×
Skakel na Engels

Die voordele van 20 minute se vroegoggend-oefening

Dis dalk ’n uitdaging om vroeg op te staan om te gaan stap of draf, maar dis goed vir jou
vroegoggend-oefening

Die goeie nuus is dat 20 minute se oefening genoeg vir ’n gesonde, gebalanseerde lewe is. Matige oefening minstens drie keer per week sal jou nie net heeldag in ’n goeie bui hou nie, maar sal jou ook energie gee, jou slimmer laat voel en, as jy nie ’n oggendmens is nie, sal oefening vroeg soggens jou help om gedissiplineerd te bly.

Studies het getoon dat selfs ’n stappie teen ’n matige pas endorfiene vrystel wat tot ’n beter gemoedstemming lei en depressievlakke verlaag, volgens WebMD. Die endorfiene wat vrygestel word wanneer jy oefen, veroorsaak ’n positiewe gevoel in die liggaam.

Om heeldag verstandelik skerp te bly is nie altyd maklik nie, maar as jy aan die beweeg raak, sal jy minder geneig wees om smiddae moeg te raak. Navorsing aan die Universiteit van Georgia in die VSA het getoon dat deur bloot elke dag vir 20 minute te stap sal help dat jy meer energiek voel, want stap verhoog die bloedvloei, wat weer die liggaam se vermoë verhoog om energie te genereer.

Kort jy nog ’n rede om aan die beweeg te kom? Dis (letterlik) die slim ding om te doen! Wetenskaplikes het bevind dat weerstandsoefening jou bewussyn verbeter en die brein teen agteruitgang beskerm. Dr. John Ratey, die skrywer van Spark: The revolutionary new science of exercise and the brain (Little, Brown and Company), sê dat oefening ook jou brein op kort termyn verbeter deur jou fokus te verskerp vir twee tot drie uur nadat jy geoefen het.

As jy jouself dwing om vroeg op te staan om te oefen, of jy nou gaan draf of “net” kantoor toe stap pleks van met die motor of bus te ry, sal dit jou selfdissipline leer – die een eienskap wat in alle aspekte van jou lewe voordelig sal wees, van beroepsdoelwitte tot jou gesondheid, sê Jennifer Cohen, die skrywer van No Gym Required: Release your inner rock star (Key Porter Books). Dit sal verseker dat jy uiteindelik ’n gelukkiger, goed gebalanseerde lewe kan lei.

Om jou te help het ons ’n paar wenke om jou soggens aan die beweeg te kry:

  • Gee jouself soggens genoeg tyd. As jy beplan om vir 20 minute te draf, voeg 10 minute by om af te koel voordat jy in die stort spring.
  • Dra ’n horlosie. Jy wil steeds betyds vir werk wees. As jy agter raak, verkort jou oefentyd, maar probeer vinniger draf namate jy nader aan die einde van jou oefentyd kom.
  • Sit jou oefenklere die vorige aand reg en maak jou ontbyt vir die volgende oggend indien moontlik. Onthou: As jy nie behoorlik beplan nie, is die kans groter dat jy nie sukses sal behaal nie.
  • Hou net aan om dit te doen, selfs al voel dit nie goed nie, want dit sal mettertyd verander. 

Foto: iStock/sturti

LEES OOK:

Hoe om by jou oefenroetine te hou

6 oefeninge om jou oë te versterk

3 maniere om oefening by die werk in te pas

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Wat jy van sponsrollers moet weet

Hetsy jy reeds ’n groot aanhanger of bloot nuuskierig is, hier is vier basiese beginsels wat jy moet weet voordat...

Close