×
Skakel na Engels

Crème brûlées met rabarber en vla

  • 20 min
  • 50 min
  • 6
  • Easy
FavoriteLoadingAdd to My Recipe Book

Resep Bestanddele

VIR DIE COMPOTE

  • 350 g rabarber, punte afgesny en in 2 cm-stukke gesny
  • 75 g strooisuiker
  • 1 e water
  • 2 t mielieblom

VIR DIE VLA

  • 125 g strooisuiker, plus 9 t om oor te sprinkel
  • 3 e mielieblom
  • 300 ml laevetmelk
  • 3 groot eiergele
  • 400 ml slagroom
  • 1 vanieljepeul, gehalveer en die saadjies uitgeskraap 

Resep Aanwysings

    1. Om die compote te maak, verhit die rabarber, suiker en water oor matige hitte in ’n groot kastrol. Roer vir sowat 10 minute totdat die vrugte baie sag is. Verwyder van die hitte. Skep 2 e van die vrugtestroop af en meng dit met die mielieblom in ’n beker. Giet die gestoofde vrugte en die mielieblommengsel in ’n voedselverwerker (of gebruik ’n staafmenger) en zirts tot glad. Giet terug in die kastrol en laat vir 2 minute kook. Skep onderin 6 ramekins van 125 ml tot 150 ml. Verkoel.
    2. Meng intussen die suiker, mielieblom en 4 e melk met ’n ballonklitser in ’n middelslagbak om ’n gladde pasta te maak. Klits die eiergele by tot gemeng. Giet die orige melk en room in ’n kleefvrye kastrol saam met die vanieljepeul en -saad. Bring tot kookpunt totdat die eerste paar borrels vorm. Verwyder van die hitte.
    3. Giet die warm melk stadig by die eiermengsel en klits tot gemeng. Verwyder die vanieljepeul. Giet die mengsel in ’n skoon kastrol, laat oor ’n lae hitte kook en roer met ’n houtlepel vir sowat 15 minute totdat die mengsel so dik soos jogurt is. Die temperatuur moet hoog genoeg wees om die eiers en mielieblom te laat kook en verdik, maar nie so hoog dat die eiers roereiers raak nie. Pas die hitte dus gedurig aan. As die eiers wel begin skif, klits die mengsel met ’n ballonklitser tot glad.
    4. Skep in die ramekins en maak die bokant met die agterkant van ’n lepel glad. Laat vir 15 minute afkoel en verkoel onbedek vir ’n uur tot geset. Sprinkel 1½ t suiker oor elkeen. Vir die beste resultaat, karamelliseer die bolaag met ’n blaasvlam of sit die ramekins onder ’n warm rooster, maar hou ’n ogie daaroor. Die vla sal warm en sag raak. Laat dit dus vir ’n paar minute afkoel en plaas dit dan vir 20 minute in die yskas om te set.

    WERK VOORUIT: Vries oorskiet-eierwitte vir tot 12 maande (skryf die datum op die houer). Jy kan dit sommer gebruik om ons engelringkoek met witsjokoladeversiersel te maak

    WENK: As jy nie rabarber in die hande kan kry nie, gebruik 350 g aarbeie. In stap 1, roer oor ’n matige hitte vir sowat 3 minute en laat vir 1 minuut kook nadat jy die puree terug in die kastrol geplaas het.

    ELKE PORSIE: Sowat 1 630 kJ, 17 g vet (10 g versadigde vet), 53 g koolhidrate (45 g totale suiker), 6 g proteïen, 1 g vesel.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief