×
Skakel na Engels

Banting vir beginners

Alles wat jy wou weet, maar te besig was om jou toebroodjie te geniet om te vra. Deur Leah van Devente

1. Wat presies is Banting?

Banting is ’n lae-koolhidraat-hoë-vet-dieet (LKHV) wat na William Banting genoem is, Hy was die eerste mens wat dit gedoen het. Prof. Tim Noakes het dit gewild gemaak in sy boek Die kosrevolusie. Die idee is dat dié manier van eet jou liggaam sover kry om vet vir energie te verbrand eerder as koolhidrate.

2. Is Banting dus net nog ’n hoë-proteïendieet soos die Atkins-dieet?

Nee. Dis ’n algemene wanpersepsie. Die fokus is daarop om meer vet in jou dieet in te neem en minder koolhidrate. Jou proteïeninname moet matig wees.

Lees: Die lae-koolhidraat-hoë-vet-dieet

3. Almal sê ek hoef nie kos te weeg nie en dat ek soveel kan eet as wat ek wil. Is dit waar?

Solank jy die regte soorte vet (meestal dierevet) en die minimum koolhidrate (vermy enige iets met ’n koolhidraatinhoud van meer as 5 g per 100 g; suikerige kos is taboe) eet, kan jy eet tot jy vol is. Maar gebruik jou gesonde verstand en moenie ooreet nie! Moenie meer as 80 g vleis per maaltyd eet nie.

4. Watter verhouding groente, vette en proteïen moet ek probeer volg?

Dis ingewikkeld, maar die praktiese reël is 50/50 vleis/groente. Jou vet moet daarby ingesluit wees. Vet onderdruk jou aptyt. Jy sal kan agterkom of jy genoeg eet deur te kyk hoe gou ná ’n maaltyd jy weer honger is. As jy ontbyt eet en weer voor middagete honger is, moet jy meer vet by jou ontbyt insluit. Die ideaal is om nie meer as twee keer per dag te eet nie, maar dit sal ’n rukkie neem om daaraan gewoond te raak.

Lees: 5 eiervrye Banting-ontbyte

5. Hoe is ek veronderstel om te weet wat ek mag en nie mag eet nie?

Natuurlik: Volg net die groen, oranje en rooi lyste in Die kosrevolusie. Items op die groen lys bevat minder as 5% koolhidrate per porsie; items op die oranje lys bevat minder as 25 g koolhidrate per porsie; en items op die rooi lys is taboe. Dié webwerwe is ook nuttig: Low Carb is Lekker, Real Meal Revolution, No Bun Please, Biltong, Butter and Bacon en Diet Doctor.

6. Ek hoor oral van ketose – dit klink soos ’n siekte! Wat is dit?

Vir Banters is dit ’n bietjie soos om Nirvana te bereik! As jy koolhidrate vermy en genoeg vet eet, gaan jou liggaam in ’n toestand van ketose in. Hier is ’n eenvoudige verduideliking: Wanneer jou liggaam nie koolhidrate inkry nie, begin dit vet vir energie verbrand.

Dié proses skep ketone in die liggaam. Ketone is grootliks aanduiders van vetmetabolisme pleks van glukosemetabolisme in jou liggaam – solank jy nie ondergewig is nie, is dit goed! Om dié toestand van ketose te bereik moet jy sowat 50 g of minder koolhidrate per dag eet. Onthou, dis nie noodsaaklik om ketose te bereik nie; ’n minder streng vorm van Banting kan genoeg vir jou wees.

7. Hoe weet ek of ek ketose bereik het?

’n Ketose-moniteringstoestel (of Ketone-stafies) kan oombliklik vir jou sê of jy in ketose is. Koop dit hier.

Lees: 5 belangrike resultate van ’n Banting-studie

8. Wat is die beste alkohol om te drink?

Alkohol word nie aangemoedig terwyl jy met Banting besig is nie omdat dit steeds leë kilojoules bevat en waarskynlik jou gewigsverlies sal vertraag. As jy iets wil drink – en kom ons wees realisties; jy sal soms wil – wees dan slim oor wat jy kies.

Sterk drank (vodka, rum, jenewer, tequila, Ierse whiskey, Skotse whisky, brandewyn en konjak) bevat oor die algemeen nie koolhidrate nie, en droë wyn en vonkelwyn is oukei. Wees net versigtig oor waarmee jy dit meng – onthou, geen suiker nie!

9. Is dit waar dat jy stadiger gewig verloor wanneer jy suiwelprodukte eet?

Party mense is sensitiewer vir suiwel as ander. As jy ’n plato in jou gewigsverlies bereik, probeer dit uitsny en jy behoort weer te begin gewig verloor.

Laai die 10 gebooie van beginner-Banting uit Die kosrevolusie hier af.

FOTO: iStock/PeopleImages

LEES OOK:

Banting vir beginners

Die lae-koolhidraat-hoë-vet-dieet

5 eiervrye Banting-ontbyte

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Oefen op kantoor: Kry ’n plat magie

Jy hoef nie eens van jou lessenaar af op te staan om dié oefening te doen nie. Dit teiken jou...

Close