×
Skakel na Engels

8 redes waarom jy eerder nie detoks-tee moet drink nie

Is jy in die versoeking om te “teetoks”? ’n Dokter verduidelik waarom ons dit liefs moet vermy … Deur Sophie Goddard
detoks-tee

Dr. Louise Newson, wat ’n privaatkliniek by Spire Parkway Hospital in Brittanje bestuur, vertel ons waarom dit so gevaarlik is – en waarom ons liefs daarvan moet wegbly. 

1. Elkeen is anders

… en daarom is dit so moeilik om te weet wat hierdie tees bevat. “Detoks-tees word nie gereguleer nie en hulle is nie almal dieselfde nie,” verduidelik Newson. “Sommiges is skadeloos, maar party bevat lakseermiddels soos senna wat jou kolon stimuleer om meer as gewoonlik saam te trek en sodoende water en afvalstowwe uit te forseer.”

Alhoewel senna jou tydelik slanker laat lyk (danksy die verlies van water), het dit geen uitwerking op werklike vetverlies nie, sê Newson, want die kalorieë van kosse is op hierdie punt reeds geabsorbeer.

Die probleem kom wanneer daar tussen veilige en waarskynlik onveilige tees onderskei moet word. “Oor die algemeen moet tee met senna beslis vermy word,” sê sy. “Senna moet slegs vir korttermynverligting van hardlywigheid gebruik word, maar baie van hierdie tees beveel aan dat dit weke aaneen gedrink word terwyl hardlywigheid nie eens ’n probleem is nie – en dit kan gevaarlik wees.”

2. Natuurlik beteken nie “veilig” nie

Natuurlik = gesond, nè? Nie noodwendig nie. “Die feit dat iets as ‘natuurlik’ geklassifiseer word, beteken nie dat dit veilig is om te eet of te drink nie,” verduidelik Newson. “Nie een van hierdie produkte is gereguleer nie en vervaardigers weet nie regtig watter uitwerking die gekombineerde bestanddele op die liggaam sal hê nie. En moenie die fout maak om beroemdes te glo wat adverteer dat hulle dit drink nie. “Dit is hoogs onwaarskynlik dat hulle dit self gebruik,” sê Newson.

3. Jou medikasie kan minder effektief wees

Van skildkliermedikasie tot antidepressante – dit blyk dat ’n koppie skynbaar onskadelike tee ’n ernstige uitwerking kan hê op medikasie wat ons reeds neem. “Lakseer-tees kan met sekere medikasies inmeng en dit oneffektief maak, wat ongelooflik gevaarlik is,” sê Newson. As jy onseker is, is dit altyd raadsaam om met jou huisdokter of mediese kenner te gesels. Eerder bang Jan as dooie Jan …

4 … wat beteken dat jy kan swanger raak

Net soos met ander medikasie was daar al baie berigte van detoks-tees wat die voorbehoedpil oneffektief maak, en volgens Newson kan ons gerus daarop ag slaan. “Wanneer jy aan diarree (ses tot agt waterige stoelgange binne 24 uur ) ly, is daar ’n groot moontlikheid dat die voorbehoedpil nie gewerk het nie aangesien dit nie behoorlik opgeneem is nie. Indien jy twyfel, kan jy jou huisdokter skakel om uit te vind wat jou te doen staan – jy sal dalk so gou moontlik ’n plaasvervangerpil moet neem.”

5. Slaapprobleme is algemeen

Danksy die meeste detoks-tees se matige tot hoë kafeïenvlakke (daar is bewyse dat kafeïen moontlik jou eetlus kan demp) kan jou slaappatroon beïnvloed word – veral as jy gewoonlik selde kafeïen drink. Ons stel voor dat jy in elk geval op jou kafeïeninname let – oor die algemeen is vier of vyf koppies koffie (gelykstaande aan ongeveer 400 mg kafeïen) per dag veilig, maar mense se toleransie verskil.

6. Jou liggaam gaan nie noodsaaklike voedingstowwe opneem nie

“Ironies genoeg begin baie mense detoks-tees drink omdat hulle ‘gesond’ wil wees en wil ‘detoks’, maar die lakseer-effek beteken dat kos nie behoorlik opgeneem word nie,” verduidelik Newson. “Om te gou ná ete toilet toe te gaan beteken dat die derms nie die geleentheid kry om kos op te neem nie, met die gevolg dat vitamiene en minerale ook nie deur die liggaam geabsorbeer word nie.” Die gevolg? Jou poging om “gesond” te wees het ongelukkig presies die teenoorgestelde uitwerking …

7. Spysverteringsprobleme is ook ’n moontlikheid

“As dokter sien ek baie pasiënte wat as tieners lakseermiddels misbruik het en later in hul lewe aan ernstige hardlywigheid ly,” sê Newson. “Dit neem nie lank voordat lakseermiddels probleme veroorsaak as jy dit onnodig gebruik nie. Buiten die effek wat dit op die chemikalieë in jou bloed (elektroliete) het, kan jou derms lui raak, wat beteken dat jy op die lange duur sal moet aanhou om lakseermiddels te gebruik en uiteindelik daarvan afhanklik raak.”

En wees versigtig vir enige iets wat na bewering jou “metabolisme versnel”, sê Newson. “Enige iets wat die metabolisme versnel, is gevaarlik, want wanneer jy dit ophou gebruik, kan dit die metabolisme weer vertraag,” verduidelik sy.

8. Jy gaan waarskynlik nie gewig verloor nie

“Soos reeds genoem, gaan detoks-tees jou nie regtig help om gewig te verloor nie – dit is meestal ’n kitsoplossing sonder blywende resultate,” sê Newson. “As jy régtig wil gewig verloor en jou gesondheid verbeter, gaan dit jou meer baat om jou dieet aan te pas deur jou inname van vars vrugte en groente te verhoog en gemorskos te vermy. Dit is ’n baie veiliger, gesonder manier van verslank. Vra jouself af of jy skaam voel oor die dieet wat jy volg (en byvoorbeeld nie met vriende daaroor wil gesels nie). Indien wel, is dit waarskynlik nie ’n dieet wat jy behoort te volg nie!”

Bron: Netdoctor UK

FOTO: iStock/vicuschka

LEES OOK:

15 voedingstrategieë om vinniger, maar veilig gewig te verloor

Het jy ’n ongesonde verhouding met kos?

8 gesondheidsfeite wat jy met jou dokter moet deel

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
7 redes hoekom jy nie in die nuwe jaar moet detoks nie

En wat jy in plaas daarvan kan doen ... Deur Laura William, fiksheidskenner

Close