×
Skakel na Engels

Benny se Kersfees-beeslende

  • Easy
FavoriteLoadingAdd to My Recipe Book

Resep Bestanddele

BEESLENDE MET ’N KRUIESOUS

  • 800g tot 1,2 kg beeslende, reggesny, maar met ’n gesonde stukkie vet daarop (sowat 1 cm)
  • 3 e vars groen kruie van jou keuse (soos tiemie, roosmaryn, marjolein), grofgekap
  • 2 tot 3 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 1 vars rooi brandrissie, fyngekap
  • 2 e Maille Dijon- of korrelmosterd
  • seesout swartpeper

RATATOUILLE

Die groente moet in brunoise-stukkies gesny word. (Brunoise is ’n presisiesnit waar kos eers in julienne-repies gesny word, met 90  ̊ gedraai en dan in blokkies gesny word sodat jy klein blokkies met gelyke kante van minder as 3 mm kry.)

  • 1 ui, gekap
  • 1 knoffelhuisie, fyngedruk
  • 1 t tamatiepasta
  • 1 eiervrug, in blokkies gesny
  • 1 groen soetrissie, in blokkies gesny
  • 1 tamatie, gekap
  • sout en swartpeper

GEROOMDE SPINASIE MET BRANDRISSIE EN GEMAALDE NEUTE

  • 50 ml olyfolie
  • ½ ui, fyngekap
  • 1 knoffelhuisie, fyngedruk
  • 1 bossie spinasie, gewas en gekap
  • 150 ml water
  • 2 rooi brandrissies, gekap
  • 1 e grondboontjiebotter
  • 50 g kasjoeneute, fyngemaal
  • 100 ml room
  • sout en peper

DIEPGEBRAAIDE PAP

  • 400 ml groente-aftreksel
  • 1 k mieliemeel
  • 50 g mieliepitte, van die stronk afgesny
  • 1 e botter
  • 1 e pietersielie, gekap
  • meel
  • 2 eiers, geklits
  • broodkrummels
  • sonneblomolie vir diepbraai

Resep Aanwysings

    BEESLENDE MET ’N KRUIESOUS

    1. Geur en seël die vleis in ’n warm pan en skep dit in ’n oondroosterpan.
    2. Meng die kruie met die knoffel, brandrissie en mosterd. Smeer dit mildelik oor die beeslende en rooster dit by 180 °C vir 35 minute (vir tussen rou en halfgaar, of langer as jy dit halfgaar tot gaar verkies). Bedruip dit gedurende die gaarmaaktyd mosterd-en- kruiemengsel en vleissappe onderin die roosterpan.
    3. Verwyder die vleis uit die oond en plaas dit op ’n kruiebed. Laat dit vir 10 tot 15 minute rus terwyl jy die bygeregte maak. Nadat dit gerus het, sny die beeslende in dun skyfies of steaks en sit dit saam met die bygeregte voor.

    RATATOUILLE

    1. Soteer die ui en knoffel in ’n warm pan.
    2. Voeg die tamatiepasta by en laat vir 1 minuut kook.
    3. Voeg die eiervrug en soetrissie by en braai vir 5 minute.
    4. Voeg die tamatie by en braai vir 1 minuut.
    5. Geur en verwyder van die hitte.

    GEROOMDE SPINASIE MET BRANDRISSIE EN GEMAALDE NEUTE

    1. Verhit die olie in ’n groot kastrol, voeg die ui en knoffel by en laat dit vir 2 minute sweet.
    2. Voeg die spinasie en water by en laat dit vir 7 tot 10 minute afkook.
    3. Voeg die brandrissie, grondboontjiebotter, neute en room by, meng en laat dit vir 3 tot 5 minute prut totdat dit goed gebind het.
    4. Proe vir geur en hou die spinasie eenkant.

    DIEPGEBRAAIDE PAP

    1. Bring die aftreksel in ’n klein kastrol tot kookpunt.
    2. Voeg die botter en die helfte van die mieliemeel by en meng dit met ’n klitser tot glad en sonder sigbare klonte.
    3. Roer die oorblywende mieliemeel stadig by totdat die mengsel glad is en begin verdik. Voeg die mielies by en verlaag die hitte.
    4. Bedek die pot en laat dit vir 10 minute prut (roer aanhoudend om te keer dat die mengsel aanbrand of aan die bodem vassit). Voeg die pietersielie by en meng goed.
    5. Skep die mengsel in ’n gesmeerde vlak bakplaat uit en sprei dit eweredig in ’n 2 cm-laag uit. Laat dit afkoel voordat jy dit in reghoekige blokkies sny.
    6. Bestuif die blokkies pap met meel, doop dit in die eier en dan in broodkrummels. Diepbraai dit by 160 °C tot goudbruin – sowat 5 tot 8 minute.
    7. Dreineer oortollige  olie met kombuispapier.
Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief