×
Skakel na Engels

9 gereelde instandhoudingsinspeksies wat elke motor nodig het

Basiese instandhouding verseker dat jou voertuig nie later probleme gee nie … Deur Caira-Lee Durand
instandhoudingsinspeksies

Hoeveel aandag skenk jy aan jou motor se instandhouding? Sommige van ons beskou die gereelde onderhoud van ons motor as tydrowend of ’n beslommernis, maar met ’n paar basiese en gereelde inspeksies gaan jy jou motor baie langer op die pad hou!

Doen hierdie basiese inspeksies om seker te maak dat jou motor op sy stukke bly:

1. Olievlak

Kontroleer die olievlak dikwels, soos wanneer jy brandstof ingooi. Dit behoort gedoen te word wanneer die enjin warm is, maar afgeskakel is en ’n minuut of twee gestaan het sodat die olie kan afsak. Verwyder en vee die oliepeilstok met ’n skoon lappie af voordat jy die vlak nagaan – dit behoort tussen die maksimum- en minimummerkies te wees.

Indien nodig moet jy dit met ’n goeie olie (gedeeltelik of volledig sintetiese olies is die beste) aanvul, maar maak seker dat jy dit nie oorvol maak nie, aangesien dit die enjin kan beskadig. Sommige voertuie het nie ’n gewone peilstok nie en maak gebruik van ’n elektroniese lesing wanneer die voertuig aangeskakel word – maak seker dat die olievlaklesing korrek is.

2. Olielekke

Kyk vir enige tekens van olie om en onder die enjin, ratkas en asse. Dit kan ’n klein probleempie soos ’n lekkende pakstuk of seël verklap, of kan op ’n groter probleem dui wat dringend aandag nodig het.

3. Koelmiddelvlak

’n Koelmiddel is noodsaaklik vir die werking van jou motorenjin. Maak seker dat jou koelmiddel te alle tye op die aanbevole vlak in die waterhouer langs die verkoeler gehou word, en toets vir lekke. Moet nooit op slegs water vir enjinverkoeling staatmaak nie – gebruik ’n koelmiddel van ’n goeie gehalte, gewoonlik bekend as “anti-freeze” of “summer coolant”, wat volgens die vervaardiger se aanbevole verhouding (gewoonlik 1 liter koelmiddel tot 3 liter water) aangemaak is.

Die koelmiddel voorkom dat jou water in koue temperature vries of begin kook wanneer die enjin warm word. Dit bied ook weerstand teen korrosie, roes en aanpaksels wat die doeltreffendheid van die verkoelstelsel verlaag. Die koelmiddelvlak in die waterhouer moet slegs nagegaan of gevul word wanneer die enjin koel is – die waterhouer- of verkoelerdop mag glad nie oopgemaak word wanneer die enjin warm is nie.

4. Verkoeler

Gaan die verkoeler vir sigbare lekke of blokkasies na. Indien die lugvloei verhinder word, sal die enjinkoelmiddel verhit. Indien nodig moet enige vuiligheid voor die verkoeler versigtig verwyder word. Die waaier behoort outomaties in te skop wanneer die voorafbepaalde enjintemperatuur bereik word. Indien dit nie gebeur nie en die enjin warm word, moet jy die waaier en die verkoelertermostaat by ’n professionele dienssentrum laat toets.

Lees: 10 maklike maniere om op jou motorversekering te bespaar

5. Remstelsel

Hou die remvloeistof op die korrekte vlak in die tenkie. Indien daar enige lekke rondom die tenk of enige van die remskywe of -tromme is, of indien die remme pla, moet jy die stelsel onmiddellik laat ondersoek. Ondersoek die remkussings en -skywe vir ernstige slytasie. 

6. Ander vlakke

Verskeie bykomende olie- en smeermiddelvlakke moet ook nagegaan word, waaronder dié van die kragstuur, koppelaar en ratkas. Na gelang van die soort voertuig kan sommige van hierdie items slegs by ’n dienssentrum nagegaan word.

7. Battery

Die meeste batterye is verseëlde, onderhoudvrye eenhede. Ondersoek die battery vir enige tekens van krake, lekke of korrosie op die klampe.

8. Waarskuwingsligte

Wanneer jy jou motor aansluit, behoort al die enjin-, verkoel- en  olievlak-, hitte-, battery-, rem- en aansluitingsliggies vir net ’n oomblik aan te gaan. Indien enige van die liggies aanbly, dui dit op ’n probleem. Om die saak te ignoreer sal dit nie laat weggaan nie, en dit kan tot aansienlike skade en groot herstelkoste lei.

9. Geskeduleerde dienste

Jou voertuig behoort gereeld gediens te word, gegrond op die vervaardiger se aanbevelings. Dit wissel tussen elke 5 000 km vir sommige van die ouer modelle tot elke 10 000, 15 000 of 20 000 km. Sommige voertuie het ’n aanboordaanwyser wat die diensinterval bepaal. Na gelang van bestuurstoestande kan dit tot 30 000 km wees.

Ongeag of die afstand bereik is of nie, behoort jou motor jaarliks gediens te word om te verseker dat al die smeermiddels en filters doeltreffend werk, aangesien hulle met verloop van tyd verweer. Moenie die aanbevole diensintervalle oorskry nie, want dit is daargestel om die optimale werkverrigting, veiligheid, doeltreffendheid en betroubaarheid van jou motor te verseker.

Gebruik ’n gerekende, professionele dienssentrum vir al jou voertuigbehoeftes, en maak seker dat hulle gehalte-vervangingsonderdele gebruik wat aan die oorspronklike vervaardiger se spesifikasies voldoen.

Uit: WOW

FOTO: iStock/PeopleImages

LEES OOK:

Die 10 bekostigbaarste motors in SA

 7 beproefde maniere om veilig in die donker te bestuur

10 gewoontes van ’n goeie bestuurder

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hoe werk ballonbetalings nou eintlik?

Baie motorkopers sit met verlammende skuld nadat hulle tot ’n ballonbetalingslening toegestem het. Deur Caira-Lee Durand

Close