×
Skakel na Engels

Dít is wat jou hoofpyne vir jou probeer sê

Kennis is mag!
hoofpyne

“Hoofpyne kom voor wanneer die bloedvate en senuwees rondom jou brein op jou liggaam se chemiese boodskappe oorreageer,” verduidelik dr. Juliet McGrattan van Brittanje, “en kan veroorsaak word deur enigiets van stres en reuke, tot hormoonveranderings of eenvoudig ’n ete wat oorgeslaan is.”

“In seldsame gevalle kan dit ’n aanduiding van ’n ernstige siekte wees, maar daar is gewoonlik ook ander tekens. ’n Skielike en baie skerp hoofpyn met veranderinge aan jou sig en braking kan byvoorbeeld ’n aanduiding van subaragnoïdale bloeding (breinbloeding) wees.” In dié geval moet jy onmiddellik hospitaal toe gaan.

Dit is wat die res kan beteken …

Is dit ’n spanningshoofpyn? 

Hoe weet jy?

Dit is die algemeenste soort gewone hoofpyn. Trouens, die helfte van ons word na verwagting een of twee keer ’n maand daardeur geaffekteer, met een uit drie mense wat dit tot 15 keer gedurende hierdie tydperk kan ervaar. Die pyn duur gewoonlik ’n paar uur en dit voel gewoonlik asof daar ’n stywe band om jou voorkop gespan is.

Die oorsaak? 

Een mens se spesifieke kombinasie oorsake is nie noodwendig dieselfde as iemand anders s’n nie. Algemene snellers is stres en moegheid, maar sterk reuke, skerp sonlig, onderdrukte woede, te veel of te min slaap, te veel tyd voor ’n rekenaarskerm, slegte weer, tandekners sowel as sekere kosse soos beleë kaas kan jou na ’n pynstiller laat gryp.

Jou pynvoorkomende plan 

Slaap en goeie eetgewoontes is noodsaaklik, maar metodes wat stres verminder soos diep asemhaling, joga en gereelde oefening – wat almal endorfiene vrystel – blyk die hoeveelheid en intensiteit van hoofpyne te verminder.

Is dit ’n migraine?

Hoe weet jy?

Dit is baie erger as ’n kwaai hoofpyn. Benewens ’n verlammende pyn gaan migraines dikwels ook gepaard met naarheid of braking, en ’n verhoogde sensitiwiteit vir lig en klank. Danksy ons hormone is dit drie keer meer algemeen by vroue, en ’n beraamde 22% vroue ly daaraan – baie van hulle is egter nog ongediagnoseer.   

Die oorsaak?

Migraines word vermoedelik deur tydelike veranderinge in breinchemikalieë, senuwees en bloedvate veroorsaak. Genetika speel ’n rol, maar daar is talle ander snellers insluitend stres, slaappatrone en sekere kossoorte. “Dit is selde een of twee faktore, maar eerder ’n kombinasie van verskillende oorsake wat die pyn teweeg bring,” sê Fayyaz Ahmed, ’n neuroloog aan die British Association for the Study of Headache in Brittanje.

Jou pynvoorkomende plan

Hou ’n migrainedagboek om jou te help om die probleem te identifiseer. Gesels met jou huisdokter oor ’n voorskrif of ’n verwysing. “Gereelde oefening kan ook help deur letterlik jou kop skoon te maak,” sê dr. McGrattan.

5 ander algemene hoofpyne

Troshoofpyne

Ondraaglike steekpyne aan die een kant van die kop, dikwels rondom die oog, wat om en by dieselfde tyd van die jaar vir ’n maand of twee voorkom. Hierdie hoofpyne kan nie met oor-die-toonbank-pynstillers behandel word nie. Vra jou huisdokter vir raad oor gespesialiseerde behandeling, wat ’n neussproei of suurstofterapie kan insluit.

Terugslaghoofpyne

Jip, die einste pille wat jy vir jou hoofpyn neem, is dalk die oorsaak daarvan. Ongeveer 40% van pasiënte wat die National Migraine Centre in Brittanje besoek, het probleme met hoofpyne weens die oorgebruik van medikasie. As jy op ’n gereelde basis vir meer as twee dae ’n week pynstillers gebruik, kan jy ’n slagoffer van dié hoofpyne word.

Menstruele hoofpyne

Hierdie hoofpyne vererger namate jy jou menopouse nader aangesien die normale hormoonsiklus moontlik ontwrig word. Die goeie nuus? Baie vroue bemerk ’n verbetering ná menopouse.

Sinushoofpyn

’n Ontsteking van die voering van die sinusse kan ’n dowwe, kloppende pyn veroorsaak. Oor-die-toonbank-ontstumiddels soos neussproei of -druppels kan help om jou neus oop te maak en verligting bring. ’n Ander opsie is om jou neus met ’n soutneussproei-oplossing uit te spoel.

Honger

Streng diëte wat lae bloedsuiker veroorsaak, soos die 5:2-dieet of laekalorie-eetplanne, kan ook snellers wees. Ontwatering is nog ’n algemene oorsaak. 

Wanneer is dit ernstig?

’n Hoofpyn is gewoonlik nie rede tot kommer nie, maar in seldsame gevalle kan dit ’n simptoom van ’n beroerte, meningitis of ’n breingewas wees. Daarom is dit belangrik om die gevaartekens raak te sien. As jy die volgende opmerk, is dit belangrik om so gou moontlik mediese advies te kry:

1 ’n Skielike, verblindende pyn, erger as enigiets wat jy al voorheen ervaar het.

2. ’n Intense, aanhoudende hoofpyn wat nie weggaan nie en mettertyd erger raak.

3. Dit word skielik aangebring deur ’n hoes- of niesbui, ’n verandering van postuur of fisieke inspanning.

4. Daar is ander simptome wat op ’n probleem met jou senuweestelsel kan dui, insluitend swakheid, onduidelike spraak, verwarring, geheueverlies en lomerigheid.

5. Indien dit met koors, ’n stywe nek, ’n uitslag of swak sig gepaardgaan.

Uit: Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/PeopleImages

LEES OOK:

5 wenke om met jou menstruele hoofpyne klaar te speel

7 wenke om ’n sinushoofpyn te verlig

8 maniere om jou serotonienvlakke te verhoog en gelukkiger te voel

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 wenke om met jou menstruele hoofpyne klaar te speel

Hoekom jy menstruele migraines kry - en hoe om dit te hanteer. Deur Natalie Healey

Close