×
Skakel na Engels

8 interessante feite oor prins Harry se beweerde vriendin, Meghan Markle

Ontmoet die Amerikaanse aktrise op wie Harry blykbaar “versot” is …
prins

Het prins Harry sy toekomstige prinses gevind?

Dié koninklike het na bewering ’n verhouding met Meghan Markle, ’n 35-jarige Amerikaanse aktrise wat bekend is vir haar rol as Rachel Zane in die TV-reeks Suits.

Die paartjie het mekaar glo in Mei ontmoet toe Harry (32) in Kanada was om die Invictus-spele te promoveer, en volgens een bron is die prins reeds “versot”.

“Hy is in ’n baie ontspanne tyd in sy lewe en Meghan het op die regte tyd [in sy lewe] gekom,” het die bron aan The Sunday Express gesê. “Hulle neem elke week soos dit kom en geniet net mekaar se geselskap, maar dis billik om te sê hulle is dol daaroor om mekaar te sien en daar is ’n besliste ‘chemistry’ tussen hulle.”

Hoewel daar geen bevestiging van die verhouding van die Kensington-paleis is nie, het foto’s in die sosiale media gerugte van ’n romanse begin.

 

London with the newlyweds @lindsayjillroth @gavinajordan ✨ #London #UK #travel #vacation

A photo posted by Meghan Markle (@meghanmarkle) on

Meghan is in Junie by Wimbledon gesien en het onlangs foto’s van ’n ander besoek aan Londen op Instagram gedeel.

Een foto van haar verblyf in die Soho Farmhouse in Oxfordshire het mense veral aan die praat. Die aktrise dra ’n kleurryke krale-armband wat baie dieselfde lyk as een wat Harry gedra het …

 

#TBT to my solo trip to @sfhmembers #treatyourself #UK #sohohouse #farmhouse

A photo posted by Meghan Markle (@meghanmarkle) on

Hier is nog ’n paar dinge oor Harry se beweerde nuwe liefde.

1. Die aktrise, wat in Los Angeles gebore is, het haar hele lewe rondom televisie deurgebring.

In ’n onderhoud met Esquire het sy gepraat oor hoe dit was om groot te word op die stel van Married… with Children, ’n sitkom waarin haar pa as die beligtingsdirekteur gewerk het. In 2002 het sy haar eie TV-loopbaan in ’n Amerikaanse drama genaamd General Hospital begin. Daarna het sy in flieks soos Horrible Bosses en Remember Me verskyn voordat sy die rol in Suits gekry het.

2. Wanneer sy nie in Toronto verfilm nie, bedryf Meghan ’n leefstylblog genaamd The Tig.

Sy deel sedert 2014 skoonheids- en modewenke, resepte, leeslyste, reisgidse en onderhoude met invloedrykes soos Serena Williams, Jessica Stam en Kayla Itsines. “Ek wou ’n ruimte skep om al hierdie liefdes te deel, om vriende te nooi om hulle s’n ook te deel, en om die teelaarde vir idees en opwinding vir ’n geïnspireerde leefstyl te wees,” verduidelik sy op die webwerf.

3. Meghan was al getroud.

Volgens The Telegraph is sy en die rolprentvervaardiger Trevor Engelson twee jaar ná hul troue in 2011 in Jamaica uitmekaar.

4. Sy deel Harry se passie vir humanitêre werk.

Meghan het al oor die wêreld heen gereis vir haar rol as internasionale ambassadeur vir World Vision Canada, ’n liefdadigheidsorganisasie wat werk om armoede en ongeregtigheid te oorkom. Soos Emma Watson is Meghan ook ’n kampvegter vir die VN se eenheid vir gendergelykheid en die bemagtiging van vroue. “Meer as die helfte van die wêreld se bevolking en potensiaal is vroue,. Dit is dus nie regverdig óf prakties dat hul stemme, ons stemme, nie op die hoogste vlakke van besluitneming gehoor word nie,” het sy in ’n toespraak op Internasionale Vrouedag in 2015 gesê.

5. Sy is ’n smulpaap.

Hoewel haar dieet gedissiplineerd is terwyl sy verfilm, geniet Meghan dit om aan haar gunstelingkosse te smul wanneer sy nie aan diens is nie. “Aartappelskyfies en wyn is my ondeugde,” het sy vroeër vanjaar aan Delish gesê. “Ek hoop altyd ek sal saam met mense middagete eet sodat ons skyfies kan deel. Dis vir my ’n hele afsonderlike voedselgroep.”

 

#TBT to Capri with @jessicamulroney ? @thetigofficial #pasta #italy #takemeback

A photo posted by Meghan Markle (@meghanmarkle) on

6. Wanneer sy nie werk nie, hou Meghan daarvan om soos ’n Franse moderedakteur aan te trek.

“Ek sal waarskynlik jeans, ’n mooi bloes en ’n baadjie dra,” het sy onlangs aan Glamour gesê. “Basies wat Emmanuelle Alt sou dra! Sy is my stylikoon! Sy en Geraldine Saglio.”

7. Sy het ’n verrassende verborge talent.

“Ek was ’n kalligraaf vir troues en geleenthede – dit was my byverdienste terwyl ek oudisies gedoen het,” het sy in ’n onderhoud met [die Britse] Good Housekeeping onthul.

8. Dit is nie die eerste keer dat Meghan met ’n beroemde gesig verbind word nie.

In 2014 was daar gerugte dat sy ’n verhouding met die gholfspeler Rory McIlroy gehad het nadat hy haar genomineer het om die Ice Bucket Challenge vir liefdadigheid te doen.

Via: Good Housekeeping UK

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Prinses Diana se trourok is terug in die nuus

Die ikoniese rok word aan haar seuns gegee DEUR SHANELLE REIN-OLOWOKERE

Close