×
Skakel na Engels

Die versekering wat jy regtig nodig het (en dié wat nie so noodsaaklik is nie)

Krap jy kop oor polisse? Met ons gids hoef jy nooit vir dekking te betaal wat jy nie nodig het nie … Deur Chloe Gray
versekering

 

Met premies op jou motor, huis, troeteldier en mediese versekering wat hul tol eis, is dit dalk ’n goeie idee om seker te maak dat jy slegs vir die dekking betaal wat jy regtig nodig het. Hier is ons gids:

Die geld werd …

Inhoud

Of dit nou ’n familie-erfstuk is wat in die slag bly of die kombuis wat oorstroom, huishoudelike versekering sal gewoonlik uitbetaal. Gaan die bewoording van jou polis na, aangesien sommiges selfs besittings (soos jou foon, fiets of skootrekenaar) dek wanneer dit elders iets oorkom. Moet dus nie altyd op die goedkoopste opsie besluit nie – maak seker dat jy genoeg dekking het, en betaal jou premie jaarliks.

Reis

Almal behoort reisversekering te betaal, selfs wanneer jy plaaslik vakansie hou. Jy kan jou reise individueel dek of jaarlikse dekking uitneem; dis die moeite werd om albei opsies te ondersoek. 

GH-wenk: Sommige bankrekeningpakkette sluit reisdekking in. Vind uit of dit met joune die geval is.

Troeteldier

Dit is noodsaaklik vir seldsame rasse en eksotiese diere, maar oorweeg dit vir enige troeteldier. Veeartsrekeninge kan duisende beloop indien jou troeteldier ’n chroniese toestand het wat behandeling vereis. Dit is dus slim om voorbereid te wees.

GH-wenk: Oppas vir polisse waar jy ’n persentasiebedrag in plaas van ’n vaste versekerde dekkingsbedrag betaal. Indien jou troeteldier ernstig siek word, kan dit baie duur uitwerk.

Dink mooi …

Selfoon

Die fynskrif kan dit moeilik maak om te eis. Die meeste versekeraars dek nie skade of diefstal tensy jy inbetaal nie, en selfs al hét jy betaal, word daar van jou verwag om jou foon mooi op te pas. Vergelyk verskillende opsies en moenie outomaties jou netwerkverskaffer se plan kies nie, want dit kan duur wees.

GHI-wenk: As jy ’n baie duur foon het of as jy ’n foonkontrak het, kan versekering die moeite werd wees, want indien jy jou foon beskadig of verloor, sal jy ’n nuwe een moet koop én steeds jou kontrak moet afbetaal.

Lewe

Dit is gerusstellend om te weet dat jou gesin die nodige kontant sal hê as jy skielik sou sterf. Sommige bestaande mediese toestande maak dit moeilik om versekering uit te neem, maar wees eerlik oor jou gesondheid en oorweeg altyd verskillende opsies. As jy geen afhanklikes het nie, is hierdie dekking egter nie ’n noodsaaklikheid nie. 

GH-wenk: Vind uit of lewensversekering by jou salarisvoordele ingesluit is voordat jy ’n polis uitneem.

Foto: iStock/izf

Uit: Good Housekeeping UK

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
4 wonderlike wenke om jou slimtoestelle teen kuberskurke te beskerm

Hierdie kennerswenke sal jou teen kubermisdaad beskerm

Close