×

Brosgebraaide aartappels, geroosterde sitrusgroente, botterskorsie-en-krulkoolgebak & spoggerige spruite

  • 8
  • Easy
FavoriteLoadingAdd to My Recipe Book

Resep Bestanddele

Brosgebraaide aartappels

Moenie die aartappels aanvanklik te lank kook nie – dit moet net sag genoeg wees sodat jy met ’n vurk merke daarop kan skraap.

  • 2,5 kg melerige aartappels, geskik vir oondbraai
  • 8 e eendvet of olyfolie
  • 1 knoffelbol, in huisies gebreek (met skil aan)
  • 3 lourierblare
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Geroosterde sitrusgroente

’n Pragtige, kleurryke bygereg propvol heilsaamheid.

  • 4 middelslag-wortels
  • 4 middelslag-witwortels
  • 2 rooi-uie, geskil
  • 400 g rou beet
  • 2 e olyfolie
  • 1 e korrelmosterd
  • 3 clementines, met die skil en in kwarte gesny, of sny 1 lemoen in 8 wiggies
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Botterskorsie-en-krulkoolgebak

’n Ongewone en behaaglike bygereg wat jy vooraf kan maak en wat enige geroosterde vleisgereg sal komplementeer.

  • 1 middelslag-botterskorsie
  • 200 g krulkool, gesnipper
  • 100 g botter, plus ekstra om te smeer
  • 100 g gewone meel
  • 200 ml witwyn
  • 750 ml melk
  • 1½ e Engelse mosterd
  • 2 tot 3 takkies tiemie, blare gestroop
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Vir die krummels

  • 50 g vars wit- of bruinbroodkrummels
  • 2 takkies tiemie, blare gestroop
  • ½ e olyfolie

Spoggerige spruite

Dolcelatte-kaas is geskik vir vegetariërs en die granaatpitte lyk nie net mooi nie, maar is ook ’n heerlike, vars verrassing!

  • 50 g botter
  • 2 salotte, fyn opgesny
  • 500 g Brusselse spruite
  • 75 tot 100 g dolcelatte- of ander bloukaas, na smaak
  • varsgemaalde swartpeper
  • 4 e granaatpitte

Resep Aanwysings

    BROSGEBRAAIDE AARTAPPELS
    1. Voorverhit die oond tot 190 °C. Skil die aartappels en sny dit in ewe groot stukke (sowat 5 cm). Plaas dit in ’n groot kastrol,  bedek met koue water en bring tot kookpunt oor hoë hitte. Wanneer die water kook, dreineer die aartappels in ’n vergiettes en laat dit droog stoom totdat dit koel genoeg is om aan te vat.
    2. Plaas die vet of olie in ’n roosterpan wat groot genoeg is sodat al die aartappels in ’n enkellaag daarin kan pas. Verhit die pan vir 10 minute in die oond.
    3. Skraap intussen die aartappels met ’n vurk om strepe daarop te vorm.
    4. Haal die warm vet versigtig uit die oond. Voeg die aartappels, knoffel, lourierblare en heelwat sout en peper by. Draai die aartappels om dit met die olie of vet te bedek. Rooster vir 1 uur tot goudkleurig en bedruip dit af en toe. Sit dit in ’n warm opdienbak voor.

    ELKE PORSIE: 1 450 kJ, 6 g proteïen, 12 g vet (4 g versadig), 52 g koolhidrate (2 g totale suiker), 5 g vesel.

    WERK VOORUIT: Berei dieresep tot aan die einde van stap 3 tot ’n dag vooraf. (Jy hoef egter nog nie die vet of olie te verhit nie.) Plaas die aartappels in ’n bak, bedek en verkoel. Vir opdiening, voorverhit die oond en verhit olie of vet vir 10 minute. Voltooi die resep.

    GEROOSTERDE SITRUSGROENTE

    1. Voorverhit die oond tot 190 °C. Skil die wortels en witwortels, en sny dit oorlangs in kwarte of sesdes, na gelang van die grootte. (Sny dit korter as jy verkies.) Plaas dit in ’n groot roosterpan. Sny elke ui deur die kern in 6 wiggies. Voeg dit by die wortels.
    2. Trek rubberhandskoene aan om te keer dat jou hande vlek wanneer jy die beet skil. Sny dit in soortgelyke wiggies as die uie. Voeg by die groente en meng dit met die olie, mosterd, clementine- of lemoenwiggies en sout en peper.
    3. Rooster vir 1¼ uur totdat die groente sag en gekaramelliseer is; roer dit af en toe. Skep dit in ’n groot verhitte opdienbak en sit voor.

    ELKE PORSIE: 630 kJ, 3 g proteïen, 4 g vet (1 g versadig), 21 g koolhidrate (15 g totale suiker), 9 g vesel.

    WERK VOORUIT: Berei die resep tot aan die einde van stap 2 tot 3 uur vooraf. Voltooi die resep vir opdiening.

    BOTTERSKORSIE-EN-KRULKOOLGEBAK

    1. Bring ’n groot kastrol soutwater tot kookpunt. Skil intussen die botterskorsie en sny die punte af. Sny die nek van die botterskorsie net bo die bol af. Sny dié nekdeel oorlangs middeldeur en sny dan elke helfte in 5 mm-halfmane. Sny nou die skorsiebol oorlangs middeldeur. Skep die pitte uit en gooi dit weg. Sny die vlees in soortgelyke snye as die nekdeel. Plaas eenkant.
    2. Kook die krulkool in die kookwater vir 3 tot 4 minute tot net sag. Skep dit met ’n gaatjieslepel in ’n vergiettes wat in ’n bak staan; plaas eenkant. Plaas die botterskorsiestukke in die kookwater en kook vir 4 tot 5 minute tot net sag. Dreineer.
    3. Smelt die botter in die leë kastrol, roer die meel by en laat vir 30 sekondes kook terwyl jy roer. Verwyder van die hitte en roer die wyn geleidelik by, gevolg deur die melk. Plaas weer oor die hitte en roer terwyl jy dit laat kook totdat dit dik en glad is. Haal die sous van die hitte af en roer die mosterd, tiemie en sout en peper by. Meng die bestanddele vir die krummellaag saam met sout en peper in ’n klein bakkie. Plaas eenkant.
    4. Voorverhit die oond tot 190 °C. Smeer ’n oondvaste opdienskottel. Druk oortollige vog uit die krulkool uit.
    5. Skep een derde van die sous op die bodem van die voorbereide skottel en skep die helfte van die botterskorsie in ’n eweredige laag boop. Sprinkel die helfte van die krulkool oor. Herhaal die lae weer en eindig met ’n laag sous. Sprinkel die krummellaag bo-oor en bedek met foelie.
    6. Bak vir 45 minute in die oond, haal die foelie af en bak vir nog 20 tot 30 minute tot goudkleurig en vuurwarm. Sit voor.

    ELKE PORSIE: 1 100 kJ, 7 g proteïen, 14 g vet (8 g versadig), 23 g koolhidrate (7 g totale suiker), 3 g vesel.

    WERK VOORUIT: Berei die resep tot aan die einde van stap 5 tot ’n dag vooraf, maar hou die broodkrummelmengsel apart. Bedek en verkoel albei apart. Vir opdiening, strooi die krummels oor die gereg, bedek weer met foelie en voltooi die resep.

    SPOGGERIGE SPRUITE

    1. Bring ’n middelslagkastrol water tot kookpunt. Verhit intussen die botter in ’n groot, diep pan en braai die salotte vir 5 minute tot sag.
    2. Kook die spruite in die kookwater vir 3 tot 5 minute tot net sag. Dreineer goed.
    3. Verhoog die hitte onder die salotpan en voeg die spruite by. Braai vir 3 tot 5 minute – draai dit af en toe – totdat die spruite goudkleurig raak. Verwyder die pan van die hitte, roer die dolcelatte by en geur met swartpeper. Skep dit in ’n verhitte opdienbak en sprinkel die granaatpitte bo-oor. Sit dadelik voor.

    ELKE PORSIE: 510 kJ, 4 g proteïen, 9 g vet (5 g versadig), 4 g koolhidrate (3 g totale suiker), 4 g vesel.

    WERK VOORUIT: Berei die resep tot aan die einde van stap 2 tot ’n dag vooraf, maar koel die spruite vinnig onder koue lopende water af. Dreineer goed. Skep die afgekoelde salotte en spruite in ’n bak, bedek en verkoel. Vir opdiening, braai die mengsel in ’n groot, diep pan oor mediumhoë hitte totdat die spruite goudbruin raak. Voltooi die resep.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief