×
Skakel na Engels

Dag Zero: Weet só of water nog veilig is om te drink

Die WWF SA beantwoord van die algemeenste vrae oor drinkwater terwyl Kaapstad die dae tot Dag Zero aftel
Dag Zero

Met minder as 100 dae tot die jongste geskatte Dag Zero is daar baie Kapenaars wat swembaddens, reënwatertenks en boorgate as waterbronne begin oorweeg. Maar hoe weet ons of dit veilig is om hierdie water te drink, en wat staan ons te doen as dit nié is nie? En wat van die huidige veiligheid van kraanwater in die lig van herhaalde waarskuwings oor die laaste 10% water in damme.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

In die WWF SA jongste waternuusbrief word hierdie en ander vrae behandel:

V: Hoe weet ek of dit veilig is om my boorgat- of reënwater te drink?

A: Onbehandelde water bevat verskeie onsigbare mikrobes soos bakterieë, virusse en protosoë. Hierdie skadelike mikrobes kan siektes sowel as diarree en braking veroorsaak. Anders as die voorafbehandelde water wat uit ons krane kom, is dit beter om te aanvaar dat dit nie veilig is om onbehandelde water te drink nie.

Die enigste manier om uit te vind of onbehandelde bronne – hetsy reën- of grondwater – drinkbaar is, is om ’n monster by ’n geregistreerde laboratorium te laat toets. Jy kan ook ’n waterstofsulfied-tuistoets doen om vas te stel of dit skadelike bakterieë bevat.

V: Waarom moet ek my onbehandelde water toets as ek dit wil drink, en hoe doen ek dit?

A: Jy wil nie hê dat daar bakterieë in jou drinkwater moet wees nie. Bakterieë is die grootste gevaar en in noodsituasies word dit eerste hanteer. Die chemie van die water moet getoets word om die sout-, metaal- of swaarmetaalinhoud vas te stel. Die lys elemente is lank (meer as 40) en elkeen moet op grond van sy konsentrasie en gesondheidsimplikasies oorweeg word.

Die korrekte toets hiervoor is die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaarde of SANS 241. Waterverskaffers soos munisipaliteite of noodlenigingspanne gebruik hierdie toets daagliks om ons drinkwater te monitor. Hou dus in gedagte dat jou watergehalte kan verander – veral dié van opgegaarde reënwater ná ’n swaar storm. Wees eerder versigtig en behandel jou water.

V: Is dit nog veilig om kraanwater te gebruik noudat water onder uit die damme geput word?

A: Kraanwater bly ’n veilige bron van drinkwater solank dit aan die nasionale vereistes vir waterstandaarde voldoen. Aangesien die water onder in damme gewoonlik van ’n swakker gehalte is as gevolg van die deeltjies wat konsentreer en afsak, verg dit ekstra inspanning en sorg om hierdie water te onttrek en te behandel – wat die verantwoordelikheid van die Stad Kaapstad bly. Volledige drinkwatertoetse word weekliks by dame, boorgate, behandelingsfabrieke en aangewysde krane namens ons gedoen, en behandeling word daarvolgens aangepas.

Kaapstad se watergehaltewebwerf verskaf inligting oor die kwaliteit van die stad se water. Gedurende wateronderbrekings sal pype egter leegloop en bestaan daar ’n kans dat grondwater by krake in die pype sal insypel. Wanneer die krane dus weer oopgedraai word, behoort die water nie sommer goedsmoeds gedrink te word nie. Basiese behandelingsmetodes, soos om water te kook, word op plekke aanbeveel waar wateronderbrekings in krane plaasgevind het. Dit is die stad se verantwoordelikheid om ons te waarsku as die watergehalte verander of as sekere woonbuurte probleme ervaar.

V: Wat van gebottelde en fonteinwater?

A: Gebottelde water is gewoonlik een van die veiligste opsies. As jy wil seker maak dat die gebottelde water getoets is, kan jy kyk of daar ’n SANBWA-etiket – die Suid-Afrikaanse Nasionale Vereniging vir Gebottelde Water – op die bottel is. SANBWA toets en bevestig dat vervaardigers aan gesondheidstandaarde voldoen. Nog ’n waterbron wat deur baie inwoners gebruik word, is die fonteinwater van die ikoniese Nuweland- en Muizenberg-fonteine.

Hierdie fonteine vorm nie deel van die Kaapstad se waterstelsel nie en word dus nie gereeld deur die owerhede getoets nie. Belangegroepe mag die water van tyd tot tyd toets en op die oomblik drink baie mense daarvan sonder dat dit behandel is. Uiteindelik is die gereelde drink van hierdie onbehandelde water egter jou keuse en doen jy dit op eie risiko.

Lees ook: 5 waterbesparende produkte onder R150

V: Waarom moet ek nie direk uit my reënwatertenk drink nie?

A: Alhoewel suiwer reënwater skoon genoeg is om te drink, is die water wat in jou reënwatertenk opgevang word, afkomstig van jou dak en geute en bevat dit waarskynlik voël- of rotmis sowel as blare en stof vol chemikalieë van lugbesoedeling. Hierdie water moet gesuiwer en ontsmet word voordat dit gedrink kan word.

V: Hoekom mag ek nie onbehandelde boorgat- of putwater drink nie?

A: Dit is gewoonlik veilig om grondwater buite stede te drink, maar kom ons aanvaar eerder dat alle boorgat- en putwater in Kaapstad behandel moet word voordat dit as drinkwater gebruik kan word. Tipiese probleme in Kaapse grondwater is hoë yster- en/of hoë soutvlakke, sowel as mikrobes van oorvol of lekkende afvalwaterstelsels en van tuisgemaakte puttoilette waar daar eenvoudig ’n gat in die grond gegrawe word.

Let daarop dat ’n Dag Zero-situasie tot die onklaarraking van ons sanitasiestelsel kan lei en dat jou bure mag besluit om hul eie puttoilette te grawe. Na gelang van hoe lank die Dag Zero-scenario voortduur, kan daar ’n groeiende gevaar van rioolbesmetting ontstaan. Maak dus seker dat jy ’n behoorlike mikrobiese behandelingsmetode gebruik. Water uit strome en vleilande behoort met dieselfde versigtigheid behandel te word.

V: Wat is die maklikste manier om water drinkbaar te maak?

A: In die eerste plek moet jy seker maak dat die water sonder mikrobes (bakterieë, virusse en protosoë) is om diarree-epidemies te voorkom. Chemikalieë wat in die water opgelos is (soos nitrate), hou ’n minder ernstige gesondheidsgevaar in indien dit net vir ’n beperkte tyd gedrink word. Mense met ’n swak immuunstelsel, babas en siekes behoort so ver moontlik gebottelde of kraanwater te drink.

Die eenvoudigste en veiligste manier waarop jy die mikrobiese veiligheid van drinkwater kan verseker, is deur dit te kook. Water moet minstens drie minute lank kook om te verseker dat alle mikrobes vernietig is. Onthou, as jy ná Dag Zero plaasvervangende bronne gebruik, is hierdie behandeling slegs noodsaaklik vir water wat jy drink of in kos gebruik.

V: Watter ander metodes kan ek gebruik?

A: Daar is baie maniere om water te behandel en die verskillende metodes se doeltreffendheid wissel aansienlik. Soms word ’n kombinasie van metodes aanbeveel vir waterbronne met ’n hoë risiko vir mikrobiese sowel as chemiese besmetting (soos grondwater, rivier- en vleilandwater).

V: Hoe bewaar ek my drinkwater?

A: Dit is noodsaaklik dat drinkwater veilig bewaar word sodat dit nie weer besmet raak nie. Bewaar enige drinkwater in duidelik gemerkte, skoon (steriele) plastiek-/glas-/vlekvryestaal-houers. Jy kan ’n bababottel-ontsmetmiddel gebruik om jou houers te steriliseer. Bêre dit dan op ’n koel, donker plek om enige mikrobiese of algegroei te voorkom. Ons beveel aan dat jy ’n voedselgraadplastiek gebruik soos aangetoon deur die klassifikasiesyfer in die pyltjiedriehoek op die verpakking.

Voedselgraad beteken dat jou water nie met verloop van tyd met skadelike bisfenol A (BFA) besmet sal word nie. BFA-vrye plastiek is dié wat die syfers 1, 2, 4 en 5 bevat. Maak seker dat jy jou skoon water met ’n deksel verseël sodat niks kan inkom nie. Was jou hande voordat jy dit hanteer, sowel as enige beker of tregter wat jy gebruik om water uit jou skoon houer te skep of te skink.

Uit: Times Live

FOTO: iStock/laflor

LEES OOK:

10 goed wat jy moet weet oor die hergebruik van gryswater

10 van die beste tuinplante wat min water vra

13 maklike maniere om by die huis water te bespaar

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 waterlose geregte waaraan jou gesin sal smul

Hierdie gesinsvriendelike resepte word sonder water voorberei

Close