×
Skakel na Engels

Aktiwiteitsmonitors

Hoekom sal jy jou foon gedurende oefening wil saamdra as jy beter gesondheidsdata van ’n slim, bekostigbare fiksheidsbandjie aan jou arm kan kry?

Dra jou monitor heeldag (en selfs heelnag) om ’n opsomming van jou aktiwiteite te kry sodat jy kan sien waar en hoe jy jou gesondheid kan verbeter.

Voor in die Modekoor

Fitbit Alta HR

Fitbit Alta HR R2 499

Die Alta HR kry dit reg om ’n leesbare vertoonskerm én ’n hartklopmonitor op sy smal bandjie in te pas. Die kombinasie van dié stylvolle ontwerp en Fitbit se reeks maklik uitruilbare bandjies (waaronder metaal- en leeropsies) maak dit ’n fantastiese fiksheidsbykomstigheid. Dis ideaal vir aktiwiteite wat gimtoerusting behels of soos joga, waar jou hartkloptempo verhoog selfs al is jou treëtelling laag. 

KENMERKE: Treë-/slaapmonitor, hartklopmonitor, foonboodskappe.

Sakpas Kopie

Xiaomi Mi Band Pulse

Xiaomi Mi Band Pulse R400

Xiaomi is ’n toonaangewende handelsmerk vir fone en monitors oorsee, maar dis nog relatief nuut in SA. Dié bandjie tel jou treë en monitor jou slaap en hartkloptempo. Die gebrek aan ’n skerm beteken jy moet die app op jou foon gebruik om jou vordering deur die dag dop te hou. Teen so ’n billike prys kan angstige beginners egter vir die hele gesin monitors koop! 

KENMERKE: Treë-/slaapmonitor, hartklopmonitor.

Toptegnologie

Samsung Geer Fit2

Samsung Geer Fit2 R3 299

Danksy talle toptegnologiese funksies, waaronder GPS, is dié monitor die naaste wat jy aan ’n volledige slimhorlosie sal kry. Die groot volkleurskerm is die indrukwekkendste van alles – dit bied hope terugvoering gedurende oefening en kan met verskeie horlosiegesiggies verpersoonlik word. Dit stoor ook musiek wat jy deur Bluetooth-oorfone kan luister. Dis egter ’n bietjie groot om mee te slaap. 

KENMERKE: Treë-/slaapmonitor, GPS, sportmonitor, hartklopmonitor, musiekkontrole, foonboodskappe.

Vir Gewigsverlies

TomTom Touch

TomTom Touch R1 699

Dié stijlvolle monitor vaar goed met die basiese funksies. Sy sportmodus monitor jou hartkloptempo en die kilojoules wat jy verbrand. Dit het ’n unieke eienskap vir gewigsverlies: Wanneer jy aan die voorste sensor raak, gee dit jou LMI (jou vet- en spiersamestelling) sodat jy doelwitte kan stel. Jy moet die monitor ongelukkig uit sy bandjie haal om dit te herlaai. 

KENMERKE: Treë-/slaapmonitor, hartklopmonitor, foonboodskappe.

Basiese Begin

Fitbit Charge 2

Fitbit Charge 2 R2 695

Dié monitor val in die middel van Fitbit se produkreeks, wat beteken dat jy baie basiese statistieke vir ’n paar aktiwiteite soos draf en gimoefeninge kry, asook die beste treëteller- en slaapmonitorfunksies wat dié handelsnaam bied. Die vertoonskerm is eenvoudig, maar kan deur die app verpersoonlik word en die monochrome beeld is ’n goeie opoffering in ruil vir ’n vyfdag-batterylewe. 

KENMERKE: Treë-/slaapmonitor, hartklopmonitor, sportmonitor, foonboodskappe.

Volledige Oefenplanne

Polar A360

Polar A360 R2 795

Die A360 se groot volkleurskerm kom nie naby Samsung se Gear Fit2 s’n nie en dit het nie ’n GPS of ’n verskeidenheid slimfoonagtige funksies nie, maar dis heeltemal waterbestand. Polar se ernstige sporttoewyding kom egter duidelik na vore in die gesofistikeerde en omvattende oefenprogramme waarmee dit kom, wat veral vir beginners nuttig is. Die oefenterugvoering is ook die volledigste van al die toestelle wat ons getoets het. 

KENMERKE: Treë-/slaapmonitor, sportmonitor, hartklopmonitor, waterbestand, foonboodskappe.

Buitelugavonturier

Garmin vivosmart HR+

Garmin vivosmart HR+ R3 899

Garmin was een van die heel eerste vervaardigers van aktiwiteitsmonitors en hul ervaring wys duidelik. Dit is die enigste monitor (in SA) wat ’n GPS het én heeltemal waterbestand is. Dit maak dit effens dikker as die ander bandjies. Die skerm is net te smal om foonboodskappe en oefenstatistieke maklik op te lees, maar dis steeds die beste toestel vir actieve buitelugmense. 

KENMERKE: Treë-/slaapmonitor, GPS, sportmonitor, hartklopmonitor, musiekkontrole, foonboodskappe.

 

Koop Wenke

VIR DIE JONGSPAN

Party vervaardigers soos Garmin maak nou monitortoestelle spesifiek vir kleiner kinders sodat ouers nuttige data oor hul kroos se onaktiewe, iPadgesentreerde leefstyl kan kry.

DIE VERSKIL

Sporthorlosies het GPS om afstand en veranderinge in hoogte akkuraat te meet, en bied gedetailleerde terugvoering gedurende oefening, maar dis te groot om in die bed te dra. Aktiwiteitsmonitors is kleiner en meer bekostigbaar. ’n Monitor sonder GPS gebruik jou lengte en treë om vas te stel hoe ver jy gedraf het, maar dit gaan nie weet as jy opbrand gehardloop het nie!

VERSNEL DIE PAS

Daar word ’n lig aan die onderkant van jou monitor deur jou vel uitgestraal en die polsende beweging van die bloed in jou are word deur sy sensor gemeet. Dis belangrik om jou verhoogde hartklop te meet, selfs terwyl jy nie beweeg nie, soos wanneer jy moeilike jogaposisies probeer behou of gimtoerusting gebruik.

IN DIEP WATERS

Min monitors is heeltemal waterdig, wat die keuse vir swemmers, branderplankryers en roeiers beperk maak. Hartklopsensors en GPS werk ook nie onder water nie.

SLAAPTYD

Volgens die nuutste navorsing is slaap ’n baie belangrike faktor in jou algehele gesondheid. Jou monitor kom outomaties agter wanneer jy slaap en dui aan hoe onrustig jy in die nag was.

FOONVRIENDELIK

Alle monitors is met Apple en Androidfone versoenbaar en gebruik Bluetooth en ’n aanvullende app. Die verskeie handelsmerke se apps het oor die jare baie verbeter. Jou appdata word in die wolk (cloud) gestoor om dit te bewaar, maar as jy van handelsmerk verander, sal jy al jou geskiedenisdata verloor.

KRY PUNTE

Die meeste toonaangewende mediesehulpskemas bied belonings as jy jou monitordata met hulle deel. Dit geld egter net sekere monitors. Besoek jou skema se webwerf vir ’n lys toestelle en die oefendoelwitte wat hulle vereis.

LEES OOK:

10 speelgoed wat jou kind sal help om fikser te word

4 speelse maniere om fiks te word

Raak só gemotiveerd vir oefening

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
3 maniere om jou gesin se gesondheid hierdie maand te verbeter

3 wenke vir beter gesondheid

Close