×
Skakel na Engels

Alles wat jy van menstruasiekoppies moet weet

Dis beter vir jou liggaam én jou beursie! Deur Helen Wallace
menstruasiekoppie

Menstruasiekoppies raak al hoe gewilder onder vroue van die 21ste eeu. Ek het ’n paar maande gelede die groot skuif gemaak, en ek dink nie ek sal ooit weer iets anders gebruik nie. Ondanks wat baie mense dalk dink, is dié produkte nie net vir tawwe feministe nie. Dis vir enigeen geskik, vanuit ’n fisieke én finansiële oogpunt. Maar wat maak dit beter as tampons of doekies? 

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Beter vir jou liggaam

Menstruasiekoppies word van mediese silikoon gemaak, wat beteken dis veilig om te gebruik en sal heel waarskynlik nie enige allergiese reaksies veroorsaak nie. Hoewel doekies en tampons al jare lank vroue se voorkeur geniet, bevat dit chemikalieë en bleikmiddels wat sleg vir vaginale gesondheid kan wees en, in die geval van sanitêre doekies, ongemaklik kan wees om te dra – veral in die warm somermaande.

Menstruasiekoppies is egter – mits dit reg ingesit word – gemaklik om te gebruik, hoef slegs elke agt uur vervang te word en sal nie toestande soos toksieseskoksindroom (TSS) veroorsaak, wat met tampons verband hou nie.

Lees: Maandstonde-verlof kan dalk ’n werklikheid word

Beter vir jou beursie

Sanitêre produkte is nie goedkoop nie. Ons bestee elke jaar honderde rande daaraan, net om dit vir ’n paar uur te gebruik en dan weg te gooi. Menstruasiekoppies kan sowat 10 jaar hou en as jy dit goed oppas, kan jy ongeveer R3 000 oor ’n tydperk van vyf jaar spaar. Dink net wat jy alles met daardie ekstra geldjie kan doen!

Beter vir die planeet

Beskou jy jouself as ’n “groene”? Dan sal die skuif van doekies en tampons na ’n menstruasiekoppie jou gewete sus. Tampons en doekies lê ons vullingsterreine vol en kan dekades neem om te ontbind. As jy vir vyf jaar ’n menstruasiekoppie gebruik, sal jy keer dat sowat 1 200 konvensionele sanitêre produkte daar opeindig, wat hierdie alternatief een maak wat net so goed vir die omgewing is as wat dit vir jou is.

Lees: Antwoorde op jou lastigste vrae oor maandstondes

Waar begin ’n mens?

Om van doekies of tampons na menstruasiekoppies te verander kan nogal angswekkend wees, en dit kan jou ’n siklus of twee neem om die in- en uithaal te bemeester. Dit is dus raadsaam om aan die begin dun doekies (panty liners) te dra totdat jy dit onder die knie het. Voordat jy jou koppie gebruik, en ook ná elke siklus, moet dit vir twee minute in water gekook word om dit te steriliseer. Om die koppie in te sit vou jy dit in die helfte – dit sal dan “oopwip” sodra dit in is en indien dit in die regte posisie is. Daar is verskeie aanlyn tutoriale wat jou met wenke en tegnieke sal help.

Baie vroue is bang om dit in openbare toilette te vervang en om te mors, veral vroue wie se vloei swaar is. Hierdie koppies is egter vir selfs die swaarste vloei ontwerp en dis hoogs onwaarskynlik dat jy dit binne agt uur sal moet vervang.

Menstruasiekoppies is iets om aan gewoond te raak, maar dit kan die beste besluit wees wat jy vir jou, jou liggam, jou geldsake én die planeet neem. Dis nou een gier wat ons almal behoort te volg!

FOTO: iStock/Eziutka

LEES OOK:

5 wenke om met jou menstruele hoofpyne klaar te speel

Maandstonde-bestande onderklere is hier

Weet jy wat is in jou tampons?

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Daar is ’n rede waarom jy ekstra moeg is gedurende jou maandstonde

Nee, dis nie net jou vebeelding nie ...

Close