×
Skakel na Engels

Dís waarom jy moet eet voordat jy oefen

Buiten die feit dat die persoon op die trapmeul langs jou nie jou maag wil hoor grom nie. Deur Catriona Harvey-Jenner
eet voordat jy oefen

Die meeste mense dink waarskynlik dat dit nie ’n goeie idee is om te eet voordat jy gaan oefen nie. Nie net omdat ’n vroegoggend-oefensessie dan doeltreffender voel of omdat al daardie energieke bewegings op ’n vol maag jou laat naar voel nie. Maar ook omdat sommige mense glo dat indien hulle op ’n leë maag gim toe gaan, die oefening hul oortollige liggaamsvet sal verbrand in plaas van die kos wat hulle so pas geëet het.

Daardie manier van dink maak beslis sin wat logiese denke en die wetenskap betref; daar is immers al studies gedoen wat aandui dat deelnemers gemiddeld 20% meer liggaamsvet verbrand deur in ’n vastende staat te oefen.

Maar soos LifeHacker tereg berig, is daar in werklikheid ’n paar groot vangplekke aan so ’n denkwyse. Hulle het met die sportdieetkundespesialis Kelly Pritchett, Ph.D., R.D., gesels en dié het verduidelik dat wanneer jy vet vinnig begin verbrand – soos wanneer daar op ’n leë maag geoefen word – jou liggaam daaraan begin gewoond raak en dat jou metabolisme in ooreenstemming met die vetverbranding aangepas word. Jou liggaam se oorlewingsinstink sal oorneem en jou metabolisme sal afneem sodat jy minder kilojoules verbrand. Presies die teenoorgestelde van dit wat jy wil bereik as jy oefen om gewig te verloor.

Lees: 7-minute-oefensessie vir die besige vrou

Daar is nog ’n rede waarom jy gerus kan eet voordat jy die gim aandurf: Dit sal jou aptyt ná die oefensessie waarskynlik onderdruk; dus sal jy minder eet en kilojoules spaar. Volgens een studie wat in die joernaal Appetite gepubliseer is, het deelnemers wat voor ’n oefensessie geëet het, gesê dat hulle later in die dag minder behoefte aan groot porsies kos gehad het.

En indien jy gim toe gaan met die doel om spiere te bou, sal oefening op ’n leë maag ook dáár teen jou tel. Vastende oefening kan glo tot die verlies aan spiere sowel as vetverbranding lei. Dit gebeur as jou liggaam sy voorraad glikogeenbrandstof verbruik het en dringend na ander energie op soek is – dit sal jou spiere teiken. Dit gebeur egter gewoonlik slegs as iemand sy/haar hoeveelheid oefening drasties verhoog.

Dan is daar die logiese afleiding: Hoe minder brandstof jy voor ’n besoek aan die gim inneem deur jouself uit te honger, hoe minder energie sal jy vir ’n stywe oefensessie hê, met die gevolg dat jou vordering belemmer word.

Hoewel daar dus aanbeveel word dat mense op ’n manier oefen wat die beste vir hulle werk, is dit dalk raadsaam om hierdie inligting in gedagte te hou wanneer jy weer ’n gimsessie beplan.

Uit: Cosmopolitan UK

FOTO: iStock/skynesher

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief