×
Skakel na Engels

Beroemde ouers deel hul verantwoordelike benaderings tot ouerskap

Van David en Victoria Beckham tot Mila Kunis en Ashton Kutcher. Deur Naomi Gordon

Selebs mag ongekende rykdom en ’n weelderige leefstyl geniet, maar dit beteken nie noodwendig dat hulle hul kinders met oordaad grootmaak nie. Trouens, baie bekende mense is net so vasbeslote soos ons gewone sterflinge om hul sterk werk-etiek aan hul spruite oor te dra en die waarde van geld by hulle tuis te bring sodat hulle nie bederf raak nie. 

Gordon en Tana Ramsay

Die seleb-sjef Gordon Ramsay beweer dat geld nog nooit sy grootste doel in die lewe was nie, en dit word weerspieël in die manier waarop hy en Tana hul vier kinders grootmaak. Nie net word sy kinders selde toegelaat om in sy restaurante te eet nie, hulle moet ook vir lief neem met ekonomiese klas terwyl hy en sy vrou in besigheidsklas vlieg.

“Hulle sit nie by ons in eersteklas nie,” het Gordon aan The Telegraph in Brittanje gesê. “Hulle het nog nie naastenby hard genoeg gewerk om dit te bekostig nie. Wil jy vir my sê dat hulle op daardie ouderdom, so klein soos hulle is, eersteklas moet vlieg? Beslis nie. Ons is baie streng daaroor.”

“Ek het my g** afgewerk om so naby die vlieënier te sit en ’n mens waardeer dit meer as jy daarvoor gewerk het.” Gordon het ook laat blyk dat hy nie sy hele fortuin aan sy kinders gaan nalaat nie en bygevoeg: “Dit gaan definitief nie na hulle toe nie, nie omdat ek gemeen is nie; dit is om hulle nie te bederf nie. Die enigste ding waaroor ek en Tana ooreengekom het, is dat hulle ʼn 25%-deposito op ’n woonstel sal kry, maar nie die hele woonstel nie.

“Ek was ontsettend gelukkig om hierdie loopbaan die afgelope 15 jaar in die VSA te hê. Ek het ʼn fortuin daarmee gemaak en ek was baie gelukkig; daarom respekteer ek alles wat ek het.”

David en Victoria Beckham

David het verklap dat hy en Victoria ’n verfrissende, nugter benadering tot ouerskap volg – veral met hul oudste seun, Brooklyn. In ’n onderhoud met James Corden op sy Late Late Show in die VSA het die voormalige sokkerspeler erken dat hy bekommerd was dat die destyds 14-jarige Brooklyn nie die waarde van geld verstaan nie. Hy en Victoria het hom dus verplig om ’n naweekwerk by hul plaaslike koffiewinkel te kry.

“Jy weet hoe kinders is; dan wil hulle nuwe tekkies hê, dan wil hulle nuwe sokkerstewels hê,” het David verduidelik. “Dit het ’n punt bereik waar hy 14 geword het en ek het besluit: As hy iets wil hê, moet hy dit met sy eie geld verdien.”

Daarna het hy laat val dat Victoria hom verplig het om Brooklyn na sy eerste afspraak in ’n restaurant in New York te vergesel, net om ’n ogie oor hom te hou. As dít sy voete nie plat op die aarde hou nie, weet ons wraggies nie …

Mila Kunis en Ashton Kutcher

Die plat-op-die-aarde Hollywood-paartjie Mila en Ashton is vasbeslote om nie “varke groot te maak nie” – soos Mila dit so welsprekend stel – en het verklap dat hulle vanjaar nie vir hul twee kleingoed gaan Kersgeskenke koop nie.

Arme bloedjies …

Mila verduidelik dat Wyatt, nou drie, en Dimitri, wat oor ’n paar maande een word, verlede Kersfees tot in die afgrond bederf is deur hul grootouers, in so ’n mate dat Wyatt nie “die een geskenk” kon waardeer nie.

“Van nou af is ons tradisie geen geskenke vir die kinders nie,” het die Black Swan-ster aan ET in die VSA gesê. “Ons stel dit vanjaar in, want terwyl die kinders jonger as een is, maak dit nie regtig saak nie. Verlede Kersfees was Wyatt twee en dit was net te veel. Ons het niks vir haar gegee nie – dit was die oupas en oumas. Die kind waardeer nie meer die een geskenk nie. Hulle weet nie eens meer wat hulle verwag nie; hulle verwag net ’n spul goed.”

Vanjaar het Mila haar welmenende ouers en skoonouers gevra om “een geskenk” te kies.

“Andersins sal ons ’n liefdadigheidskenking aanvaar, vir die Kinderhospitaal [van Los Angeles] of ’n troeteldier of net wat jy wil,” het die Bad Moms-ster bygevoeg. “Dit is ons nuwe tradisie.”

Nigella Lawson

Die kosskrywer Nigella is vasbeslote dat haar kinders haar sterk werk-etiek gaan navolg, en sy sê dat sy nie al haar rykdom aan hulle gaan nalaat nie.

“[Dis belangrik om te weet] dat jy moet werk om geld te verdien,” het die TV-persoonlikheid aan My Weekly in die VK gesê. “Ek voel baie sterk daaroor dat my kinders geen finansiële sekuriteit moet hê nie. Dit is baie sleg vir mense om nie te moet geld verdien nie.”

Nigella het bygevoeg dat haar destydse man, Charles Saatchi, nie soos sy voel nie, en gesê: “Ek en Charles verskil hieroor, want hy glo dat jy geld aan jou kinders moet kan bemaak. Ons sal maar net moet aanvaar dat ons daaroor verskil.” 

Nigella het haar uitlatings later (via The Telegraph in die VK) verduidelik: “Natuurlik is ek nie van plan om my kinders sonder ’n heenkome te laat nie – hierdie storie kom van ’n opmerking wat ek gemaak het oor my oortuigings dat ’n mens moet werk om die waarde van geld te verstaan.”

“Ek het nog altyd gesê dat wanneer my kinders klaar is met universiteit of opleiding, hulle hulself sal moet onderhou, nes ek gedoen het, maar ek het nog nooit die besonderhede van my testament met enige iemand bespreek nie.”

Die ster het twee kinders; die 22-jarige Cosima en 20-jarige seun Bruno uit haar eerste huwelik met die joernalis John Diamond.

Simon Cowell en Lauren Silverman

Die musiekmagnaat Simon het voorheen gesê dat sy fortuin van £225 miljoen eerder na ’n liefdadigheidsorganisasie as na sy seun sal gaan. Die 53-jarige X Factor-baas – wat ’n driejarige seuntjie, Eric, by sy vriendin Lauren het – het dit so aan The Mirror in Brittanje gestel: “Ek gaan my geld aan iemand nalaat. ’n Liefdadigheidsorganisasie, waarskynlik – kinders en honde. Ek glo nie daaraan dat goed van een geslag na die volgende moet gaan nie.”

Hy het bygevoeg: “Jou nalatenskap behoort te wees dat jy genoeg mense ’n geleentheid gegee het sodat hulle iets kon bereik, dat jy hulle jou tyd gegee het, dat jy dit wat jy weet, met hulle gedeel het.”

Elton John en David Furnish

Elton en sy man, David Furnish, se twee seuns het dalk wêreldberoemde peetouers – dink maar Lady Gaga – maar die sanger wil nie hê dat sy kinders “met ’n goue lepel” in die mond moet grootword nie.

“Natuurlik wil ek my seuns in ’n goeie finansiële staat laat, maar dis ’n onding om hulle ’n goue lepel te gee,” het hy aan The Mirror in Brittanje gesê. “Dit ruïneer hul lewe. Ek weet, die seuns lei die ongelooflikste lewe, hulle is nie normale kinders nie, en ek probeer nie voorgee dat hulle is nie. Maar daar moet ’n sweem van normaliteit wees, ’n respek vir geld, respek vir werk.”

Davina McCall en Matthew Robertson 

Die TV-aanbieder Davina McCall en haar man, Matthew, is van plan om al hul geld uit te gee sodat hul kinders nie alles erf nie. Dit is haar wens dat haar dogters op hul eie voete moet kan staan en onafhanklik wees, het die ster aan The Sun in Brittanje vertel. “Ek het onlangs in ’n artikel gelees dat dogters van werkende ma’s uitgaan en self ’n wonderlike werk-etiek het.”

“Ek kyk nou na my dogters en het baie mooi aan hulle verduidelik dat hulle niks geld gaan erf nie. Ek en Matthew is van plan om elke pennie uit te gee! Ons sal hulle op wonderlike vakansies neem, en hul gesinne met wonderlike vakansies bederf, maar hulle moet op hulle eie twee voete staan.”

Uit: Good Housekeeping UK

FOTO’S: Gallo Images/Getty Images

LEES OOK:

3 dinge wat jy dalk nie oor ouerskap geweet het nie

10 dinge wat tieners self behoort te kan doen

Hoekom dit belangrik is om vir kinders “nee” te sê

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
In die Januarie-uitgawe

Van die opwindende stories wat jy in ons uitgawe vir die feestyd sal kry

Close