×
Skakel na Engels

Alles wat ouers van die gevaarlike nuwe “deodorant-uitdaging” moet weet

Hierdie gevaarlike nuwe gier is besig om soos ’n veldbrand op sosiale media te versprei. Deur Katie Jones
deodorant

 

’n Bekommerde ma het ander ouers gewaarsku oor ’n gevaarlike nuwe gier wat kinders met lelike brandmerke op hul vel laat.

Dit staan as die “deodorant-uitdaging” bekend en dit behels dat kinders hulself afneem waar hulle ’n blikkie deodorant ’n paar sentimeter van hul vel af hou en dit dan vir so lank as moontlik op een plek spuit.

Gedurende ’n onderhoud met die Britse TV-program This Morning het die 12-jarige Kaitlyn Stanley vertel hoe sy haar eie arm met ’n blikkie deodorantsproei gebrand het omdat “dit baie cool gelyk het”.

“My vriendin het daarmee begin,” het Kaitlyn aan die aanbieder van dié program, Rylan Clarke-Neil, vertel. “Jy spuit dit en dan dit word so wit en dit lyk regtig cool, so toe probeer ek dit ook.” 

Toe die aanbieder vra of sy besef het dat sy haar vel beskadig, het Kaitlyn “nee” geantwoord en gesê sy “weet nie” hoe sy voel oor hoe haar arm nóú lyk nie.

Die Britse dokter en TV-aanbieder Dr. Ranj het verduidelik wat die gevolge is wanneer jy aërosols op jou vel spuit en het benadruk dat dié uitdaging “ernstige skade” kan doen.

“Die deodorant koel die vel baie, baie vinnig af sodat jy eintlik vriesbrand opdoen,” het hy gesê. “Dit beskadig die vel wat beteken jy kry nie net seer nie, maar dit beskadig ook die vel se beskermingslaag wat jou aan infeksie blootstel en die pigmentasie van die vel kan verander.”

Dr. Raj het ook gesê: “As die pigment beskadig is, moet jy ekstraversigtig wees, want dit verhoog jou kans op velkanker later.”

Die ma van dié meisie het egter al voor die TV-onderhoud begin om ander ouers te waarsku deur ’n foto van haar kind se brandwonde op Facebook te deel.

“Die ‘deodorant-uitdaging’ is blykbaar die nuutste gier onder kinders van Bodmin College,” het Sara op Facebook geskryf.

Nog ’n plasing sê: “Neem asseblief kennis. Daar is ’n nuwe tendens onder die kinders waar hulle deodorant op hul lyf spuit en aanhou totdat dit die vel brand.”

“Waarsku asseblief jou kinders om dit nie te doen nie, want dit veroorsaak baie pyn en kan hulle selfs in die hospitaal laat beland. Deel dit asseblief om ander mense te waarsku.”

Die “deodorant-uitdaging” volg kort ná die “sout-en-ys-uitdaging” wat vroeër vanjaar die ronde gedoen het en wat talle kinders met erge brandwonde gelaat het. En die nuwe uitdaging is besig om net so vinnig soos die vorige een op sosiale media te versprei.

FOTO: iStock/michalPuchala

Van Good Housekeeping USA

LEES OOK:

Die nuwe aanlyn “speletjie” waarvan elke ouer móét weet: Blue Whale 

8 veluitslae op kinders waarvan ouers moet weet 

Hoe om met kinders oor die dood te praat

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
WAARSKUWING: Moenie die slagoffer van hierdie vals “Woolworths”-opname word nie

Met al die tyd wat ons op die internet deurbring, sal ons een of ander tyd ’n bedrogspul op sekere...

Close