×
Skakel na Engels

Die WARE rede hoekom prinses Diana altyd palmsakkies gedra het

Moet nooit aanneem dat daardie klein sakkies net vir mooiheid is nie! Deur Caroline Picard
prinses Diana

Die ontslape prinses Diana is byna nooit sonder ’n palmhandsakkie by enige geleentheid gesien nie. En dit het altyd perfek by haar uitrusting gepas. Die sakkies was skaars groot genoeg vir ’n lipstiffie of twee, maar daar was ’n ander rede hoekom sy nooit die huis (of paleis) daarsonder verlaat het nie.

Die handsakontwerper Anya Hindmarch het die prinses gereeld met haar bykomstighede gehelp nadat sy haar Chelsea-winkel in 1993 geopen het. “Sy was ’n baie lojale kliënt en boonop baie prettig om mee te werk,” het Hindmarch aan die Telegraph vertel. “Sy sou sommer sonder enige lyfwagte of ’n bohaai by ons kom inloer.”

Die plat-op-die-aarde-prinses het hul afsprake so informeel gehou dat sy selfs met ’n pittige naam vir hul “projek” vorendag gekom het. “Ons het dikwels gelag wanneer ons haar ‘cleavage bags’, soos sy daarna verwys het, ontwerp het. Dit was klein satynhandsakkies wat sy sou gebruik om haar borsgleuf te bedek wanneer sy uit ’n motor geklim het,” het Hindmarch vertel.

En die sakkies het beslis hul naam gestand gedoen! Kyk maar op foto’s waar Diana met ’n laehalsrok uit ’n motor klim – geen geniepsige fotograaf sou haar ooit onkant betrap nie. Haar slim truuk het gewerk:

Die prinses van Wallis was nie die eerste koninklike wat ’n veeldoelige handsak gehad het nie. Koningin Elizabeth het na bewering haar beroemde Launer-handsak gebruik om geheime boodskappe aan haar personeel oor te dra.

Wanneer sy dit byvoorbeeld van een hand na die ander hand oorgeplaas het, het dit beteken sy wil haar huidige gesprek so gou moontlik beëindig. Wanneer sy dit op die tafel neergesit het, moes hulle weet dis ’n noodgeval –  dan wou sy hê die gesprek moet binne die volgende vyf minute afgehandel word.

Kate Middleton gebruik ook haar palmsakkies as ’n soort veiligheidsmeganisme. Die hertogin hou haar sakkie met al twee hande voor haar lyf vas vir situasies waar dit ongemaklik sal wees om iemand se hand te skud, het die etiketkenner Myka Meier aan GoodHousekeeping.com vertel.

Moet dus nooit aanneem dat daardie klein sakkies net vir mooiheid is nie –  die koninklike dames gebruik dit vir veel meer as ’n houer vir lipstiffie en sneesdoekies!

Van: Good Housekeeping US

FOTO: Getty images

LEES OOK:

 Lyk soos ’n koninklike met Kate Middleton se haarstyl 

FOTO’S: Die stewels wat Kate Middleton al 13 jaar lank dra 

Die koningin se lewe in foto’s 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
FOTO’S: Die stewels wat Kate Middleton al 13 jaar lank dra

En sy het dit die afgelope week weer gedra!

Close