×
Skakel na Engels

Die beste kleur vir elke vertrek in jou huis

Of dit nou bewustelik of onbewustelik toegepas word, kleur kan ’n kragtige hulpmiddel wees as dit reg ingespan word
verfkleur

Dis ongelooflik watter groot uitwerking kleur op ons gemoed, ons emosies en selfs ons selfvertroue het. Google “kleursielkunde” en jy sal dalk verbaas wees om te sien hoe kleur alles van jou geestesgesteldheid kan bepaal tot watter kos jy van hou (en nie van hou nie).

Hetsy dit bewustelik toegepas word (soos wanneer jy besluit om daardie rooi lipstiffie te dra omdat jy weet dit jou die nodige selfvertroue vir jou groot vergadering gaan gee) of onbewustelik (soos hoe jy tot blou aangetrokke voel wanneer jy ook al terneergedruk voel, hetsy dit blou blomme, klere of ruimtes is), kleur kan ’n kragtige hulpmiddel wees as dit reg ingespan word.

En ons praat nie net van die regte kleur klere of lipstiffie nie – om die regte verfkleur vir elke vertrek in jou huis te kies, sal jou help om elke ruimte ten volle te benut vir die doel waarvoor dit ingerig is. Hier is ’n lysie van die beste opsies vir elke vertrek. Lekker verf!

Die beste kleure vir jou slaapkamer 

1. Sagte groen ontlok ’n gevoel van tevredenheid en rustigheid.

2. Grys is bekend as ’n kleur wat stres en angstigheid verminder omdat dit ’n koel en kalm atmosfeer skep.

3. Pers is baie strelend en word ook as ’n kleur beskou wat stres kan verminder. (GH-WENK: Violet is voldoende vir ’n kind se kamer, maar kies ’n dowwer skakering soos mauve of laventel vir ’n meer volwasse voorkoms.)

Die beste kleure vir jou badkamer 

1. Blou is ’n baie vreedsame en ontspannende kleur, veral donkerblou skakerings.

2. Wit skep ’n vars, skoon en kalmerende atmosfeer. (GH-WENK: As jy bekommerd is dat dit te steriel kan lyk, bly weg van spierwit en kies ’n skakering wat ’n meer roomkleur ondertoon het.)

3. Sagte pienk ontlok rustigheid en is ’n kalmerende kleur wat verbasend warm kan voel.

Die beste kleure vir jou kombuis 

1. Vlootblou is perfek as jy ’n kalm en elegante gevoel en voorkoms verkies.

2. Grys sal goed werk vir ’n klassieke dog kontemporêre atmosfeer.

3. Geel is stimulerend en energiewekkend – dis die perfekte kleur vir ’n vars en vrolike ruimte.

Die beste kleure vir jou woonkamer

1. Taankleur skep ’n gevoel van warmte en geselligheid.

2. Liggeel is ’n warm en vriendelike kleur wat ’n vrolike gevoel skep.

3. Rooi word met passie en warmte geassosieer, en word ook as ’n baie positiewe kleur beskou. (GH-WENK: Kies donker, aardse skakerings soos wynrooi en maroen, want helderrooi kan te intimiderend en oorweldigend wees.)

Die beste kleure vir jou tuiskantoor

1. Groen is bekend as ’n kleur wat angstigheid verlig, kreatiewe vermoë verbeter en innovasie inspireer.

2. Oranje genereer entoesiasme en sal jou kreatiwiteit ’n hupstoot gee.

3. Wit bevorder ook kreatiwiteit en skep ’n neutrale palet waarby jy enige aksentkleur kan voeg.

FOTO: iStock/Alija

LEES OOK:

Watter kleur lipstiffie pas jou? Voltooi dié vraelys 

Die beste kleure vir jou veltoon 

11 goed wat jy waarskynlik nie van Chalk Paint geweet het nie 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Regte troue: Megan en Brent se rustieksjiek sprokiestroue

Troues gaan oor liefde, familie en feesviering, en Megan en Brent Vencencie se spogtroue het aan al dié vereistes voldoen!

Close