×
Skakel na Engels

Alison Botha praat oor haar nuwe fliek en oor haar lewe nou

Bykans 22 jaar gelede is Alison Botha ontvoer, verkrag, haar ingewande uitgesny en haar keel afgesny. Dis merkwaardig dat sy dit oorleef het. Sy praat met Goeie Huishouding se redakteur, Sally Emery, oor die nuwe, bekroonde dokudrama oor haar aanval en oorlewing, Alison: The Movie, oor haar lewe nou en die lesse wat ons ons seuns en dogters behoort te leer.
alison botha

 

Alison Botha is ’n merkwaardige vrou. Op 18 Desember 1994 was sy 27 jaar oud toe Frans du Toit en Theuns Kruger haar wreed aangeval en verkrag het. Alison is meer as 30 keer gesteek en sy het 16 snye aan haar keel gehad. Terwyl sy haar ingewande met haar een hand binnegehou en haar kop met haar ander hand bo gehou het, het sy voortgestrompel om hulp te kry. Die storie het die wêreld se aandag aangegryp, en so ook haar merkwaardige wil om te leef.

In die pas uitgereikte dokudrama oor haar lewe vertel die Kaapstadse regisseur Uga Carlini Alison se verhaal weer met onderhoude en toneelspel.

Alison, wat nou ’n motiveringspreker is, is die ma van twee seuns van 12 en nege jaar oud. Sy gesels met Goeie Huishouding se redakteur, Sally Emery, oor die fliek, haar lewe soos dit nou is, haar alledaagse helde en die lesse wat ons ons kinders behoort te leer.

V: Die fliek is ongelooflik goed ontvang. Wat beteken dit vir jou? 

Alison: Ek is heeltemal oorweldig deur die positiewe reaksie – en so dankbaar dat mense dit ondersteun. Dit is bemoedigend om te sien dat mense verstaan dat dit veel meer as ’n verkragting- of misdaadstorie is – dit is inspirerend. Ek weet dat Uga Carlini, die regisseur, regtig gesukkel het om die idee van hierdie fliek te “verkoop” in die tyd wat sy finansiering probeer kry het, asook mense om die projek te ondersteun. Dit is dus regtig wonderlik om nou te sien dat die reaksie presies is wat ons geglo het dit sou wees.

V: Hoe moeilik is dit om elke oggend wakker te word – selfs nou, meer as 20 jaar ná die aanval – en te streef om oor hierdie euwel te triomfeer?

Alison: Dit was lank gelede – en ná heelwat sielsondersoeking en baie terapie – dat ek besluit het ek gaan nie elke slegte bui of moeilike tyd aan die aanval toeskryf nie. Dis waar dat dit nooit sal weggaan nie en dat daar tye sal wees wat dit my steeds kwel, soos wanneer ek die moontlikheid van parool vir my twee aanvallers moet hanteer. Maar ek het slegte dae soos almal, en ek het dit voor die aanval ook gehad. Deur te glo dat elke stryd aan die aanval toegeskryf kan word, kry dit meer mag as wat dit verdien, en dis wat ek nie wil doen nie.

V: Hoeveel insette kon jy vir die fliek lewer? Hoe moeilik was dit om daardie tyd te herleef in die onderhoude wat in die dokumentêr gebruik is?

Alison: Ek het heelwat insette gelewer toe ons bespreek het wat die fliek gaan oordra en oor die voorkoms en gevoel van die fliek, maar nie waar dit by die vervaardiging kom en die goed waarvan ek nie veel weet nie. Ek het uiteraard al die onderhoude gedoen, en dit was alles ek wat my eie gedagtes uitgespreek het. Dit was nie regtig vir my so moeilik nie omdat ek gewoond daaraan is om te praat oor wat met my gebeur het. Dit was vir my moeiliker om oor meer persoonlike goed te praat wat ek gewoonlik verkies om privaat te hou.

Unknown-2

V: Is jy tevrede met die resultaat? Hoe moeilik is dit vir jou om daarna te kyk?

Alison: Ja, ek dink die fliek is mooi gedoen en ek is trots op die eindresultaat. Dit ignoreer nie die drama nie, maar dit probeer ook nie om dit meer afgryslik te maak as wat dit hoef te wees nie. Ek hou van die sprokie-elemente en die idee dat dit ek is wat my storie vertel. Ek was bekommerd dat dit moeilik sou wees om na die hervoorstelling van die tonele te kyk – en dit was beslis nie aangenaam nie. Maar behalwe daarvoor kon ek ’n idee kry van wat ander dalk sou ervaar wanneer hulle my storie hoor – om dit in die derde persoon te sien. Ek was verbaas oor my wil om te oorleef en dit op so ’n kalm, vasbeslote manier.

V: Het jou seuns dit gesien – en sal jy toelaat dat hulle dit kyk?

Alison: Nee, hulle het dit nie gesien nie en sal dit eers later kyk – wanneer hulle miskien ’n bietjie ouer is – en net as hulle wil. Hoewel hulle albei weet wat met my gebeur het, glo ek dit sal traumaties wees om die tonele te sien waarvan hulle gehoor het en om hul ma in soveel pyn en so kwesbaar te sien.

V: Wat is die spesifieke boodskap wat jy sal wil hê dat mense wat die fliek sien saam met hulle neem?

Alison: Ek hoop mense sal boodskappe en lesse vind wat tot hulle spreek – daar is waarskynlik baie. Maar as daar een ding is wat ek hoop deurkom, is dit dat ons almal helde in ons eie stories is en dat ons nie die tradisionele “gelukkige einde” nodig het om ’n lewe te hê wat die moeite werd is en om te geniet nie. Ons probeer dikwels so hard om “beter te doen” en “meer te wees” terwyl ons eintlik baie goed vaar om te hanteer wat ook al in ’n spesifieke tyd in ons lewe gebeur. Ons hoef nie méér te wees nie – ons is genoeg.

V: Op jou webwerf het jy ’n petisie om te keer dat jou aanvallers parool kry. Hoekom is dit vir jou so belangrik?

Alison: Wanneer ek my aansoeke aan die onderskeie paroolrade voorlê (elke twee jaar), heg ek die huidige lys van handtekeninge (van die webwerf www.gopetitions.com) aan. Ek weet nie of dit vir die paroolrade ’n verskil maak nie – of hulle dit in ag neem nie – maar dit maak vir my saak. Dis nie net ek wat die amptenare smeek om nie hierdie twee mense vry te laat nie, dis meer as 20 000 ander mense – en daardie mense verteenwoordig die samelewing wat hulle nie terug wil hê nie.

V: Jy inspireer soveel vroue oor die wêreld heen. Watter vroue inspireer jou?

Alison: Daar is vele sterk, wonderlike vroue wat ek bewonder, maar my grootste invloed en inspirasie is my ma – vir haar wysheid, lewensmoed en geloof. Ek word ook geïnspireer deur al die ander enkelma’s wat daagliks die stryde stry wat daarmee saam kom of alleen vir kinders te sorg. Hulle is my regte heldinne – dié wat hul eie stryd stry, wat hulself dalk aan die slaap huil, maar steeds soggens opstaan en doen wat hul kinders nodig het.

V: Wat dink jy kan gedoen word, spesifiek in Suid-Afrika, om geweld teen vroue te beëindig?

Alison: O, ek wens daar was ’n maklike antwoord op hierdie vraag. Daar is dalk baie dinge wat gedoen kan word, maar ek dink dit moet begin by minder verdraagsaamheid oor wat gebeur. Ons raak nie meer ontsteld oor die statistieke nie. Ons hoor dit en is geskok, maar dis waar dit ophou. Ons dring aan op nuus oor verkragters en moordenaars – dis óns wat die koerante en tydskrifte koop wat stories oor die beroemde mense dra wat bekende vrouemishandelaars, verkragters en moordenaars is. Ons sê ons stem nie saam met wat hulle gedoen het nie, maar is nietemin gefassineer deur die aandag wat hulle kry. Ons dring nie aan op aksie vir die slagoffers nie. Ons hou nie die regering verantwoordbaar nie. Ons hou nie daarvan nie, maar ons dring nie op verandering aan nie. Dis tyd dat ons saamstaan en aandring dat meer gedoen word.

V: Watter lesse behoort ons aan ons dogters oor te dra?

Alison: Ek glo ouers en die onderwysstelsel moet meisies meer van hul eiewaarde, hul oneindige waarde leer, asook dat hulle waardig is om beskerm te word en goed vir hulself moet sorg. Geslagsgelykheid behoort nie meer iets te wees waarvoor hulle moet veg nie – dit moet iets wees wat hulle verstaan en verwag (en waarop hulle moet aandring, indien nodig) as die norm.

book-front-cover

Q: En ons seuns?

Alison: Die lesse aan ons seuns behoort dieselfde te wees. Dat hulle en meisies uniek is en dat albei ewe veel respek en beskerming behoort te ontvang en gewaardeer moet word. Ons leef ongelukkig steeds in ’n patriargale samelewing en ons seuns behoort aangemoedig te word om deel van die verandering te wees, om die voorbeeld vir ander te wees en om dapper genoeg te wees om hul portuurgroep oor ongepaste en afbrekende kommentaar, grappe en gedrag aan te spreek.

V: Hierdie aanval het jou lewenswyse op so baie maniere gedefinieer. Dink jy ooit aan hoe jou lewe sou wees as die aanval nooit plaasgevind het nie?

Alison: Dit is moeilik om my dit in te dink, maar ek weet dit sou my langer geneem het om in my potensiaal te glo – ek was iemand wat nie regtig in my eie vermoëns geglo het om “die verandering te wees wat ek in die wêreld wou sien nie”. Dit was ’n groot dryfkrag om ’n lewe met ’n doel te leef; ek is amper gedwing om te erken waartoe ek in staat is. Ek moet op soveel maniere dankbaar wees dat hierdie verskriklike ding gebeur het.

V: Jy lewer motiveringspraatjies oor die wêreld heen en verwys dikwels na jou ABC’s vir die lewe – Attitude, Belief en Choice. Kan jy ons ’n bietjie meer hieroor vertel?

Alison: Om gevra te word om feite oor my beproewing en herstel met ander te deel was bevorderlik vir die manier waarop ek dit hanteer het. Ek is op ’n manier gedwing om te kyk na watter lesse ek uit die hele ervaring geleer het – en uit my poging om my gehore iets te gee wat hulle in hul eie lewe en op hul eie stryde kan toepas, het ek my A, B, C-filosofie gevorm. Die grondbegrip wat ons moet aanvaar, is dat “ons nie altyd alle omstandighede kan beheer waarin ons ons bevind nie, maar dat ons ALTYD kan beheer hoe ons op hierdie omstandighede reageer.” Ons moet almal verantwoordelikheid neem vir die beheer wat ons oor die persoonlike hulpmiddels het wat ons tot ons beskikking het, ongeag wie ons is of waar ons onsself bevinc. Ons beheer elkeen ons A, B, C in enige situasie – ons ingesteldheid (Attitude) teenoor onsself, ons geloof (Belief) in ons eie potensiaal en ons keuses (Choices) in reaksie op wat die lewe aan ons toedeel. Ons het wesenlik beheer oor hoe ons reageer, ongeag wat gebeur of wat iemand anders kies om te doen.

V: Beskryf ’n dag in jou alledaagse lewe.

Alison: Ek dink my lewe bestaan deels uit [die feit dat ek ’n enkelma is] en deels uit [my rol as] motiveringspreker. Wanneer ek by die huis is, staan ek op, pak kosblikke, maak my seuns wakker en neem hulle skool toe. My oggend bestaan gewoonlik uit werk in my kantoor en ’n paar goed wat ek moet doen voordat ek die seuns by die skool gaan haal. Die middae word in beslag geneem deur hul sportoefeninge en huiswerk. Ons bring aande deur deur saam aandete te maak, speletjies te speel of TV te kyk. Wanneer ek êrens moet gaan praat, is my lewe baie anders. Ek bestee dikwels baie tyd om te reis na die plek waar ek gaan praat. Ek oornag dikwels op verskillende plekke en ek probeer om die ervaring van ’n hotel of gastehuis te geniet, wat altyd lekker is, al hou ek nie daarvan om weg van die huis te wees nie. Die dae waarop ek ’n voorlegging doen, het ’n spesiale soort energie – ek berei voor en raak gewoonlik senuagtig lank voordat ek op die verhoog moet wees. Ek voel altyd die senuwees en die waarderende verwagting van ‘n gehoor – dit raak my elke keer. Ek is absoluut DOL oor die gevoel om ’n gehoor se aandag te behou en dinge met hulle te deel wat potensiel van hulle se lewe en die manier waarop hulle dinge beskou, kan verander. Daarna word gewoonlik heelwat tyd aan vrae en antwoorde bestee, asook aan boekverkope en ondertekenings en die neem van hope foto’s – ’n teken van die tye met almal wat selfoonkameras het. Teen die tyd wat ek ’n geleentheid verlaat, voel ek fisiek gedreineer, maar emosioneel vervul.

V: Wat is volgende vir jou?

Alison: Ek hoop ek sal steeds uitnodigings kry om my praatjies te lewer – dit voed werklik my siel en is my hoofbron van inkomste. Ek sou wou hê dit moet meer eweredig deur die jaar versprei word sodat ek altyd beskikbaar kan wees vir mense wat my nooi. Ek glo ook die fliek sal internasionaal uitgereik word noudat die sukses daarvan in Suid-Afrika bewys is. Ek glo sterk daarin om oop te wees vir geleenthede wat jy jou nie kon indink nie. Ek wil dus nie regtig probeer dink wat volgende is totdat gebeur nie.

 

 

Hou onafhanklike rolprentteaterskedules dop vir vertoontye.

LEES OOK: Alison Botha: haar storie ná 20 jaar 

 

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief