×
Skakel na Engels

Deel jy te veel op sosiale media?

Ons sê gou vir ons twee keer dink voordat hulle foto’s en inligting op sosiale media deel, maar dit is dalk tyd dat ons ons eie raad begin volg, skryf Sophie Baker
sosiale media

Dit word “sharenting” genoem – ’n ouerskaptendens wat uit ’n voortdurend veranderende wêreld ontstaan het. Dit verwys na ouers wat twiet, foto’s deel en hul aanlyn kringe op die hoogte bring van elke aspek van hul kinders se lewe, van hul eerste tree tot hul gradeplegtigheid en alles tussenin. Geen vorige generasie het so in die openbare oog grootgeword soos vandag se kinders nie.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog. 

Trouens, baie jong kinders is al voor hul geboorte op Facebook as niks meer nie as ’n onduidelike ultraklankskandering saam met ’n aankondiging oor hul koms. As jy ’n ouer is wat graag jou vriende en familie oor jou kinders se lewe inlig, waarsku ouerskapkenners dat jy altyd eers moet dink of die goed wat jy nou oor jou kinders deel, oor 10 of 15 jaar vir hulle implikasies kan inhou.

Wat is die grootste gevare van “sharenting ”?

Natuurlik is daar ’n paar voor die hand liggende gevare in verband met foto’s wat in die openbare ruimte gedeel word in terme van pedofilie en die onthulling van jou kinders se persoonlike besonderhde, soos hul naam, ouderdom en presiese ligging (baie foto’s op sosiale media word met ’n ligging gemerk en kan jou huis of kenmerkende bakens uitwys).

Onlangse navorsing in die VSA het getoon dat sowat 40% van ouers dink dis oukei om foto’s van hul kinders in hul onderklere te deel, en nie net op hul private Facebook-blad nie, maar ook op Instagram en soortgelyke sosialemediaplatforms waar dié foto’s in openbare besit kan wees.

Dis maklik om foto’s van sosiale media af te laai en te versprei, en ouers moet daarvan bewus wees dat hul onskuldige foto’s op baie meer verdagte web werwe en groepe versprei kan word. Daar is egter ander gevare wat minder vanselfsprekend is, maar nie minder ernstig nie.

Die meeste hiervan hou verband met die skep van ’n identiteit vir jou kind, veral een wat hom of haar in die toekoms kan benadeel. Natalee Holmes, ’n ouerskapkenner, verduidelik: “Deur goed oor ons kinders aanlyn te deel, skep ons vir hulle ’n persona – dikwels sonder hul toestemming of selfs hul wete.

Ons deel verspotte of oulike en selfs stoute goed wat hulle sê of doen. Ons dink niks daarvan om foto’s van hulle te deel nie, hoewel die meeste van ons ons eie profiel só stel om ons in te lig wanneer iemand ’n foto van ons oplaai.”

Lees: 7 dinge wat jou tiener wil hê jy nié op sosiale media moet doen nie

Jou kind se digitale voetspoor

Deur foto’s en nuus van jou kinders op sosiale media te deel, skep jy vir hulle ’n digitale voetspoor en identiteit – dikwels een waarin hulle geen sê gehad het nie, en wat jy dalk nie besef het nie. Teen die tyd dat kinders oud genoeg is om self sosiale media te gebruik, het baie reeds ’n volledige identiteit wat vir hulle wag en wat saamgestel is deur inligting wat hul ouers verskaf het.

“Wanneer dit by kinders kom, is ons geneig om die lawwe goed te deel, dinge wat ons trots maak, of voorbeelde van waar hulle hulle wangedra. In ieder geval is die beeld wat jy van jou kind skep nie volledig nie,” sê Holmes. Hoewel dit skadeloos en oulik vir jong kinders kan klink, onthou dat dit baie moeilik is om iets permanent te verwyder as dit eers op die internet is.

Die digitale voetspoor wat ons vir ons kinders nalaat, moet een wees wat hulle nie later sal verneder of skaam maak nie. Boonop moet dit van so ’n aard wees dat hulle nie sal omgee as enige toekomstige werkgewer, vriend of lewensmaat daarvan weet nie.

Die sielkundige Melanie Hartgill stem saam en sê hoewel die “etikettering van kinders niks nuut is nie”, het die koms van sosiale media die proses baie makliker gemaak. Sy sê ook die selektiewe aard van sosiale media “maak dit maklik om ’n spesifieke ‘soort’ kind aan die publiek voor te hou” selfs al is dit nie ’n ware weerspieë ling van sy of haar persoonlikheid nie.

“Ouers moet die goed sensor wat hulle van hul kinders deel,” sê Holmes. As jou kind byvoorbeeld aangeneem is, wil jy dalk dié inligting privaat hou totdat jou kind weet en ten volle begryp dat hy aangeneem is. Ander mense kan onwetend private inligting uitlap. Jou kind kan dalk op ’n ander manier uitvind as wat jy beplan het, en dit sal sy vertroue in jou skend.

Holmes sê een van die ander grootste gevare van “sharenting” is die gebrek aan konteks vir ander mense. Hoewel jý die storie ken agter ’n skynbaar onskuldige foto of brokkie wat jy van jou kind aanlyn deel, is dit belangrik om te onthou dat as ander dit nié weet nie, dit jou of jou kind in ’n swak lig kan plaas en ’n nadelige uitwerking kan hê op hoe die wêreld jou kind sien.

Dit geld nie net jong kinders nie. Ouers wat hul tieners in sosialemediaplasings merk, moet seker wees dat dié plasings nie vir hulle ’n verleentheid sal wees of vir boelies skietgoed gee nie. Kinders kan wreed wees en daarom kan selfs plasings van jare gelede probleme veroorsaak.

En omdat baie ouers aanlyn met hul kinders se vriende verbind is, moet hulle ook versigtig wees oor wat hulle omtrent hulself deel. Een onlangse voorbeeld was van ’n ma wat saam met vriendinne uitgegaan het. ’n Vriendin het ’n foto van haar gedeel waarop sy ’n vibrator vashou en lag. Die foto is onder die kinders versprei en het veroorsaak dat haar dogter verneder en geboelie is.

Hoekom jy op lang termyn moet dink

Namate jou kinders ouer raak, kan dié foto’s en plasings meer as net ’n bron van vernedering raak, sê Holmes. Dit kan ’n negatiewe uitwerking op hul toekomsgeleenthede hê. Dié profiele kan steeds toeganklik wees teen die tyd dat jou kind universiteit toe gaan of begin werk.

Omdat ál meer voornemende werkgewers en tersiêre instellings sosialemediaprofiele nagaan voordat hulle kandidate aanvaar, móét ons die toekomstige gevolge oorweeg van plasings waarby ons ons kinders betrek. Sal jou beskrywing van jou agtjarige wat frases uit Fifty Shades of Grey aanhaal nadat hy per abuis op die DVD afgekom het steeds daar wees wanneer hy die hoof van ’n groot maatskappy is?

Wat as jou nou volwasse kind op ’n plasing afkom waarin jy haar ongunstig met ’n broer of suster vergelyk het, of waarin jy aanbevelings vir ’n spesialis gevra het vir haar fisieke, emosionele of geestesgesondheidkwessies wat sý gedink het jy privaat gehou het? ’n Deel van die manier waarop kinders hul identiteit vorm, is deur private inligting oor hulself te hê, en dit privaat te hou.

Ons kan ons kinders maklik daarvan ontneem deur te veel op sosiale media te deel en só vinnig die grense tussen openbare en private inligting vervaag. Die gevaar is dat dié nuwe digitale-identi teitontwikkeling ’n blywende uitwerking op ’n kind kan hê, selfs tot in volwassenheid.

“Goed op die internet is permanent en kinders het die volste reg om te sê hulle wil nie hê ’n foto moet aanlyn gedeel word nie. Jy dink dalk dis oulik, maar hulle nié en dié foto’s kan hulle tot in hul tiener- en grootmenslewe treiter,” sê Hartgill.

Lees: Hoe om seker te maak dat jou kinders nie permanent op hul fone is nie 

Beteken dit jy mag niks oor jou kinders deel nie?

Moet jy dus ophou om goed oor jou kinders te plaas? Dis jou besluit, maar Holmes beveel aan dat jy ’n paar dinge in gedagte hou. “Onthou, jou kinders is klein mensies, nie ‘net kinders’ nie. Hulle sal ook selfbeeldprobleme soos die res van ons hê, en hulle sal ook eendag hulself in die beste lig wil uitbeeld,” sê Holmes.

Gebruik dieselfde kriteria wanneer jy iets van jou kinders plaas as wat jy sou wou hê vriende en familie moet gebruik wanneer hulle ’n foto of inligting van jóú wil deel. Verbeel jou daar’s iemand wat elke beweging van jou volg en dit met die publiek deel. Hoe sou jy wou hê moet hulle jou uitbeeld? Watter dele sou jy liefs wou uitlaat?

Behandel jou kinders met dieselfde bedagsaamheid, sê Holmes. “En sodra hulle oud genoeg is, moet jy begin vra: ‘Gee jy om dat ek dié foto met mense deel?’ ” sê Holmes. “Ons leer kinders van jongs af om hulself en hul liggaam te beskerm, en dis net so belangrik om hul aanlyn identiteit te beskerm. Dis nie iets waaroor die meeste van ons gedink het of besorg was toe óns grootgeword het nie, maar die wêreld waarin ons kinders leef, is soos ’n werklikheidsarena, en dit moet as sodanig beskou word.”

4 vrae om te vra voordat jy iets van jou kind op sosiale media deel

“Sou hierdie foto gepas wees as dit van ’n volwassene was?”

Onthou, moenie enige iets plaas wat vir ’n volwassene vernederend sou wees nie, hetsy jy die een is wat die foto sien of die een óp die foto is. Ja, dit beteken jy moet twee keer dink voordat jy ’n foto van jou kinders in die bad deel.

“As my kind hierdie plasing moes lees, sou hy ontsteld/skaam/seergemaak/kwaad wees?”

Selfs al is jou kind baie jonk en kan hy nie jou nuutste plasing of kommentaar lees nie, maak asof hy dit sou kon lees en verstaan. As dit ’n negatiewe reaksie sal ontlok, hou dit van sosiale media af.

“Is dit ’n regverdige weerspieëling van die situasie?”

Onthou om die hele situasie regverdig voor te stel. As jy ’n video oplaai waarin jou kind ’n woedeuitbarsting kry, moet hom nie as stout, onredelik of sleg gemanierd uitbeeld as jy op ’n manier tot die situasie bygedra het of daar ’n geldige rede was nie.

“Is ek seker dat my privaatheidverstellings reg is?”

As jy besluit om voort te gaan en wel ’n foto van jou kind te deel, maak seker dat slegs die mense wat jy wil hê dit moet kan sien, wel kan. Wanneer minderjariges betrokke is, behoort die foto’s nie openbaar gemaak te word nie – en onthou dat wanneer jy iemand in foto’s of ’n plasing merk, hul vriende dit gewoonlik ook kan sien.

FOTO: iStock/Filipovic018

LEES OOK:

Is tronkstraf ons voorland vir Facebook-foto’s van ons kinders?

Behoort jy foto’s van jou kinders op Facebook te plaas?

10 gewildste SA selebs op Instagram

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
UITEINDELIK kan jy dít op WhatsApp doen!

Is jy spyt oor ’n WhatsApp-boodskap wat jy gestuur het? Daar is nou ’n oplossing hiervoor

Close