×
Skakel na Engels

Die lewensverhaal van ’n inspirerende vrou

’n Jaar gelede was Nosipho Gamede nog ’n werkende ma en vandag het sy haar eie vermaaklikheid-app
inspirerende vrou

As die dogter van ’n laerskoolonderwyser en ’n onderwysinspekteur het Nosipho van kleins af geleer hoe waardevol dit is om ander op te voed en te help. Dit het gemaak dat sy eers sielkunde met kriminologie as hoofvak en daarna forensiese wetenskap gaan studeer het, waarna sy ’n pos in bedrogbestuur by ’n groot telekommunikasiemaatskappy in Gauteng aanvaar het.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Maar 10 jaar en drie kinders later het haar lewe so om haar werk en kinders gedraai dat toe vriendinne van Durban, waar sy grootgeword het, kom kuier en gevra het waar die beste plekke is om te gaan partytjie hou of hul gunstelingmusiek of ’n vertoning te geniet, het sy nie die vaagste benul gehad nie! “Dit was ’n gaping in my lewe, en ek het besef dis waarskynlik ook ’n gaping in ander besige mense se lewe,” sê Nosipho.

Dit is tóé dat sy die idee vir ’n vermaaklikheid-app gekry het. In Junie 2016 het sy GigNet Digital, SA se eerste volledig geïntegreerde vermaaklikheidapp, bekendgestel. Dit bied “ ’n enkele vermaaklikheidekosisteem” waar verbruikers en partytjiegangers soos sy en haar vriendinne, asook bemarkers, kunstenaars, venue-eienaars en die media almal interaktief kan wees.

Stappe na sukses

Stap 1 was om te kyk wat reeds beskikbaar is. Sy het ’n paar apps ontdek waarmee jy kunstenaars of venues kan opspoor, maar nie een het al die aspekte gekombineer nie. “Daar was niks waarop jy byvoorbeeld jou ligging of ’n venue kon intik en iets prettigs kon kry om te doen wat in jou smaak én tydgleuf val nie.”

Stap 2 was om IT-ontwikkelaars te kry om die app volgens haar spesifikasies te skep. “Ek’s nie ’n tegnofoendie nie, maar jy kan ’n horde ontwikkelaars aanlyn vind. Van die billikste en mees ervare ontwikkelaars is in lande soos Indië, maar as ’n beginner is dit goed om iemand in die omtrek te hê wat jy enige tyd kan kontak en indien nodig selfs persoonlik kan ontmoet.”

Nosipho het ’n kortlys van kandidate gemaak deur aanlyn te kyk na die projekte waaraan hulle gewerk het, en toe haar keuse gedoen. “Dis belangrik om mense te kry wat jou visie en passie deel, mense by wie jy kan aanklank vind,” sê sy.

Stap 3 was om ’n bemarker en sosialemediaspesialis te kry. “Bemarking is noodsaaklik om jou jou teikenmark te help bepaal en ook waar jy hulle kan bereik sodat jy jou advertensies en veldtogte doeltreffend kan inspan. Jy moet weet watter media om te betrek en hoe om dit die beste te doen.”

Stap 4 was ’n bekendstelling van ’n toetsweergawe van GigNet Digital. Haar bemarkingspersoon het haar gehelp om ’n spoggerige geleentheid by The Sands in Sandton te hou waar lede van die sosiale en vermaaklikheidwêreld met heerlike kos onthaal is, asook musiek deur onder andere Kwesta, Kadance, Squadroll, K.O, DJ Tira en DJ Bongz. Tol Ass Mo en DJ Jean was die seremoniemeesters en die geleentheid is deur onder andere SAfm, Morning Live op SABC2 en Independent Media gedek.

Stap 5 is om terugvoering oor die app te evalueer, aanpassings te maak en dit gedurig te verbeter. “So ’n projek is voortdurend aan die ontwikkel – dis wat dit opwindend maak,” sê sy. Van die voorstelle waaraan sy werk, is om minder inligting van appgebruikers te vereis en om dit vir hulle moontlik te maak om in die app self aankope te doen, kaartjies te bespreek en betalings te maak. “Sulke ontwikkelings kan duur wees, maar namate ons meer gebruikers kry, sal ons advertensie- en ander inkomste kan genereer.”

Groei en leer

Dis belangrik om gereeld jou sakekennis uit te brei, sê Nosipho. Sy het vir ’n MBA aan die Gordon-instituut vir sakewetenskap ingeskryf. “Dit bied insig in finansiering, bemarking en innovasie in die digitale wêreld.” Daar is beslis dinge wat sy anders sou doen.

“Ek sou minder van die bemarkingsbegroting aan die bekendstelling bestee het en meer bestee het om ’n nisgroep te kry wat die app as ambassadeurs kon gebruik en só die gebruikersgetalle kon vermeerder – dis wat ek tans ondersoek. My raad aan iemand wat ’n app of enige ander onderneming wil begin, is om altyd jouself te wees en om onbevooroordeeld te luister sodat jy kan leer en groei. En wanneer jy vashaak, werk die mantra en ingesteldheid ‘sake soos gewoonlik’ die beste, want daar is geen gunsies of maklike roetes in die sakewêreld nie. Jy moet jou transaksies met sakedissipline eer.”

LEES OOK:

Local is lekker: ’n keur van Suid-Afrikaanse velsorgprodukte

8 puik boetiek-jenewers uit eie bodem

5 fantastiese begroting-apps

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief