×
Skakel na Engels

Die 10 algemeenste onderlaagfoute wat vroue maak – en hoe om dit te vermy

Volledige bedekking hoef nie oneweredige bedekking te beteken nie. Deur Sam Escobar
onderlaagfoute

 

Onderlaag is een van die produkte wat die moeilikste aanwend. Dit kan jou ’n vlekkelose, jonger en uitgeruste voorkoms gee, maar wanneer dit verkeerd aangewend word, het dit presies die teenoorgestelde effek. Probeer dus om hierdie algemene foute te vermy – jou onderlaag (en gesig!) sal jou dankbaar wees.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog. 

1. Jy gebruik die verkeerde onderlaag

Voordat jy ’n onderlaag koop, is dit belangrik om vas te stel watter soort onderlaag in jou vel se behoeftes sal voorsien. Het jy ’n olierige vel? Dan is dit belangrik om ’n niekomedogene (met ander woorde een wat nie jou porieë sal verstop nie) en olie-absorberende formule te gebruik.

As jy ’n sensitiewe vel het, kies ’n formule met ’n mineraalbasis sonder kleurmiddels, geurmiddels en preserveermiddels wat irriterend kan wees. Indien jou vel droog is, gebruik ’n romerige, bevogtigende onderlaag wat jou vel gehidreer hou. 

2. Jy kies ’n skakering wat nie by jou vel pas nie

’n Te ligte onderlaag kan jou uitgewas en selfs ’n bietjie siek laat lyk terwyl ’n te donker onderlaag soos ’n selfverbruiningsfout kan lyk. Vermy die verkeerde skakering deur kleure op jou kakebeen, neus en wange te toets – nie op die rugkant van jou hand of gewrig  wat tien teen een nie dieselfde kleur as jou gesig is nie.

Die regte skakering behoort op jou vel te verdwyn. Gaan staan dan in die son om te kyk hoe dit in natuurlike lig lyk. As dit steeds onsigbaar is, het jy ’n onderlaag gekry wat vir jou werk.

3. Jy gebruik nie ’n basislaag nie

Wanneer jy haastig is, kan jy in die versoeking wees om jou basislaag oor te slaan. Maar dit is eintlik een van die grootste sleutels tot ’n gladde, langdurende afwerking vir jou grimering. As jy bang is dat jou onderlaag in plooitjies aanpak, kan jy ’n basislaag met ’n silikoonbasis gebruik om jou vel uit te stryk.

4. Jy set nie jou grimering nie

Nog ’n belangrike stap om te keer dat jou voorkoms in die helfte van die dag sy fleur verloor, is om jou grimering te set. Een van die vinnigste maniere om dit te doen is deur ’n grimeer-setsproei aan te spuit.

5. Jy grimeer voordat jou bevogtiger droog is

Gee jou bevogtiger (en dus ook setsproei en basislaag) altyd genoeg tyd om deur jou vel opgeneem te word voordat jy jou onderlaag aanwend. Anders gaan jou grimering waarskynlik streperig lyk.

Lees ook: Kies die beste onderlaagformule

6. Jy gebruik te veel onderlaag

Om ’n vlekkelose voorkoms te skep is wonderlik, maar om jou hele gesig met laag ná laag onderlaag te beplak gaan nie werk nie. In plaas daarvan om vlekkeloos te lyk, gaan jou vel aangepak en onnatuurlik lyk.

As jy met ’n ontsierende puisie sit, kan jy enige skilfertjies liggies met ’n skoon, klam gesiglappie afvee. Behandel die puisie met ’n topikale middel en wend dan jou vogroom aan. Stip ’n bietjie verbloemer met jou ringvinger aan, skakeer in, en voilà — ’n sygladde voorkoms.

7. Jy wend dit met jou vingers aan

Al wat jy daarmee gaan bereik, is ’n oneweredige, streperige voorkoms. Om gedurig aan jou gesig te vat doen in elk geval meer kwaad as goed. Gebruik eerder ’n klam grimeersponsie of kwas om jou onderlaag aan te wend.

Bonus: Jy gaan in die proses ook minder onderlaag vir elke aanwending gebruik, want ’n mens kom verder as ’n bietjie water bygevoeg word. As jy ’n kwas gebruik, kan jy die onderlaag met sirkelbewegings aanwend en dan inskakeer soos nodig. Vir ’n egalige voorkoms kan jy dit oor jou hele gesig aanwend, insluitend jou ooglede, onder jou oë en rondom jou neusgate.

8. Jy skakeer dit nie tot in jou nek in nie

As jy ’n onderlaag gebruik wat volledige bedekking bied, moet jy seker maak dat jy dit tot in jou nek inskakeer aangesien daardie vel gewoonlik ’n bietjie ligter as jou gesig is. Soos vroeër genoem, kan jy ’n sponsie of onderlaagkwas gebruik om jou onderlaag eers op jou gesig aan te wend, en dan van jou kaak af ondertoe.

9. Jy gebruik ’n formule wat jou ouer laat lyk

Een van die groot redes waarom vroue onderlaag gebruik, is om ’n jeugdige voorkoms te behou, maar die verkeerde formule kan die tekens van veroudering juis beklemtoon. ’n Poeieronderlaag kan aangepak lyk en jou vel uitdroog, wat beteken dat dit vir enige iemand ’n swak keuse is, ongeag of sy besorg is oor veroudering of nie.

Dan is daar romerige formules, wat na ’n wonderlike idee klink omdat dit glad is en heelwat bedekking bied. Maar weens die produk se pigmentasie kan dit op die ou end oneweredig lyk nadat jou vel die vog daarin geabsorbeer het.

Oor die algemeen is die beste keuse vir teenverouderingsdoeleindes ’n bevogtigende vloeibare onderlaag met ’n satynafwerking. Kies ’n produk wat bevogtigende gliserien of hialuroonsuur bevat om jou vel plomp en soepel in plaas van droog en vaal te laat lyk.

10. Jy gebruik verbloemer voordat jy onderlaag aanwend

Om jou verbloemer eerste aan te wend kan veroorsaak dat jy meer onderlaag gebruik as wat andersins sou nodig wees. Gebruik ’n klein, gepunte kwassie om ’n liggewigverbloemer op die deel onder jou oë (sowel as enige vlekke of puisies) aan te wend nádat jy jou onderlaag aangewend het, en skakeer in.

Uit: Good Housekeeping US

FOTO: iStock/Anastasiia_M

LEES OOK:

Hierdie albino-vrou se kommentaar oor Rihanna se Fenty Beauty-grimeerreeks het soos ’n veldbrand versprei

Hoe om onderlaag soos ’n kenner aan te wend

6 wenke om te keer dat jou grimering jou ouer laat lyk

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hierdie ma se geniale truuk om haar baba medisyne in te gee, het soos ’n veldbrand versprei

Jy sal hierdie een wil onthou. Deur Caroline Picard

Close