×
Skakel na Engels

8 maklike gesondheidswenke vir mense met tipe 2-diabetes

Klein veranderinge kan ’n reuse-verskil maak. Deur Natalie Healey
tipe 2-diabetes

Tipe 2-diabetes kom voor wanneer jou liggaam nie meer die hoeveelheid suiker in jou bloed kan beheer nie. Indien dit nie behoorlik bestuur word nie, kan dit tot verskeie komplikasies lei insluitend hartsiektes, verlies van sig en senuweeskade.

Die aantal mense by wie hierdie toestand gediagnoseer word, het die afgelope dekade met 54% gestyg. En kenners waarsku dat tipe 2-diabetes vinnig besig is om een van die grootste gesondheidsgevare van ons tyd te word – met 12 miljoen mense wat gevaar loop om dié toestand te ontwikkel.

Dit is maklik om oorweldig te voel wanneer dit by jou gediagnoseer word, maar daar is hulp. Ons het Anshu Bhimbat, ’n apteker van Lloyds Pharmacy, uitgevra oor die beste maniere waarop jy saam met jou dokter kan werk om jou tipe 2-diabetes te beheer (en die toestand in sommige gevalle selfs “om te keer”). 

Hy sê: “Daar is ’n paar dinge wat jy kan doen om diabetes te help beheer en daagliks daarmee saam te leef. Klein leefstylveranderinge kan dit makliker maak om tipe 2-diabetes te beheer, die ontwikkeling vertraag en ’n gesonder leefstyl bevorder. In sommige gevalle kan dieetkundige veranderinge en gewigsverlies selfs help om tipe 2-diabete se insuliensensitiwiteit om te keer.”

Hier is ’n paar wenke wat hy aan pasiënte gee:

1. Sny jou koolhidrate

Koolhidrate is nie die vyand nie – ons het dit nodig om te oorleef. Maar die soort en hoeveelheid wat jy inneem, kan ’n verskil aan jou toestand maak. Volgens die Britse webwerf Diabetes UK kan jy die volgende doen om goeie koolhidrate by jou dieet in te sluit:

  • Kies volgraanbrood en volgraankosse.
  • Eet vrugte heel in plaas van in sapvorm. Om ’n appel met sy skil te eet sal byvoorbeeld meer vesel as ’n glas appelsap verskaf.
  • Probeer quinoa en koeskoes as ’n alternatief vir pasta.

Bhimbat sê: ” ’n Laekoolhidraatdieet word sterk aanbeveel vir mense wat met tipe 2-diabetes saamleef, aangesien dit die hoeveelheid insulien verlaag wat die liggaam moet produseer. Navorsing toon dat dit tipe 2-diabetes selfs in remissie kan laat gaan. ’n Verminderde koolhidraatinname tesame met ander gesonde leefstyl- en dieetveranderinge kan bloedsuikervlakke na ’n niediabetiese vlak verlaag.”

2. Gaan vir gereelde mediese ondersoeke

Die rede waarom dit so belangrik is om jou gesondheid gereeld deur jou dokter of plaaslike apteker te laat evalueer, is omdat tipe 2-diabetes jou ook meer vatbaar vir ander toestande maak.

“Aangesien mense met diabetes ’n groter gevaar kan loop om kardiovaskulêre siektes te ontwikkel, is dit belangrik om jou bloeddruk jaarliks te laat meet. Swak cholesterolbeheer kan ook tot kardiovaskulêre siektes lei. Deur jou gereeld te laat ondersoek, sal jy jou vlakke leer ken en toepaslike dieet- en leefstylveranderinge kan aanbring om ander toekomstige gesondheidskomplikasies te verminder,” sê Bhimbat.

Lees: 6 belangrike gesondheidskwessies wanneer jy ouer as 50 is

3. Raak vertroud met GI’s

Soos ons reeds genoem het, behoort niemand koolhidrate heeltemal uit sy of haar dieet weg te laat nie, maar dit is belangrik om te weet watter koolhidrate die grootste invloed op jou bloedsuiker uitoefen. Dit kom alles neer op iets wat ons die glisemiese indeks (GI) noem – ’n maatstaf wat aantoon watter kosse jou bloedsuiker skerp sal laat styg (en dis dié wat jy wil probeer vermy).

“Die GI meet die uitwerking wat kosse wat koolhidrate bevat op bloedglukosevlakke het. Waar moontlik, moet jy kosse met ’n hoë GI vermy aangesien dit beteken dat koolhidrate vinnig opgeneem word en tot ’n styging in bloedglukose kan lei. Hoë GI-kosse sluit witbrood, aartappels en sommige ontbytgrane in. Lae GI-kosse sluit patats, bone, lensies, hawermout en volgraanbrood in; probeer dus om hoë GI-kosse met lae GI-kosse te vervang.”

4. Kontroleer jou bloedsuiker gereeld

“Dit is belangrik om jou bloedglukosevlakke gereeld te monitor aangesien normale vlakke die risiko vir enige toekomstige komplikasies kan verlaag. Jou bloedglukoselesings behoort voor etes en 2 ure ná ’n ete geneem te word. Normale vlakke is 4 tot 7 mmol vóór en laer as 8,5 mmol ná maaltye,” sê Bhimbat.

5. Kry ’n fiksheidsaktiwiteit wat jy geniet

Nie almal hou van die gim nie, en ons verstaan dit. Maar oefening kan help om jou bloedsuikervlakke te verbeter, dus is dit die moeite werd om ’n aktiwiteit te kry wat jy geniet. Dit kan so eenvoudig wees soos om vir 10 minute te gaan stap teen ’n pas wat jou hart vinniger laat klop.

“Fisieke oefening kan jou help om ’n gesonde gewig te handhaaf, is goed vir jou hart en verlaag jou bloeddruk. Oefening is ook goed vir bloedglukosevlakke, want wanneer jy oefen, is jou spiere besig om glukose te gebruik, selfs sonder insulien. Dit gaan dalk ’n bietjie beplanning verg om gereelde oefening by jou daaglikse roetine in te pas, maar jy kan begin met net 10 minute se oefening ’n dag en dit stelselmatig meer maak.”

Lees: 8 gratis oefenvideo’s op YouTube wat jou lewe sal verander

6. Kyk mooi na jou voete

Maak vriende met jou plaaslike podiater (oftewel voetdokter), want voetsorg is ’n belangrike saak.

“Diabete is geneig om sensasie- en sirkulasieprobleme te ervaar, veral in dele soos hul voete. Om na jou voete te kyk is net so ’n noodsaaklike deel van jou daaglikse roetine as om jou bloedglukose en dieet te reguleer. As deel van jou daaglikse roetine moet jy jou voete dophou vir enige veranderinge, hul behoorlik was en afdroog (ook tussen die tone!) en ’n bevogtiger aanwend wat vir die hele voet geskik is.”

7. Handhaaf ’n gesonde gewig

Dit is ’n mite dat almal met tipe 2-diabetes oorgewig is. Maar om gewig te verloor (as dit wel nodig is) kan jou behoefte aan medikasie verlaag.

” ʼn Gebalanseerde dieet behoort heelwat groente en veselryke kosse in te sluit terwyl versadigde vette vermy te word. Om diabetes te hê beteken nie dat jy ’n suikervrye dieet moet volg nie. Klein porsies lekkernye wat af en toe en matig geniet word, sal nie jou gesondheid of beheer van diabetes op die lange duur affekteer nie.”

8. Gaan elke jaar vir ’n oogtoets

“Jaarlikse oogtoetse is noodsaaklik weens die risiko vir diabetiese retinopatie, ’n komplikasie wat ontstaan omdat hoë bloedsuikervlakke die agterkant van die oog beskadig. Gedurende die vroeë fase kan simptome ongemerk verbygaan, maar dit kan in die foto’s waargeneem word wat gedurende ’n diabetiese oogtoets geneem word,” verduidelik Bhimbat.

Bron: netdoctor

Foto: iStock/udra

LEES OOK:

Nuwe hoop vir mense met tipe 2-diabetes

10 dinge wat jy oor diabetes moet weet

5 wenke om diabetes beter te beheer

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
8 kosse wat jy verkeerdelik gedink het laag in koolhidrate is

Hierdie kosse is so te sê gelyk aan ’n bord pasta. Deur Sarah Weinberg.

Close