×
Skakel na Engels

Beesvleis-en-bierpastei

  • 6
  • Easy
FavoriteLoadingAdd to My Recipe Book

Resep Bestanddele

  • 900 g stowebeesvleis soos dikrib, in 2,5 cmblokkies gesny
  • 4 e koekmeel
  • 2 e kookolie
  • 450 ml biefaftreksel
  • 200 g gerookte, gekapte spek
  • 5 salotte, elkeen in kwarte gesny
  • 200 g knopiesampioene, grotes gehalveer
  • ’n paar takkies vars tiemie
  • 400 ml bier
VIR DIE DEEG
  • 250 g koekmeel, plus ekstra om te bestuif
  • 125 g verkoelde botter, in blokkies gesny
  • 1½ t Engelse mosterdpoeier
  • 100 g beleë cheddar, gerasper
  • 1 middelslag-eier, liggies geklits

Resep Aanwysings

    1. Druk die vleis met kombuispapier droog, plaas in ’n bak en meng die meel deur. Verhit van die olie in ’n groot kastrol (met ’n deksel) oor medium-hoë hitte en braai die vleis bruin. Braai net ’n bietjie vleis op ’n slag en gebruik telkens van die olie soos nodig. Skep die vleis in ’n bak en hou eenkant. Giet van die aftreksel in die kastrol en skraap die bodem met ’n houtlepel om enige taai stukkies los te maak. Voeg die vloeistof by die vleis.
    2. Plaas die leë kastrol oor lae tot matige hitte en braai die spek, salotte en sampioene daarin vir 10 minute of totdat die groente begin sag raak. Plaas die vleis weer in die kastrol (saam met die vloeistof). Voeg die tiemie, bier en orige aftreksel by. Bring tot kookpunt, verlaag die hitte, sit die deksel op en laat liggies vir 1½ uur prut of totdat die vleis sag is.
    3. Maak die deeg: Plaas die meel, botter en mosterdpoeier in ’n voedselverwerker en pols totdat dit soos fyn broodkrummels lyk. Voeg die kaas by en meng totdat dit weer soos fyn krummels lyk. Voeg 1½ e koue water by en meng totdat dit ’n deeg begin vorm. Keer dit op jou werkoppervlak uit, druk dit in ’n sirkel saam, draai in kleefplastiek toe en verkoel tot nodig. Jy kan ook die botter met jou vingers in die meel en mosterdpoeier invryf en dan die kaas byroer. Meng die water met ’n tafelmes by en druk die deeg saam.
    4. Wanneer die vleismengsel gereed is, verwyder die takkies tiemie en geur na smaak met sout en peper.
    5. Voorverhit die oond tot 200 ˚C. Skep die vleis in ’n ruwe oondvaste 2 ℓ-opdienskottel. Strooi ’n bietjie meel op jou werkoppervlak en rol die deeg uit totdat dit groot genoeg is om die skottel te bedek. Verf die skottel se rande met eier en bedek die vulsel met die deeg. Sny ’n stoomgaatjie in die deeg, sny die deegrande netjies en druk dit aan die skottel se rand vas. Verf met die eier. Sny vorms uit die orige deeg as jy wil. (Onthou om dit met die eier te glaseer.)
    6. Bak vir 25 tot 30 minute of totdat die deeg ’n goudbruin kleur is. Sit met ertjies en ander seisoenale groente voor as jy wil.
       
Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief