×

Brioche-broodsous en spesery-bosbessiesous

  • 10 min
  • 10 min
  • 8
  • Easy
FavoriteLoadingAdd to My Recipe Book

Resep Bestanddele

BRIOCHE-BROODSOUS

Brioche verleen ’n dekadente rykheid aan hierdie besonderse broodsous. Sit dit saam met gebraaide kalkoen of hoender voor.

  • 600 ml volroommelk
  • 6 heel naeltjies
  • 2 lourierblare
  • 225 g briochebrood of -rolletjies
  • ½ t neutmuskaat, plus ekstra om oor te sprinkel
  • sout en varsgemaalde swartpeper

SPESERY-BOSBESSIESOUS

Dis so maklik om te maak en werk goed saam met kalkoen, Kersfeesham, ’n kaasbord en verskeie oorskietgeregte.

  • 500 g bosbessies, vars of bevrore
  • 1 t gemengde speserye
  • 1½ balletjies gemmerstukkonfyt, fyngekap
  • 75 g loperige heuning
  • 4 tot 5 e ligte, sagte bruinsuiker, na smaak

Resep Aanwysings

    BRIOCHE-BROODSOUS
    1. Verhit die melk, naeltjies en lourierblare in ’n middelslagkastrol totdat die vloeistof kokend warm is. (Daar moet klein borreltjies om die rand van die kastrol wees.) Verwyder die kastrol van die hitte en plaas vir 15 minute eenkant om die geur te laat ontwikkel.
    2. Zirts intussen die brioche in ’n voedselverwerker om krummels te vorm.
    3. Haal die lourierblare en naeltjies uit die melk en gooi dit weg. Plaas die kastrol weer oor lae hitte en roer die krummels, neutmuskaat en heelwat sout en peper by. Bring tot kookpunt en laat prut vir 1 tot 2 minute tot verdik.
    4. Geur na smaak. (Voeg ekstra melk by as jy dit dunner wil hê.) Giet die sous in ’n opdienskottel, sprinkel ekstra neutmuskaat oor en sit voor.

    ELKE PORSIE: 610 kJ, 5 g proteïen, 6 g vet (3 g versadig), 18 g koolhidrate (6 g totale suiker), 0,5 g vesel.

    WERK VOORUIT: Maak die resep tot aan die einde van stap 3 tot ’n dag vooraf. Giet dit in ’n houer en plaas kleefplastiek op die oppervlak van die sous. Bedek die houer en verkoel, of vries vir tot ’n maand. Om voor te sit laat die sous in die yskas ontdooi indien gevries. Warm dit in ’n kastrol op met ekstra melk om dit los te maak. Voltooi die resep.

     SPESERY-BOSBESSIESOUS

    1. Plaas al die bestanddele in ’n middelslagkastrol saam met 75 ml water. Bring tot kookpunt en laat dan vir 10 minute prut, of totdat die meeste van die bessies gebars het. Roer af en toe. Skep dit in ’n hittebestande opdienbak en laat heeltemal afkoel – die sous sal verdik namate dit afkoel.
    2. Verkoel tot benodig.

    ELKE PORSIE: 320 kJ, 0 g proteïen, 0 g vet (0 g versadig), 17 g koolhidrate (17 g totale suiker), 3 g vesel.

    WERK VOORUIT: Maak die sous, bedek en verkoel tot 5 dae vooraf. Of vries dit in ’n verseëlde houer vir tot ’n maand. Vir opdiening, laat die sous in die yskas ontdooi as dit gevries is.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief