×
Skakel na Engels

Die 13 mooiste uitrustings by vanjaar se Emmy-toekenningsgeleentheid

Van Reese Witherspoon tot Mandy Moore – al jou gunstelinge is hier! Deur Cara Spunk
Emmy

Die toekenningseisoen het amptelik begin! Die 69ste Emmy-toekenningsgeleentheid, met Stephen Colbert as gasheer, het die blinkste sterre in televisie vereer. Aktrises soos Reese Witherspoon, Mandy Moore, Chrissy Metz en Laverne Cox het Sondag 17 September hul verskyning op die rooi tapyt by die Microsoft-teater in Los Angeles gemaak.

Soos altyd het die geleentheid die beste in televisievermaak gevier deur programme soos This Is UsOrange Is the New Black, en Big Little Lies vir hulle uitmuntendheid op die kassie te beloon. In alle kategoriee, maar veral vir die vroue, was die kompetisie straf met vrouerolle wat al hoe beter word. Die nominasies van al hoe meer filmsterre — soos Laura Dern en Nicole Kidman — het dinge net meer opwindend gemaak. Die televisiebedryf beleef ’n blomtyd en dit is in hierdie jaar se toekenningsgeleentheid weerspieël.

By enige toekenningsgeleentheid is die rooi tapyt een van die aand se hoogtepunte. Die Hollywood-manne was netjies uitgevat, maar die vroue was eenvoudig asemrowend. Daar was kant, blinkers en mansdrag, met ontwerpe waarvan die meeste van ons net kan droom. Soos gewoonlik het die hare en grimering ook nie afgesteek nie.

Hier is 13 van ons gunstelingvoorkomste van vroue wat op en agter ons televisieskerms skitter. Alhoewel al hierdie genomineerde vroue ’n Emmy verdien, is dit nie almal beskore nie, maar hulle verdien nogtans ’n plek op ons lys van bes gekledes!

1. Reese Witherspoon

Die aktrise, genomineer as beste aktrise in ’n kortreeks of TV-film vir Big Little Lies, het asemrowend gelyk in ’n blou mansdrag-geïnspireerde voorkoms. Die aktrise het entoesiasties vertel hoe die verfilming van die HBO-reeks tot hegte vriendskappe met haar medeaktrises, soos Nicole Kidman, gelei het.

“Ek dink die intimiteit van vriendskap wat deur hierdie proses geskep is, kon regtig in die werk gesien word,” het sy aan Entertainment Weekly gesê.

2. Chrissy Metz

Die ster van This Is Us, wat as die beste vrouebyspeler in ’n dramareeks genomineer is, het in ’n smaragkleurige kantrok op die rooi tapyt verskyn. Vroeër vandeesmaand het sy aan The Hollywood Reporter vertel hoe sy met haar karakter, Kate Pearson, identifiseer.

“Sy was ’n vrou wat met haar gewig gesukkel het. Nie soos ‘Ag hemel, ek het ’n pond opgetel nie,’ het die 36-jarige gesê. “Sy was ’n régte vrou wat régtig gesukkel het, en al wat ek kon dink, was: ‘Genade, ek is Kate.'”

3. Nicole Kidman

“Ek het dit al gesê, maar soos ek ouer word, word die idee van sulke geleenthede al hoe aangenamer,” het die aktrise, wat ’n rooi Calvin Klein by Appointment-rok aangehad het, aan Gold Derby vertel.

“By elke nominasie, soos toe ek verlede jaar vir Lion genomineer is, en nou met die Emmy vir Big Little Lies, voel ek dit meer. Dis asof dit regtig begin insink … waarskynlik omdat ek soveel op- en afdraande gehad het, en om op hierdie punt van my lewe uiteindelik hier te wees, is baie, baie spesiaal.”

4. Keri Russell

Dié aktrise, wat twee keer benoem is vir haar rol in The Americans, het ’n halfdeursigtige swart rok gedra en is deur haar medester en kêrel, Matthew Rhys, vergesel. “Dit is altyd lekker om op ’n hoë noot te kan klaarmaak, in plaas van in jaar 15 wanneer die storielyn begin uitrafel het,” het sy voor die laaste seisoen van die program aan The Hollywood Reporter gesê. “Dit sal hartseer wees om totsiens te sê, maar die tyd is reg.”

5. Mandy Moore

Dié pas verloofde ster van This Is Us het gesmeul in ’n swart-en-wit rok en skelpienk lipstiffie. “Om deel te wees van ’n projek wat by soveel mense aanklank gevind het en gehelp het om ons in onstuimige tye te verenig, het niemand van ons onaangeraak gelaat nie,” het sy met Deadline oor haar reeks gesels wat 11 Emmy-nominasies ontvang het.

6. Viola Davis

Die ster van How to Get Away with Murder het in ’n Zac Posen-rok en juwele deur Harry Winston op die rooi tapyt geskitter. Sy is drie keer benoem vir haar rol in die Shonda Rimes-drama en is in 2015 as die beste aktrise in ’n dramareeks aangewys, maar sy moes verlede jaar vir Tatiana Maslany van Orphan Black terugstaan.

7. Robin Wright

Dit was Robin se vyfde Emmy-nominasie as beste aktrise in ’n dramareeks vir haar rol in House of Cards. Die aktrise, wat ’n glinsterende swart rok gedra het, hou haar lyf tans regisseur in haar treffer Netflix-reeks – iets wat min vroue beskore is. In ’n onderhoud met Vanity Fair raai sy ander vroue aan om “jou man te staan, jou sê te sê en te sorg dat jy gehoor word”.

8. Tracee Ellis Ross

“Ek is opgewonde as ek aan my aanvaardingstoespraak dink. Ek het al op 12 daaroor begin dink,” het die ster van Black-ish, wat vir die tweede keer as beste aktrise in ’n komediereeks benoem is, aan ABC News vertel. Sy was beeldskoon in Chanel Couture, al het sy die vorige Woensdag nog erken dat sy nie ’n idee het wat sy gaan aantrek nie.

9. Uzo Aduba

Uzo Aduba het in ’n silwer rok die kollig gesteel. Dié ster, wat drie keer vir haar rol in Orange is the New Black genomineer is, het vroeër vanjaar met The Hollywood Reporter oor haar karakter Suzanne gepraat. “Dit is belangrik om lig op Suzanne te werp, want in hierdie land lewe ons nog steeds in ’n tyd waar ons nie ’n regverdige en billike gesprek oor geestesiektes kan voer nie.”

10. Shailene Woodley

Daar is geen wedywering tussen Shailene — wat ’n Ralph Lauren-rok op die rooi tapyt gedra het — en haar Big Little Lies-medester Laura Dern nie, al is albei vir beste vrouebyspeler in ’n kortreeks of rolprent benoem.

“Ons het almal baie unieke rolle vertolk, unieke storielyne gehad en daar is glad nie kompetisie onder ons nie. ’n Toekenning vir enige een van ons is ’n toekenning vir almal van ons,” het die aktrise in ’n onderhoud aan The New York Times verduidelik. 

11. Jessica Biel

Dié aanbieder het die koppe laat draai in ’n metaalkleurige rok. Sy het met People oor haar seun, Silas (2), gesels. “Deesdae sê hy vir my: ‘Nee, Mamma! Ons gaan dit nie meer doen nie,'” het die 35-jarige ster vertel. “En: ‘Dit is nie ’n wedstryd nie’ — wat beteken: ‘Ek wil dit nie doen nie.'”

12. Laverne Cox

“Toe ek begin verstaan dat dit my werk is om van diens te wees, om die feit dat ek ’n transgendervrou is nie as ’n tekortkoming te beskou en as iets wat tussen my en toneelspeel sou staan nie, maar as iets wat my uniek en spesiaal maak, het my loopbaan verander,” het die Orange is the New Black-genomineerde, wat ’n Naeem Khan-skepping gedrag het, aan Backstage gesê.

13. Laura Dern

“Dit gebeur so selde dat ’n groep vroue bymekaarkom om te werk en dan soos ’n familie word,” het Laura gesê toe sy op die rooi tapyt met E! News oor Big Little Lies gepraat het. Sy het lieflik in ’n swart-en-wit rok gelyk en is later met die toekenning vir beste vrouebyspeler in ’n kortreeks of rolprent bekroon.

Uit: Women’s Health US

HOOFFOTO: Gallo Images/Getty Images

LEES OOK:

Nicole Kidman het dalk die aap uit die mou gelaat oor ’n 2de reeks van “Big Little Lies”!

DStv Now, Netflix of ShowMax?

7 vleiende modeneigings om in 2017 te probeer

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Nicole Kidman maak ’n kragtige stelling oor huishoudelike geweld in haar Emmy-toespraak

Met die aanvaarding van haar trofee vir "Big Little Lies" het Nicole na huishoudelike geweld as ’n "ingewikkelde, sluipende siekte"...

Close