×
Skakel na Engels

Die wonderlike skoonheidsvoordele van appelasyn

Van kombuiskas tot badkamerkassie!
appelasyn

Ons almal weet dat appelasyn ’n sleutelbestanddeel van ’n gesonde slaaisous is, maar het jy geweet dat dit ook baie doeltreffend in jou skoonheidsroetine kan wees? Dit het ’n lang geskiedenis wat tot ongeveer 400 v.C. teruggaan – toe dit hoofsaaklik vir medisinale doeleindes gebruik is.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Maar dit het eers sowat ’n dekade gelede in die moderne wêreld gewild geraak. Dit het antibakteriële, antifungale, anti-inflammatoriese en antivirale eienskappe, wat dit ’n natuurlike kuur vir verskeie vel- en skoonheidsprobleme maak. Lees hier waarvoor dit alles gebruik kan word.

Jou gesig

Maak ’n verhelderende verfrisser deur een eetlepel appelasyn met twee eetlepels water te meng. Dit bevat alfa-hidroksisure wat porieë verklein en bloedvloei stimuleer om jou ’n gloeiende vel te gee. 

Lees ook: 8 tuisgemaakte haarbehandelings vir elke haartipe

Jou hare

Voeg twee eetlepels appelasyn by een koppie water en spoel jou hare met dié mengsel af nadat jy dit gewas het. Dit help om van enige vuiligheid ontslae te raak en verleen ekstra glans aan jou hare. En wees gerus – die reuk gaan weg!

Skeermesuitslag

As daar enige rooi, gevoelige knoppies op jou bene is nadat jy geskeer het, kan jy ’n wattetjie in onverdunde appelasyn doop en sagkens op die geaffekteerde dele aanwend. Die anti-inflammatoriese eienskappe sal vinnig verligting verskaf.

Sonbrand

As jy te lank in die son was, meng ’n halwe koppie appelasyn met vier koppies water. Doop ’n waslap in die oplossing en wend dit aan waar die son jou bygekom het. Dit bring nie net onmiddellike verligting nie, maar herstel ook die pH-vlakke en voorkom blase. 

Lees ook: 5 redes hoekom jy appelasyn nodig het

Insekbyte

As jy deur ’n muskiet gebyt is en die gejeuk jou teen die mure uitdryf, kan jy ’n wattetjie met onverdunde appelasyn teen die byt hou. Dit sal die gejeuk onmiddellik neutraliseer en kan selfs die genesingsproses versnel. 

Stink voete

Ja, dit help selfs hiervoor! Meng ’n koppie asyn en vier koppies water in ’n plastiekbadjie. Week jou voete vir 15 minute in die oplossing, spoel af en droog af. Die antiseptiese eienskappe sal help om jou voete te verfis en te ontsmet sodat dit heerlik vars en skoon ruik.

FOTO: iStock/YelenaYemchuk

LEES OOK:

Sakpas skoonheidswenke om jou tot by betaaldag te kry

5 goed wat jou vel olierig maak

Die organiese skoonheidshandelsname wat jou sal oorreed om “groen” te gaan

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
8 tuisgemaakte haarbehandelings vir elke haartipe

Maak ’n natuurlike behandeling wat spesifiek vir jou haartipe geskik is

Close