×
Skakel na Engels

Dís waarom die aanloop tot Kersfees spanningsvol vir ouers is

Die Britse ouerskap-blogger Kirsty Smith onthul hoekom Kersfees nie net pret en plesier met die kleintjies in die rondte is nie …
ouers

Kersfees is ‘n magiese tyd van die jaar vir ouers. Dis nou as jy met “magies” bedoel dat dit presies soos die res van die jaar is, maar met feetjieliggies en nagemaakte sneeu oor alles gestrooi.

En dis nie wat ek bedoel nie.

Vóór kinders is jou grootste Kersprobleem: Gaan ek met ‘n blinkertjietop, glinsterende grimering en goue sandale wegkom?

Maar as jy eers jy ’n ouer is, laai ’n ander soort spanning op. Dit begin by ’n takbokpakkie wat jy vir ’n skreeuende baba probeer aantrek vir ’n Kerskaartjie wat nooit gestuur gaan word nie omdat jy te besig is. En wanneer hulle ouer is, ry jy kilometers agter geskenkpapier aan waarop jou kinders nog nooit ’n oog gelê het nie ter wille van die illusie dat Kersvader bestaan.

Kersfees begin amptelik net ná Halloween wanneer jy kan begin voorgee dat jy Vader Kersfees SMS en jou kinders se name elke keer by die stout-lys gevoeg word wanneer hulle op jou senuwees werk.

Dan is daar die spanning rondom Kersinkopies. Die behels dat jy jou kinders vra wat hulle vir Kersfees wil hê, net om die antwoord wat hulle in Oktober gee, te gebruik om te voorspel wat hulle rêrig teen Kersdag wil hê.

Byvoorbeeld: As jou seuntjie vir ’n Batman Lego-stel vra, beteken dit tien teen een dat hy verwag om Captain Barnacles van die Octonauts in sy Kerskous te kry. Of ’n hond. Of ’n Hatchimal. Of ’n Pig Dancing-teestel (wat hy natuurlik uit sy duim gesuig het, maar jy in jou goedgelowigheid steeds gegoogle het).

Ná die inkopietog moet Kersvader se geskenke weggesteek word en weggesteek bly. Dit beteken Mamma en Pappa moet vir die volgende twee maande snags in skofte waak, asof die zombies van The Walking Dead nou enige oomblik op hulle gaan toesak. O, die goeie tyding – dis Kersfeestyd!

Vóór kinders het Kersfees behels dat jy na jou geboorteplek toe teruggaan en by die plaaslike kuierplek saam met mense dronk word met wie jy per ongeluk in jou prille jeug afgehaak het, en wat nou baie oud lyk. Soos in regtig, egtig oud.

As ouer kom jy op Oukersdag voor ’n heel ander krisis te staan. Dit is waarskynlik die langste, spanningvolste dag van die jaar. Dit begin vyfuur die oggend wanneer ’n kleuter jou wakker maak en vra of dit al slaaptyd is. Hierdie vraag word heeldag lank met intervalle van tien minute herhaal totdat jy jouself betrap waar jy in trane besig is om jou aan ’n sjokoladelemoen te vergryp asof dit ’n appel is.

Elke huishouding het sy eie Oukersaandtradisies. Los jy ‘n Kerspasteitjie of toebroodjie vir Vader Kersfees? In die kombuis of langs die skoorsteen? Wat van Rudolf – ’n wortel of ’n sak hawer en blinkers wat by die speelgroepie “gemaak” is? Eet jul nagtelike besoeker al die kos of net ’n paar happies? Wat sal die geloofwaardigste wees?

Dalk kan jy ’n aantekening in jou dagboek maak om hierdie dinge met jou maat uit te praat en een of ander getekende kontrak opstel. Verkieslik voordat julle met ’n gesin begin.

Die goeie nuus is dat Oukersaand die één aand van die jaar is dat jou kinders sonder teenstribbeling bed toe gaan, maar eers nadat jy op ’n baie gerusstellende manier verduidelik het dat ’n vreemde man in die middel van die nag by julle gaan inbreek om ’n Kerspasteitjie te eet en geskenke te los.

Sterkte daarmee!

Sodra die kinders in die bed is, gaan die rêrige pret begin.

“Twas the night before Christmas and all through the house

Nothing was stirring not even a mouse.”

Dis omdat Mamma en Pappa swetsend en swetend besig is om die Princess TippyTwinkle’s Funtastic Fairy Castle in die motorhuis inmekaar te sit. Vir die opstel van genoemde kasteel benodig jy ’n ingenieursgraad, die een spesifieke skroewedraaier wat julle nie het nie en ’n egskeidingsprokureur.

Al wat oorbly nadat al die geskenke aanmekaargesit en toegedraai is, is om die wekker vir middernag te stel sodat jy die geskenke in die kinders se kamers kan gaan neersit. ’n Eenvoudige takie wat amper onbegaanbaar gemaak word deur die hoeveelheid druk wat daarmee saamgaan; stel jou die verpletterende uitwerking op jou kroos voor as hulle moet ontdek dat Kersvader nie regtig bestaan nie.

Ná die suksesvolle aflewering van die geskenke kan julle weer in die bed gaan klim, gesus in die wete dat daar nog net die kleinigheid van Kersdag self voorlê … en hoe op aarde kan so ’n blye dag spannend wees?

via: Good Housekeeping UK

Lees ook:

Gee ou Kersballe nuwe lewe

Maak dié vrolike Kersversierings

10 Kersfeeswenke van Suzelle DIY

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
10 Kersfeeswenke van Suzelle DIY

Want enige iemand kan!

Close