×
Skakel na Engels

Altyd aanlyn is nie altyd goed nie

Alles gebeur aanlyn, nie waar nie? Maar dalk is dit goed om herinner te word aan die feit dat altyd aanlyn is nie altyd goed nie, nie vir jou kreatiwiteit, jou verhoudings of jou gesondheid nie.
aanlyn

Alles gebeur aanlyn, nie waar nie? Jy lees dan nou dié artikel, of hoe? En as jy nie aanlyn is nie, gaan die wêreld immers by jou verby, reg?  Maar dalk is dit goed om herinner te word aan die feit dat altyd aanlyn is nie altyd goed nie, nie vir jou kreatiwiteit, jou verhoudings of jou gesondheid nie.

Dalk is die tyd ryp om jou breinkrag elders in te span, jou oë van die skerm voor jou weg te draai en weer bewus te word van die (werklike) wêreld om jou. Om ’n glimlag (ja, ’n régte glimlag, nie ’n emoji nie) met iemand te deel. Dalk is die tyd ryp om, wel, weer jou tyd jou eie te maak en weer aandag te gee aan ’n eens vergete stokperdjie. Dalk is die tyd ryp om jou staat van wéés, eerder as jou Facebook-status, op datum te bring, om af te skakel van die wêreld op die skerm voor jou en in te skakel by die werklikheid.

Wanneer ons minder fokus op Instagram, Facebook, Twitter, Pinterest en al die blogs wat ons so slaafs navolg, herontdek ons dalk net ons eie kreatiwiteit wat mettertyd te midde van al die aanlyn idees in die slag gebly het. Daarmee wil ’n mens nie sê dat aanlyn idees nie goeie idees is nie, dis net nie jou eie idees nie. Jeff Stephens (www.topshelfblogging.com), ’n enterpreneur en skrywer, sê dat om ander se idees slaafs na te volg is ’n algemene fout wat ons eie kreatiwiteit inboet, aangesien ’n oormatige inname van inligting jou kreatiwiteit beperk, omdat jy eindelose keuses moet maak (dis utputtend!) en jou aandag konstant onderbreek word.

Al die tyd wat ons op sosiale media deurbring maak ons ironies genoeg minder sosiaal en selfs onbewus van die mense in ons fisieke wêreld. Volgens CMX, ’n organisasie wat hom beywer vir die skep van ’n wêreldwye gemeenskap van gegradueerdes, is dit voordelig om werklike gemeenskappe en netwerke te skep, aangesien dit beter verbintenisse, respek en terugvoer as in gemeenskappe aanlyn verseker.

Luidens ’n artikel deur Amy E. Mark en Ian Janssen wat in die Journal Of Public Health verskyn hetis te veel tyd voor jou rekenaar nie net sleg vir jou oë nie, dit maak jou ook vatbaar vir metaboliese sindroom (oorgewig, hoë bloeddruk, hoë cholesterol, ens.). Dis nie soseer die feit dat jy op jou rekenaar of tablet besig is nie, maar die feit dat jy stil sit terwyl jy dit doen. 

Waarom dan nie vir ’n wyle van Facebook-foto’s, Instagram-oomblikke en video’s-wat-jy-móét-sien vergeet nie? Maak weer jou tyd jou eie en raak sommer aktief ook – ter wille van jou gesondheid en sodat jy dié dinge kan geniet wat vroeër vir jou belangrik was, soos ’n lekker beker koffie saam met die persoon voor jou, ’n (regte!) boek deur jou gunsteling-skrywer, of ’n uitgerekte, verfrissende stappie op die strand.

FOTO: iStock/Ivanko_Brnjakovic

LEES OOK:

Slimfoonverslawing

5 dinge wat jy nooit aanlyn moet doen nie

Hoekom dokters nie van selfdiagnosering via die internet hou nie

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Is jy straatslim wanneer dit by sosiale media kom?

Ons lewe in ’n era van sosiale netwerke, maar doen jy genoeg om jouself aanlyn te beskerm? Deur Lucy Kehoe

Close