laat daardie stapels papier vir jou ore aansit nie! Deur Sophie Hines
papierwerk

Vicky Silverthorn,’n professionele organiseerder, deel haar onfeilbare sorteerstelsel vir al jou papierwerk. Só kan jy georganiseerd raak en nooit OOIT weer deur papierwerk oorweldig word nie! 

Jy benodig:

1 liasseerkabinet met laaie

1 briewemandjie wat bo-op kom

etikette (soos plakkers waarop jy kan skryf)

Wat om te doen:

Stap 1: 

Versamel elke stukke papierwerk in die huis, van dokumente wat jy reeds iewers ingedruk het tot nuwe briewe wat sopas op jou deurmatjie beland het.

Stap 2:

Maak genoeg plek om te werk – dalk die eetkamertafel of ’n spasie op die vloer waar jy stapels papiere kan uitpak sonder dat dit versteur sal word.

Stap 3:

Begin om al die papiere in kategorieë op die vloer te sorteer. Moenie dat die inhoud jou aandag aftrek of op hierdie stadium probeer om dit in datumvolgorde te sorteer nie; voorlopig is jy net besig om alles in netjiese stapels te kategoriseer (bv. “medies”, “rekeninge”, “strokies”, ensovoorts).

Stap 4: 

Nou is dit tyd om metodies deur elke stapel te werk. Raak ontslae van alles wat herwin of gesnipper kan word en verwyder enige items waarop jy moet reageer. As jy klaar is, sal jy (hopelik) ’n baie kleiner stapeltjie hê.

Stap 5:

Plaas enige iets wat jou aandag nodig het in die briewemandjie wat bo-op die liasseerkabinet kom. Wanneer jy in die toekoms ’n los halfuurtjie het, kan jy na hierdie mandjie toe kom en daardeur werk.

Stap 6: 

Sorteer die oorblywende papiere in datumvolgorde en liasseer dit in een van die kabinetlaaie. Merk die inhoud van daardie laai duidelik op die voorkant van die liasseerkabinet.

Jy het nou ’n ordelike stelsel vir papierwerk sodra dit by jou aankom. Dit word óf dadelik in die korrekte laai geliasseer, óf kom in die “doen dit”-mandjie sodat jy daaraan kan aandag gee. Sodra ’n laai begin vol raak, kan jy die onderste (oudste) dokumente deurgaan om te sien of jy dit nog gaan nodig hê.

Indien daar enige dokumente is wat jy regtig glo gehou moet word (jy kan vinnig google om uit te vind), behoort jy dit te oorweeg om ’n argiefhouer vir ou papierwerk te hê wat jy in ’n solder of kas kan bêre. 

Nuttige wenke

1. Wees realisties oor hoe lank dit jou sal neem. As ’n groot klomp papierwerk al opgehoop het, kan dit ’n aantal sessies oor ’n paar dae neem om alles uit te sorteer. Dit is baie beter om af en toe ’n blaaskans te neem as om oorweldig te raak en handdoek in te gooi omdat jy te veel op een slag probeer doen.

2. Kry ’n stil plek waar jy jou papierwerk kan uitsorteer sodat jy ’n ruskans kan neem en soontoe kan terugkom sonder dat alles versteur is. ’n Eetkamertafel is ideaal hiervoor.

3. Moenie die stelsel oorkompliseer deur van verwarrende kleurkodes of subkategorieë gebruik te maak nie. Dit raak later te veel om te onthou.

4. Onthou, indien jy ’n laai vir paspoorte, spaarsleutels ensovoorts wil gebruik, is dit die moeite werd om in sluitbare laaie vir sekuriteitsdoeleindes te belê. 

5. As jy genoeg plek het, kan jy wag totdat jy al die papierwerk uitgesorteer het voordat jy die kabinet aanskaf. Sodoende sal jy weet watter grootte kabinet jy moet koop (jy kan natuurlik ook meer as een koop indien nodig).

Bron: Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/Geber86

LEES OOK:

5 goue reëls vir ’n ordelike klerekas

8 stappe om van sentimentele, maar onnodige items ontslae te raak

10 maniere om jou kombuis te orden

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Orden jou kombuis in net 5 stappe

Maak jou kombuis ’n vrolike ruimte waar jy ’n hond uit ’n bos kan kuier en kook!

Close