×
Skakel na Engels

Die grootste grimeringfout wat die meeste vroue maak

Jy is nie alleen nie! Die meeste vroue besef nie dat hulle dié mooimaakfout begaan nie …
grimeringfout

Ons wed toe jy die opskrif van dié artikel gelees het, het jy aan algemene grimeringflaters gedink soos om die verkeerde kleur verbloemer te dra, te veel grimering aan te wend of nie jou blosser behoorlik in te skakeer nie. Hoewel hierdie alles dinge is wat jy liefs wil vermy, is dit nie wat ons as die grootste grimeringfout sou beskou nie.

Hier’s ’n leidraad …

Ons weet almal dat verskillende seisoene verskillende klere vereis, en die meeste van ons is baie goed daarmee om ons klere elke seisoen om te ruil. Hoewel daar ’n paar oorgangsklere is (soos rokke wat ook by kouse en stewels gedra kan word), is die meeste klere definitief óf somers- óf wintersklere. Dit geld veral lande soos Suid-Afrika waar ons baie kontrasterende seisoene het – baie warm somers en baie koue winters. Kan jy begin sien waarheen ons op pad is?   

Wat is die groot fout dan?

Die grootste mooimaakfout wat vroue dikwels maak, is om nie hul grimering vir die nuwe seisoen aan te pas nie. Jy wonder dalk hoekom dit nodig is. Wel, in die winter is ons vel geneig om droër en effens ligter as in die somer te wees, en dit verander die manier waarop grimering op ons gesig lyk en voel. As jy dus nie in die winter “oranje” wil lyk of asof jou onderlaag aangeplak is, of droë, gebarste lippe wil hê nie, maak hierdie somer-na-winter-grimeringaanpassings:

 

  • verruil jou poeierblosser vir roomblosser omdat jou vel geneig is om in koue weer droër te wees
  • verruil jou verbloemer vir ’n ligter skakering omdat jou vel dalk nie so songebrand soos in die somer gaan lyk nie
  • verruil jou lipglans (wat geneig is om lippe uit te droog) vir meer bevogtigende lipkleurpodukte
  • bêre eers die helder, glimmende kleure in jou oogskadupalet en begin om warmer, donker skakerings te gebruik
  • bêre jou pienk blosser en kies eerder kleure met ’n bruiner ondertoon
  • gebruik ’n meer voedende waterbestande maskara om jou wimpers in die koue, nat weer te help beskerm 

GH-WENK: Sluit gerus jou naels en hare ook in wanneer jy jou mooimaakroetine vir die nuwe seisoen verander, en kies warmer, ryker kleure vir die winter.

 

LEES OOK:

7 maniere om die laag-op-laag-voorkoms dié winter te bemeester 

6 wenke om te keer dat jou grimering jou ouer laat lyk 

 
Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Kontoergrimering is ou nuus. Drapering is nou die ín-ding!

Kry daardie gesonde oefengloed sonder enige geswoeg of gesweet

Close