×
Skakel na Engels

Die regte manier om ’n gietysterpot skoon te maak

Dis ’n bietjie omslagtig, maar nie onmoontlik nie. Deur Lauren Smith
gietysterpot

Getemperde gietysterware is van die beste oppervlakke vir kosmaak aangesien dit kos egalig verhit, vir amper alles gebruik kan word en net so tuis op die stoof as in die oond is. Bygesê, dit kan ’n gesukkel afgee om dit skoon te maak as jy nie weet wat jy doen nie.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Volg die raad van ons kenners by die Goeie Huishouding-instituut en gaan koop hierdie noodsaaklikhede om jou pan, pot of rooster skoon te hou. 

Jy benodig:

1. kookolie 

2. ’n skottelgoedborsel 

3. ’n niemetaalagtige potskuurder

4. sagte skottelgoedseep 

Temper en berei jou nuwe pot voor

Begin deur jou nuwe ysterpot in warm seepwater te was en dit deeglik af te droog. Gebruik ’n lap wat in kookolie geweek is en vryf die hele item daarmee, binne en buite. Verhit die pot dan onderstebo vir ’n uur in die oond by 180 °C. Skakel die oond af en laat die gietyster heeltemal afkoel voordat jy dit uithaal.

Hoe om dit ná elke gebruik skoon te maak

Was jou pot (of pan) met skottelgoedwater en ’n skottelgoedborsel, maar moet dit nie in die water los nie. Plaas dit weer op die plaat en skakel die stoof vir 30 sekondes aan, of totdat die water begin verdamp. Sodra dit droog is, kan jy die stoof afskakel en die binne- en buitekant van die pot met ’n papierhanddoek met ’n paar druppels kookolie uitvee.

Wanneer dit afgekoel het, kan jy ’n papierbord of papierhanddoek oor die opening van jou gietysteritem plaas om vog te absorbeer, en dit dan bêre. Met verloop van tyd én behoorlike versorging sal jou gietysterpot ’n diep, donker patina ontwikkel.

Onthou dat jy jou gietysterpot NOOIT (ons herhaal: NOOIT) in water mag los, in ’n skottelgoedwasser mag was of met ’n metaalskuurder of skerp skoonmaakmiddels mag skrop nie. Indien wel, sal jy die hele omslagtige voorbereidingsproses moet herhaal.

Wat om te doen as dit geroes is?

Behandel jou pot deur die roes met ’n niemetaalagtige potskuurder af te skuur, dit met ’n bietjie matige skottelgoedseep te was en met ’n skoon vadoek af te droog. Temper die oppervlak weer deur dit binne- en buitekant met kookolie in te vryf. Plaas die item dan onderstebo in jou oond en bak dit vir ’n uur teen 180 °C. Laat dit afkoel en verwyder die oortollige olie met ’n papierhanddoek.

Indien dit na te veel moeite klink, beveel Carolyn Forte, hoof van die Goeie Huishouding-instituut se skoonmaaklaboratorium, aan dat jy ysterware koop wat vooraf getemper is. Sodoende is jou pot of pan gereed om te gebruik sodra jy jou hande daarop lê.

Uit: Good Housekeeping US

FOTO: iStock/Mizina

LEES OOK:

Die maklikste manier om ’n gebrande pot skoon te maak 

11 van ons beste eenskottel-aandetes

14 huiswenke wat jou geld sal spaar

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Ruk jou huis reg voor Kersfees: 4 weke oor

Wenke vir ’n salige, skoon slaapkamer!

Close