×
Skakel na Engels

Dis hoekom jy nooit muf van brood moet afsny nie

Ons het dit al almal gedoen. Deur Lyndsey Matthews
muf van brood

Dit het ons almal al oorgekom. Jy wil net die brood sny en daar is dit. ‘n Wollerige blou mufkolletjie op die oppervlak van die baguette wat jy gister gekoop het. Hoewel die meeste van ons geleer is om dit net uit te sny en die res te eet om nie kos te mors nie, het dit tyd geword om daardie nare gewoonte in die kiem te smoor. 

“Ons raai mense af om muf uit brood te sny, om dit ‘n sagte kos is,” sê Marianne Gravely, senior tegniese inligtingspesialis van die Amerikaanse landboudepartement. “In die geval van sagte kos, is dit baie maklik vir die mufwortels of -tentakels, of watter grillerige woord jy ook al wil gebruik, om dieper in die kos in te groei.” Basies gaan die mufspore heelwat verder in die brood in as wat jy kan sien. Aaklig, nè?

Lees ook: Hoe om te keer dat jou kaas muf 

Daar is ‘n bietjie speling wat gesnyde brood in ‘n sakkie betref, sê Gravely. Wanneer dit duidelik is dat die een kant van die brood aan die buite- en binnekant skoon is, is dit veilig om te hou. Maar as jy nie seker is nie, gooi dit weg.

“Ek het al gesien hoe muf van die een sny na die ander versprei,” sê Gravely. “Ek’s seker party mense sal oë toeknyp, maar brood is goedkoop. Gaan koop liewer nog.” Brood is nie die enigste kos waar jy nie die gemufde stukkies net kan afsny en die res kan eet nie. Konfyt, sagtevrugte en kouevleis behoort weggegooi te word wanneer jy muf op enige deel daarvan sien.

Daar is darem goeie nuus. Harder kos soos salami, wortels en harde kase kan gered word deur die sigbare muf af te sny omdat die wortels nie so vinnig deur taaier oppervlaktes kan groei nie. Gravely beveel aan om veiligheidshalwe ‘n bykomende 2,5 cm kos rondom die mufkol af te sny. 

Van: Delish US

FOTO: iStock/dtimiraos

LEES OOK:

7 maniere om van muf in jou huis ontslae te raak

Raak onstlae van muf tussen teëls

7 dinge wat jy moet weet as jy wil bou of opknap 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Roosterbroodhappies met biltong, vyekonfyt en bloukaas

Met die verandering van die seisoen is daar ʼn byt in die lug, en Two Oceans Cabernet Sauvignon Merlot is...

Close