×
Skakel na Engels

9 onbekende fisieke simptome van depressie

Depressie is dalk ’n geestesiekte, maar dit kan ook liggaamlik manifesteer. Deur Catriona Harvey-Jenner
depressie

 

Dit is baie algemeen dat mense wat aan depressie ly ’n groot verskeidenheid fisieke kwale, wisselend van slaaploosheid tot intense slaapsug, ervaar. Dr. Ahmer Aziz, ’n dokter by AKEA Life in Engeland, vertel meer van hierdie fisieke manifestasies en waarom dit voorkom.

1. Moegheid

Intense moegheid is iets wat baie dikwels onder mense met depressie voorkom. “Jy ervaar ’n algemene gebrek aan energie of dryfkrag en selfs die kleinste takies maak jou doodmoeg,” sê dr. Aziz. Volgens hom kan dit wees omdat jy deur ’n konstante “onverklaarbare gevoel van hartseer, wanhoop of hopeloosheid” gedreineer word.

Hy voeg by dat hierdie moegheid kan vererger wanneer iemand ’n dapper front voorhou en wegsteek hoe hy of sy regtig voel.

2. Slaapsteuring

Die konstante moegheid wat jy ervaar, kan dikwels aan versteurde slaap gekoppel word. “Jy sukkel om aan die slaap te raak, en kry dikwels min of glad nie geslaap nie,” se die dokter. “Wanneer jy wel slaap, kan jy vind dat jy soggens sonder rede baie vroeg wakker word.”

Algemene redes hiervoor is gedagtes wat in jou kop rondmaal of omdat jy nie kan afskakel nie.

Soortgelyk: 7 kosse om beter te slaap

3. Foute

“Ons is meestal skerp en gefokus en oor die algemeen op en wakker,” sê dr. Aziz. Maar mense wat aan depressie ly, verduidelik hy, beleef dikwels dae wanneer hulle nie “by is” nie en meer foute maak. Die dokter skryf dit toe aan “swak konsentrasie of besluiteloosheid” as gevolg van die toestand.

4. ’n Swak dieet

Depressie gaan soms gepaard met ’n begeerte om te ooreet of om kos as troosmiddel te gebruik in ’n poging om beter te voel. Dr. Aziz waarsku egter dat dit tot gewigstoename kan lei, wat weer tot verdere gevoelens van minderwaardigheid en ’n swak selfbeeld kan bydra.

“Aan die ander kant kan jy vind dat jy onbewustelik te min eet en gewig verloor,” sê die dokter. Hy maan dat dit belangrik is om genoeg te eet om jou energie te gee wanneer jy depressief is.

5. ’n Laer libido

As jou libido sedert die aanvang van jou depressie skerp afgeneem het, hou dit waarskynlik verband met jou selfvertroue en selfbeeld. “Jy kan vind dat jou selfvertroue min is en dat jy ’n verlaagde selfbeeld en libido het,” sê dr. Aziz.

“Selfbeeld gaan oor die manier waarop jy oor jouself dink. Jy voel dalk ongemaklik oor hoe jy lyk en voel,” sê hy.

Soortgelyk: 9 tekens dat jy in ’n zombie-huwelik vasgevang is

6. Psigomotoriese vertraging

“Ander mense wys jou dalk daarop dat jy stadiger beweeg,” sê dr. Aziz. Dit staan bekend as psigomotoriese vertraging en is ’n algemene fisieke simptoom van depressie. “Dit kan ook jou spraak beïnvloed, met die gevolg dat jy stadiger praat,” sê die dokter.

7. Skete en pyne

Om aan skete te ly wat geen verklaarbare oorsaak het nie, is sorgwekkend genoeg iets wat baie depressiewe mense beleef. Dit is egter belangrik om enige ander moontlikhede te ondersoek voordat jy aanvaar dat dit inderdaad as gevolg van depressie is.

8. Rusteloosheid en onrustigheid

Die teenpool van psigomotoriese vertraging is ’n gevoel van konstante rusteloosheid. Mense kla dikwels dat hulle nie kan ontspan nie en angstig voel wanneer hulle onbenullige probleme moet hanteer, verduidelik dr. Aziz.

9. Spysverteringsprobleme

’n Omgekrapte maag is ’n algemene newe-effek van depressie. “Jy ly dalk aan onverklaarbare naarheid, diarree of selfs hardlywigheid,” sê die dokter. Dit kan toegeskryf word aan die verhouding tussen die brein en die ingewande wat gedurende depressiewe of angstige episodes besonder prominent is.

Indien jy enige van die bogenoemde probleme ervaar, is dit belangrik dat jy jou huisdokter gaan sien. 

Uit: Netdoctor UK

FOTO: iStock/martin-dm

LEES OOK:

5 wenke om ’n angsversteuring te herken – en hoe om dit te hanteer

6 dinge wat jou depressiewe tiener vir jou wil sê

Prins William praat openlik oor die verdriet nadat sy ma dood is

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
7 maniere om ’n geliefde met angs of depressie te help

Moenie vergeet dat hierdie toestande nie net jongmense met eksamens en middeljariges met beroepe, skuld en gesinstres raak nie. Deur...

Close